Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Geestelik | Spiritual > Artikels | Features

Nuwe geestelike boeke vir kleuters


JB Roux - 2008-11-27

Daar het so pas ’n gerfie pragtige kinderboeke met ’n geestelike inslag verskyn – kleurvolle publikasies deur uitgewers wat besef dat dit pret moet wees om woelwaters van Jesus en die verlossingsboodskap te leer.

Jesus se wonderwerke in legkaarte en My klein Bybeltjie in legkaarte is ’n wonderlike konsep, waarin leesboekies en legkaarte gekombineer word. Elke kartonboekie (geskik vir kinders van drie tot ses jaar) bestaan uit vyf minilegkaarte van ses stukkies wat elk ’n Bybelverhaaltjie uitbeeld. In die eerste boekie word daar gekyk na "Die genesing van die verlamde man", "Die vermeerdering van die brood", "Die keer toe Jesus op die water geloop het", "Die keer toe Jesus die storm stilgemaak het" en "Die groot visvangs". In My klein Bybeltjie in legkaarte kom "Die skeppingsverhaal", die Israeliete wat uit Egipte uitgelei word, "Die Engel wat aan Maria verskyn", "Die geboorte van Jesus" en "Jesus en sy dissipels se laaste ete" aan die beurt. Albei boekies word uitgegee deur CUM en kos R89,95 elk.

Nog ’n vindingryke konsep – ook deur CUM – is die Bel vir Jesus­-reeks: boekies wat soos selfone lyk en selfs kan lui. Dié kartonboekies beslaan elk 12 bladsye en kos R29.95 elk.

Nóg ’n reeks deur CUM is vier boekies met die titels Volg vir Jesus, Volg die Ster, Volg vir Moses en Volg vir Noag. Dié boeke het groot, kleurvolle uitvou-plakkate. Kinders word aktief by die “stories” betrek deurdat plakkers voorsien word wat op die plakkate geplak kan word. Die reeks is gerig op lesers van vyf tot agt jaar. Elke boek beslaan agt bladsye en hulle kos net R29,95 elk – veel goedkoper as supermarkspeelgoed van plastiek wat kwalik opvoedkundig is en gou vergete raak. (Al drie hierdie reekse is ook in Engels beskikbaar.)

Hallo! Ek is Noag; Hallo! Ek is Maria; Hallo! Ek is Petrus; Hallo! Ek is Moses (CUM-uitgewers) is nog ’n wonderlike manier om kinders (van drie tot ses jaar) van bekende Bybelfigure te leer. Elke boekie is mensvormig, gedruk op stewige karton, en kos weer eens slegs R29,95.

Ook deur CUM is daar My Pajamabybel­ – 30 Bybelstories vir slaaptyd. Dié boek is geskik vir jong peuters en is ook op stewige karton gedruk. Dertig direkte aanhalings uit die Bybel is omgewerk tot “stories” met kleurvolle illustrasies deur Tim O’ Conner.

Die Aktiwiteitsbybel, uitgegee deur Lux Verbi.BM, is gerig op kinders ouer as sewe. ’n Aantal korterige Bybelverhale en gebede word gekombineer met ’n verskeidenheid speletjies en raaisels wat kleuters groot plesier sal verskaf. Dié boek word in slapband uitgegee (192 pp).

Lux Verbi.BM is ook die uitgewer van Jan de Wet se Lofkleuter: Bybelstories en liedjies (hardeband, 112 pp, en CD teen R84,95). Aan die einde van elke Bybelverhaal is daar ’n eenvoudige gebed en ’n lewenswaarheid wat met kleuters bespreek kan word. Wat dié boek veral besonders maak, is dat elke storie aangevul word deur ’n bypassende liedjie op die meegaande CD. Jan de Wet se Lofkleuter is ook in Engels beskikbaar.

Laastens kom Vertel my van die hemel deur Randy Alcorn, geïllustreer deur Ron di Cianne, aan die beurt. In hierdie pragtige boek, hardeband en in groot formaat, wil Jaco by sy oupa weet: “Hoe lyk dit waar Ouma is?” Hy word algaande ingelei in ’n wonderlike storie waarin baie van die vrae wat kinders oor die hemel vra, beantwoord word. Die illustrasies is werklik besonders en maak saam met die bladuitleg van dié boek ’n kunswerk. Vertel my van die hemel is geskik vir lesertjies van agt tot twaalf jaar.

 

  • Jaybee Roux is ’n skrywer, resensent en boekliefhebber