Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Reis | Travel > Artikels | Features

'n Pampoen by Malips


Johann de Jager - 2008-11-27

As hy nog reg onthou, het Loffie "Ligter" by ons weersiens vertel, moes mens destyds die Olifants meer as kniediep in die water by Malipsdrif deur as jy oor die berg van Ofcolaco se kant af kom. Lyk die drif dalk te veel van 'n bedreiging vir 'n bleeksiel, so, dat hy eerder met die grondpad verbyhou in die hoop om 'n brug vorentoe te kry, ry hy al op die wal langs om na 'n halfuur te ontdek die pad word twee spore, en dié loop later teen 'n dagsoom dood wat as 'n rif deur die rivier kom van Sekhukhune se kant af om alle verdere vooruitgang van wiele te versper. "Presies vir wie is die paaie bedoel, het ek gedink toe ek daar was - bosboupioniers, prospekteerders, sendelinge?"

Loffie se storie dra ook die element van sterkmansintrige wat in die boendoes tuishoort. Ek weet ek kan sy storie glo, want sy bynaam, Ligter, het hy juis gekry omdat hy doer in 1979 se koers 'n Opel Kadet by 'n botsing opgelig het sodat 'n kollega van hom 'n klip onder die as kon inskuif om 'n beseerde man onder die kar se lewe so te red. Kyk, Loffie was sterk. Daar was nog meer verhale van sy fisieke vermoëns, maar Loffie het net altyd gesê die manne dik aan in die kroeë as hy nie by is om die waarheid te verdedig nie. Loffie het drank gehaat.

En toe loop ons mekaar na byna dertig jaar weer raak in Pretoria en praat land en sand oor die ou dae in die noordoostelike laeveld toe ons nuwe kollegas was in die tuisland-ontwikkelingskorporasies.

"Ja, een oggend trek ek toe mos kort voor sonop uit Giyani weg," begin Loffie die storie van sy epiese tog met die ou pad Ofcolaco en The Downs oor soos op 'n ou kaart aangedui. "Engelse name daardie," las hy in. "Na die eerste wêreldoorlog het 'n klomp afgetrede Engelse offisiere daar grond gekry as aftreebeloning, en die naam Ofcolaco gekies vir hul nedersetting. Dit is geneem uit die woorde Officers Colonial Land Company, so iets. The Downs spreek vanself." Ek het Loffie se algemene kennis ook bewonder. As die "manne" in die kroeë gesit en hom belieg het, was Loffie besig om te lees - geskiedenis, heraldiek, sulke dinge. "Weet jy dat Giyani beteken 'oorwinningsdans'," het hy eenkeer gevra.

Maar sy tog oor die Drakensberg die dag ter sprake was geen maklike oorwinningsdans nie.

"Dit was vroegoggend na mooi reën. Mooi man, mooier as mooi," het hy met 'n veraf kyk in sy oë die herinnering opgeroep. "En ek onthou dat die Voortrekkers 'n eeu of wat tevore daar iewers oor is. Die wa-spore is glo nog sigbaar in die sandklip ingegrif naby Trichardtsdal, 'n plek juis vernoem na die Trekkerleier. Ek moes eers twee-uur die middag in Pretoria wees, maar het so vroeg vertrek omdat ek juis elke keer 'n ander roete as die gebaande wou ry, met my kamera aan my sy, dié dag The Downs oor soos die kaart aandui, om agter die berg by die Burgersfort-Pietersburgpad weer by die beskawing aan te sluit. Daar was dus agt ure voor om te voorsien vir my passie en moontlike pap wiele of so iets. Ek het die pad Eiland toe gevat by bosgehuggies verby met mooi name soos Sikhunyane, Ngove en Bambeni, om Gravelotte oor Ofcolaco toe te koers; die padkaart langs my op die Datsun-bakkie se sitplek oop. Toe ek by Bend Stores oor die Klein Letaba ry, was dit presies halfses.

"Naby Dzumeri moes ek by die rooilyn se kontrolepunt stop, so halfpad tussen die Klein en Groot Letabariviere. Daar het 'n klompie dounat rooibokooitjies nuuskierig opgekyk en spelerig weggebokspring. Ek dink dit was ou Willem Ribombo wat die bek-en-klou-kontrolehek beman het. Hy het die oggend lui-lui uit sy paal en grasdakhuis onder 'n mamoet van 'n maroelaboom gekom, knipbord in die hand, en vriendelik gegroet. Die heerlike wierook van rooibos of hardekool het by die Datsun se venster ingekom toe ek oopdraai en praat. Bietjie verder, by die sanddriffie in die droë Molototsi, het twee koedoes eers bietjie kopgespeel voor hulle laat spat het. Ribombo het vertel die diere kom soek sy pap-aanbrandsel - of skhoko - op die ashoop. Wat 'n idilliese samelewing.

"En toe kom ek by Ofcolaco op die rand van die groot koorsvlakte aan, waar dit teen die drakensrûe doodloop. "The Downs", het 'n verweerde padteken rigting aangedui. Die Datsun-bakkie het vinnig neus begin lig soos die pad pás word. Mooi man. Ek moet jou die foto's wys. 'n Trop bobbejane het my agterdogtig beloer toe ek vir hulle toet.

"En ek kyk rond, ry stadig, druk die Pentax se sluitertjie aanmekaar, fokus, zoem in. Die paadjie word al slegter. Hier ry gewis nie baie karre nie. Langs die pad staan 'n ou ovaal BP-petrol-advertensiebord, skeef en erg verweer; die groen en geel verf kwaai afgeskilfer. Maar die geboutjie, wat eens duidelik 'n vulstasie was, is nou die bobbejane se parlement. Ek kyk rond, links, regs, op - daar is mis op die kruine. Dis afdraand en die bakkie loop self, ek trap net so effens rem.

"Skielik is daar 'n blits van 'n lig agter in my oë, stof oral in die kajuit en 'n dowwe slag as die Datsun bots en sy masjien doodruk.

"Toe ek weer helderheid terugkry, sien ek dat 'n stuk van die pad in 'n donderstorm moes weggespoel het. Ek het in 'n donga beland, en daar was duidelik geen hulp te verwagte nie. Hoe kan so 'n pad nog op 'n amptelike kaart wees, dink ek, en seil by die venster uit om plan te begin maak. Dit was kort voor sewe, nog so iets meer as ses ure om Pretoria te haal, maar hier sal uitkoms broekskeur gaan. Agtertoe kan ek nie - weens die afdraand skuinste is die wal daar hoër as die Datsun se bak. Voor is die wal egter laer, so bufferhoogte. Ek gryp die plat yster wat vir bande omruil bedoel is, en begin grawe. Net gou is ek egter op 'n soliede klip bank. Daar bly dus net een ding oor, en dit is tydrowend. As ons toe maar selfone gehad het!

"Ek dra toe maar 'n paar lekker fris plat klippe nader, gaan lê op my rug in die sloot onder die Datsun, lig hom met my bene van die grond af en skuif so een vir een die klippe onder die as in. Toe ek na ure die aarde soos 'n altaar onder die Datsuntjie opgebou het tot gelyk met die bokant van die wal, was dit twee-uur! Soek hulle dalk al na my, wonder ek, bel hulle die polisie en hospitale?

"Ek móés vorentoe, omdraai was onmoontlik, en ek bid net dat daar nie nog sulke verspoelings moet wees nie. Maar al raak die pad hoe verder al hoe meer toegegroei, kom ek darem ongeskonde by Malipsdrif aan. Maar kan 'n Datsuntjie hier deur? wonder ek. Oorkant die rivier sit opdrifsels aan die pragtigste kol wildevye vas wat soos wagters op die rivierwal staan. Blou-apies sketter waarskuwingskrete in die hoë kruine, 'n kwêvoël sing vir hulle deskant.

"Ek besluit om ooswaarts, padlangs op die noorderwal aan te hou. Dalk is daar tog 'n oorbrug vorentoe. Ek is in elk geval nou te laat vir my afspraak in die stad. Ek ry aan. Oral kom sulke rotsriwwe voor wat uit die bergvoet tot in en deur die rivier afloop. Die Datsun moet maar dink hy is 'n viertrekwa vandag, smaal ek. Die natuurskoon is pragtig, ongerep. Teen die rotsriwwe groei varingsoorte en Globuligemma-aalwyne waarvan die laaste bolletjiesbloeiwyses nou verbruin na die winterdrag.

"En skielik is die rif der riwwe reg voor my. Duidelik eindig die tweespoorpaadjie net daar. Ek wonder waar die Pengemyn is. Ek ry al lank in daardie rigting en het gehoop daar sal 'n oorweg wees by so 'n groot onderneming. Maar nee, ikabod - ek moet omdraai. Tog - ek kan nie, daar is nie spasie nie, en ek ry maar terug in trurat op my spore.

"Toe sien ek dit: twee baie dowwe spore wat uit die doodlooppaadjie swenk na 'n strooihuisie half versteek agter hoë riete en tamboekie op 'n wal. Aaa, hier kan ek draai, dink ek en stoot die Datsun se stertkant daar in.

"Ek loer regs in die truspieëltjie. 'Môlo,' hoor ek egter skielik links by die venster. Ek stop. Maar woon hier dan nie net bobbejane nie, dink ek toe 'n mens voor my staan, 'n jong Afrikaan wat met een hand in die lug vriendelik groet. Hy het een van hierdie plastiek-pilhouertjies met 'n blou proppie in sy ander hand. Hy glimlag breed toe ek ook praat en vra hoe mens dan oor hierdie rivier kan kom. 'Nô, bêk bêk, by Maliep,' beduie hy met een vinger so wes-noordwes, daar waar ek vandaan kom.

"Ek vra bietjie water, my teebottel is lankal dolleeg. Hy wuif my opgewonde teen die wal uit na die huisie se kant toe. Hy begin van ver af al bevele skree in sy taal toe ons aankom. 'n Ou vrou staan op en verdwyn uit die lapa waar sy gesit en snuif maal het in 'n hol klip. 'n Jong vrou kom agteruit aangeskuifel met 'n stoel in die hande wat sy neersit, en verdwyn ook. Die jong man beduie laggend ek moet gaan sit. Hy self neem plaas op die lae muurtjie van die lapa. Die jong vrou kom weer tru aan, sit 'n kleipot koel water by die man se voete neer, klap haar hande en verdwyn.

"Ek ken die gebruike van die Afrikane bietjie en vra dus nie uit oor hulle vroue se gedrag voor wit mans nie. Ek vra die man egter uit oor homself. Nee, dis sy huis dié, maar net sy ma en sy vrou bly hier. Hy self werk op die myn in eGoli. Hy is met jaarlikse verlof hier. Kontrakarbeiders soos hy word makrappa genoem.

"Ons gesels later soos ou vriende. Hy skree weer iets en die jong vrou bring 'n gevlegte grasbak met turksvye. Heerlik - sulke groot vettes, borriegeel binne.

"Maar wat doen hy daar in die lang gras met die pilhouertjie in sy hand? wil ek weet. O ... nee, hy vang bosluisies: die minuskule klein saadbosluisies wat teen grasstingels opklim as mens of dier naby hulle beweeg. En dan, wat doen hy dan met die bosluisies? Nee, hy vat dit saam as hy weer teruggaan eGoli toe, en dan gooi hy so een maal per week saans 'n paar luisies op sy bors uit as hy gaan slaap, om hom te byt. 'Gits, waarvoor?' vra ek verbaas. Nee, as die makrappa dit nie doen nie, en hulle kom na 'n jaar weer terug by die huis in die tuisland, dan word hulle baie siek. Die bosluisies hou hulle gesond, maar daar is nie sulkes in eGoli nie. Hulle moet dit maar hier vang en saamneem.

"Kan jy nou glo," lag Loffie in bewondering; dis hoe hulle hulself immuniseer. En bly hulle daarsonder vir 'n jaar op die hoëveld, verloor hulle die immuniteit en word siek, soos hy sê, as hulle weer in die bos kom en hier eers gebyt word.

"Dit was nou 'n kostelike ondervinding, dié dag.

"Toe ek ry, loop die jong man al langs my bakkie en vertel hoe bly is hy ek het kom kuier. Skielik stop hy my met sy opgehefde hand, skop 'n hoop droë gras oop wat langs die pad lê, en bring vir my een langnek maranka van die handjievol wat daar onder die gras teen bobbejaanoë beskut word. Hy lag die spierwitste lag terwyl hy die maranka na my toe uithou. 'Thank you for coming,' sê hy. 'Here's a pampoon for you.'

"Kostelik, maar pampoon is darem so half Afrikaans. Dalk het hy al 'n paar Boertaalwoorde in eGoli geleer, maar pampoon is een van my kosbaarste herinneringe aan 'n dag vol drama," sug Loffie. Dan buig hy skielik nader. "Jy skilder mos, Koos," sê hy. Skilder nou vir my 'n langnek knoppiesrige geelgroen maranka in twee swart hande, asseblief man. Ek sal vir jou 'n botteltjie gesuiwerde water by die supermark koop, en sommer 'n bakkie klaarskoongemaakte turksvye ook."