Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Teater | Theatre > Rubrieke | Columns > Albert Maritz: Baba met die badwater...

Toerien en Opperman


Albert Maritz - 2008-12-04

Hoe gemaak om jou ontevredenheid uit te spreek in ʼn rubriek? Ek skryf nou die twaalfde keer oor, want ʼn vriendin sê vir my ek is ʼn "wet".

Well, all the world's a stage! So mag ons nie asseblief maar oor onderwerpe wat ons hinder, ʼn storm los skryf nie? Dat die "fool" homself herken in die "mirror of nature" en sy weë aanpas nie?

Maar ...

Langenhoven het iets gesê soos: Pasop om met jou agterkant na mense aan te kom! Hulle mag dink jy lyk alom so!

Hoe gemaak?

Oor die verbreekte beloftes. Dat die minister van kultuur enige kwessie maar weglag ... Dat ʼn paar vrot appels uit die ou bedeling in die nuwe, afgeskeurde ANC-party opeindig - sê ons niks? Dat Kader Asmal 11 000 onderwysers pakkette gegee het. Dat Patrick Promises Mckenzie weer in die Kaapse parlement is.

Dalk moet mens dit nie sê nie, maar ordentlik vra: Leonard Ramatlakane, noudat jy bedank het uit die ANC, en die nuwe beweging lei in die Wes-Kaap, onthou jy die HOOC-projek - drie stukke in drie tale wat 600 000 mense bereik het? Oor kindermishandeling? Daar is by elke skool ʼn posbus opgesit waarin kinders kon briefies los as hulle mishandel is. Daar is tientalle kindermishandelaars in hegtenis geneem hierdeur, en opleiding en opvoeding aan kinders en ouers gegee. Hoekom het jy dit laat sneuwel? Dis net as mens by ACVV's en sulke mense sit - mense wat hulle hande vuilmaak om kinders met regte-egte probleme te help - die mees basiese, vanselfsprekende goed - dat mens die realiteit smaak van HOOC se heengaan; die LOTTO se nonprestasie as dit by welsyn, en die meeste ander dinge, kom. Dit gee mos die kriminele Kaart Blanche. (By the way, hoekom het ANC-lede almal lidmaatskapkaarte? Het jy ʼn DA-kaart? Of ʼn OD-kaart? Moet nou niks opskeur nie.)

Laat net die ANC skeur, en sonder geweld (nie soos op ʼn PW politieke vergadering nie). Gelukkig het Bafana Bafana nou al so baie verloor dat dit ons demokrasie goed doen. Ons leer om ʼn verloor te kan vat.

Maar terwyl ons nou vrae vra ...

Oom Pieter Toerien, hoe het jy dit reggekry dat die stof so vinnig gaan lê het ná jou SMS'e om mense te beïnvloed oor vir wie om te stem vir High School Musical?

Mense vergewe gou. Dis seker weens die trane wat jy gehuil het oor hoe baie jy via Lion King vir ons nasie beteken. Ek was vasgenael voor die televisiestel! Dis met ongelooflike vernuf dat jy die multimiljoenrand-musical-suksesse hier kom vestig het.

Toe ek ʼn jong akteur by TRUK was, het die akteursvakbonde in die ou Transvaal altyd akteurs gewaarsku: as hulle vir jou speel, is dit op eie risiko. Dis so verkeerd! En toe Mike van Graan exposés in die media geplaas gekry het oor hoe Kunstekaap se geld aangewend is om iets soos CATS op die planke te bring - dit moes jou kwaai gekwets het! Soos ʼn held van my, Adriaan Nieuwoudt, kubuskoning.

Ek sal dit graag alles vir jou self wou sê, maar ek kry jou nie in die hande nie. Nadat die Nasionale Kunsteraad in die vroeë 2000's aan ons ʼn antwoord moes gee oor ons aansoek om befondsing vir opvoedkundige teater - soos HOOC, waarmee mens hele gemeenskappe bereik met teater, en hul voorberei teen mishandeling en misbruik - het hulle die aansoek eers afgekeur.

Ek het geappelleer en toe die boodskap gekry: Bel Pieter Toerien. Pieter Toerien was op die Nasionale Kunsteraad se bestuur. Hulle het gesê hy het die laaste woord. En ons was nogal opgewonde. Want dalk was die appèl suksesvol. Maar Pieter, wil jy nie net weer die selfoonnommer en landlynnommer vir ons laat kry nie? Oproepe na die nommers wat die NAC my gegee het vir jou, is net deur antwoordmasjiene beantwoord. Dit was joune, maar dalk het dit jou ontgaan. Dit sal nou ʼn meevallertjie wees as die geld nog daar lê en wag vir ons - om aangewend te word vir die goeie doel.

Ag, en dis so ver in die verlede. Vergewe as ek nie weer bel nie. Dan is dit mosterd na die maal, soos die hoeveelste brief oor Luke Watson - vandag weer een waar die ou nou eers régtig kwaad geword het ... wákker geword het. Los hom nou uit! En los oom Pieter uit.