Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Rubrieke | Columns > Theunis Engelbrecht: Sound Bites

Be-Bob-a-Lu-La!


Theunis Engelbrecht - 2008-11-26

Klik op die albums en DVD's se omslae om dit nou van kalahari.net te bestel!

ALBUM VAN DIE JAAR

Bob Dylan
Tell Tale Signs
Rare and Unreleased: 1989-2006
The Bootleg Series Vol 8

Ná ‘n loopbaan van 46 jaar kom die 67-jarige Bob Dylan vorendag met ‘n album wat stof skop in die oë van vandag se kunstenaars. Op The Bootleg Series word liedjies versamel wat hy nog nie voorheen uitgereik is nie – soos onder meer reeds bestaande liedjies waarop hy met alternatiewe verwerkings en klanke eksperimenteer, konsertopnames, liedjies wat hy vir flieks geskryf het, en liedjies wat vroeër vir spesifieke albums opgeneem is maar wat toe nie daarop ingesluit is nie (en nie omdat die liedjies nie goed genoeg was nie!). Dis belangrik om kennis te neem dat die hele Bootleg-projek nie beteken dis ‘n blote sameraping van leftovers, throw-aways en minderwaardige opnames nie – intééndeel!

Wat frustrerend vir Dylan-liefhebbers kan wees, is dat Tell Tale Signs in vier uitgawes uitgereik word: ‘n enkel-CD, ‘n dubbel-CD (Deluxe Edition), ‘n Expanded Deluxe Edition met drie CD’s en ‘n stel met vier viniel-langspelers. Die beste een is uiteraard die Expanded Deluxe Edition, wat in groot boksformaat verpak is saam met ‘n boek wat 170 bladsye met foto’s van die omslae van Dylan se singles) en teen sowat R1 500 beskikbaar is op kalahari.net. Al kry jy net die uitgawe met die enkel-CD is dit beslis steeds die moeite werd – al probleem is net dat dit só ‘n meesleurende luisterervaring is dat dit jou lus maak vir nóg. Die mees ekonomiese uitweg vir ekonomies-agtergeblewenes soos ons blyk dus die gewone Deluxe Edition met twee CD’s te wees (wat in megamusiekwinkels beskikbaar is), terwyl die superrykgatte en musiekmagnate en professore en korporatiewe kokkedore en popsterre wat so baie geld vir konserte kry, lag-lag die trippel-CD-stel-met-boek kan aanskaf.

Die tydperk van 1989 tot 2006 was een van die merkwaardigste in Dylan se loopbaan, aangesien dié tyd ‘n enorme kreatiewe herlewing verteenwoordig. In 1989, voordat hy Oh Mercy opgeneem het, was hy (volgens sy outobiografie, Chronicles Vol 1) gereed om die musiekbedryf vaarwel toe te roep. Maar ná die uitstekende Oh Mercy het nóg fenomenale albums verskyn: Time out of Mind (wat met drie Grammys bekroon is, onder meer vir album van die jaar), Love and Theft en Modern Times. Boeiende alternatiewe weergawes van liedjies op dié album kan op Tell Tale Signs gehoor word – en dis verstommend hoe hulle van mekaar verskil! ’n Goeie voorbeeld is die konsertweergawe van “Cold Irons Bound” op die derde CD van Tell Tale Signs teenoor die weergawe daarvan op Time Out Of Mind. Op die Expanded Deluxe Edition is daar selfs drie weergawes van daardie wonderlike liedjie “Mississippi” (van Love and Theft), en al drie is uit eie reg meesleurend. Die verskille is subtiel: ‘n meer gestroopte, akoestiese aanslag; op ‘n ander een is die soniese tekstuur meer trippy, en op ‘n ander een sing Dylan met ‘n sagter aanslag. Nog ‘n goeie voorbeeld is as jy “Someday Baby” op die eerste CD van Tell Tale Signs vergelyk met die weergawe op Modern Times.

Tell Tale Signs wemel van hoogtepunte en dis onmoontlik om in die kort bestek van ‘n beperkte ruimte uitgebreid en volledig daaroor uit te brei. (Trouens, dis glad nie vergesog dat ‘n mens selfs ‘n hele tesis hieroor sal kan skryf nie!) Daar is geen twyfel nie dat Dylan ‘n volbloed-digter in die ware sin van die woord is. (Hy is nie om dowe neute vanjaar met ‘n Pulitzer-prys bekroon nie.) Dit is dus nie net die musiek nie, maar ook Dylan se fyn, vindingryke en slim slag met die woord wat sy werk so besonders maak. Boonop kan ‘n mens oor en oor en oor na Tell Tale Signs luister sonder om moeg te raak daarvoor – en van hoeveel ander albums kan ‘n mens dit sê?

Bob Dylan bewys opnuut dat hy een van die heel grootste geeste in die musiekwêrld is. As hy jou koppie tee is (en jy mis baie indien hy dit nie is nie), kan jy gerus die moeite doen om Howard Sounes se biografie oor hom, Down the Highway, te lees. En luister fyn na die lirieke – of, nog beter, kry vir jou Dylan se boek Lyrics 1962–2001. Dit sal jou ‘n avontuur soos min laat beleef – iets wat jou altyd as ‘n hoogtepunt sal bybly.

 

NUWELING VAN DIE JAAR

Beth Rowley
Little Dreamer

 

Dit verg in deesdae se oorlaaide pop- en rockwêreld baie van ‘n kunstenaar om ‘n indruk te maak. Soms gebeur dit dat iemand skielik uit die niet te voorskyn kom wat ‘n mens laat besef hoe gek obsessies met Amy Winehouse en Madonna en Britney Spears is. Iemand wat om die regte redes musiek maak, en dit nie gebruik as ‘n middel tot ‘n doel (roem, rykdom, egomassering) nie. (Ongelukkig val 90 persent van musiekmakers deesdae in laasgenoemde kategorie.)

Dankie dus vir Beth Rowley (26), wat in Peru gebore is en in Bristol grootgeword het. Sy is by ‘n oopmikrofoon-aand in ‘n klub ontdek en het aan die Institute for Modern Music aan Brighton gestudeer.

Hier by Sound Bites neem ons baie selde persverklarings deur platemaatskappye oor hul kunstenaars ernstig op, want dit is gewoonlik (onvermydelik) maar altyd ‘n blinklekkery en opblasery en opskrywery om die produk te bewierook sodat die kasregisters kan klingel. Maar as Rowley se platemaatskappy skryf dat haar musiek “smeul met ‘n verleidelike sjarme” slaan hulle die spyker op die kop, al klink dit soos ‘n frase uit ‘n hygroman. En met nog iets wat daar staan kan ‘n mens onvoorwaardelik akkoord gaan: “It smoulders with a seductive charm that blends blues and soul with the spirit of a New York gospel choir. Captivating and unique, her warm, understated sound marks the arrival of an exciting British artist.”

Op Little Dreamer sing Rowley liedjies wat sy saam met van haar musikante geskryf het, asook tradisionele materiaal (“Nobody’s fault but mine” en “Beautiful tomorrow”), en puik weergawes van Bob Dylan se “I shall be released” en Willie Nelson se “Angel flying too close to the ground”.

Noem hierdie musiek maar Cowboy Junkies met bôls. Little Dreamer is een van die lekkerste ontdekkings van die jaar. En kom ons hoor wat sê Rowley self in haar platemaatskappy se persverklaring: "I'm influenced by a lot of bluegrass, gospel, soul & country, so my music has moments of them all. It's all of them and something else, something personal. For me this album's from the heart. I love that old-school sound of PP Arnold and the Ronettes, so there had to be some kind of throwback to that, but we also worked hard on getting the balance right. It's a real leveller between the past and the present – and somewhere in between my sound emerged."


DVD’s, DVD’s, DVD’s

Daar is meer musiek-DVD’s op die mark as waarvoor daar plek is om hier oor te skryf. Gelukkig het Sound Bites se ywerige kykpaneel (Fritz Brits, Naas Maas, Tom Blom, Beyers Eybers, Yvette de Wet en Alice Ellis) ingespring onder dié wat op Sound Bites se oorlaaide lessenaar beland het. Hulle het heel geesdriftige terugvoer gelewer.

 

David Gilmour
Live In Gdansk

 


Beyers Eybers is skoon uitasem soos hy rave oor hierdie indrukwekkende stel CD’s en DVD’s. David Gilmour het bekendheid verwerf as lid en medeliedjieskrywer van Pink Floyd, en met sy sololoopbaan sit hy sy reputasie as ‘n meester voort. Dié dubbelalbum bevat ‘n konsert wat hy in Gdansk, Pole, gehou het (op twee CD’s). Die album bevat ook twee DVD’s met die konsert, asook bonusmateriaal soos optredes in die Mermaid-teater in Londen en Abbey Road, en ‘n heerlike jam-sessie wat opgeneem is in ‘n skuur op die landgoed waar Gilmour woon. Daar is ook ‘n dokumentêr oor sy besoek aan Pole en ‘n 5.1 Surround-oudiomix van die volledige On an Island-album.

Benewens solomateriaal bevat die konsert ook Pink Floyd-classics soos “Speak to me”, “Breathe”, “Time”, “High hopes”, die briljante en tydlose “Shine on you crazy diamond”, “Wish you were here” en “Comfortably numb”. Die ander materiaal kom hoofsaaklik van sy solo-album On an Island.

Gilmour verstom nie net met fantastiese kitaarspel nie, maar ook met verskriklik sterk liedjies in sy kenmerkende stem. Nodeloos om te sê: Live in Gdansk is waarde vir geld.

Dié album volg op die hakke van verlede jaar se eweneens uitstekende DVD: Remember That Night: Live at The Royal Albert Hall. Ons paneel is dit eens dat laasgenoemde konsert meer skouspelagtig was; en dit bevat ook gasverskynings deur David Crosby, Graham Nash, David Bowie en Robert Wyatt. Die Royal Albert-opname bevat egter nie die CD’s van die konsert nie, maar net die DVD, waarteenoor die Gdansk-opname jou ook die CD’s bied. Al verkies ons die Royal Albert Hall-een bo die Gdansk-een, beteken dit nie laasgenoemde is van mindere allooi nie.

 

AC/DC
No Bull: The Directors Cut





Hierdie was voorheen op video en DVD beskikbaar, maar nou is die sogenaamde Directors Cut uitgereik wat AC/DC-liefhebbers tot in hul stuitjies sal laat sidder van ekstase. Die konsert is in 1996 in die stiergevegstadion Plazz De Toros De Las Ventas in Madrid, Spanje, opgeneem as deel van AC/DC se destydse Ballbreaker-toer. Dit bevat al hul treffers tot in 1996, soos “Back in black”, “Shot down in flames”, “Thunderstruck”, “Shoot to thrill”, “Hail Caesar”, “Dirty deeds done dirt cheap” en “Highway to hell”. Daar is ook bonusmateriaal, naamlik kitaarspeler Angus Young se persoonlike webkamera-opnames op die verhoog van “Shoot to thrill”, “Hail Caesar”, “Rock ‘n Roll ain’t noise pollution” en “You shook me all night long”, waar ‘n mens as’t ware die gebeure deur sy oë ervaar.

‘n Mens kan verstaan waarom hierdie DVD ‘n classic is en Alice, Yvette, Tom, Naas en Beyers sê almal hulle wens 90 persent van die bands op MK wil hierna gaan kyk en ‘n paar wenke optel.


Verskeie kunstenaars
Experience Hendrix

 

 


Oor die status van Hendrix op die Berg Olimpus van musieklegendes is daar nie te redekawel nie. Hierdie DVD is opgeneem by twee huldeblyk-konserte wat in Hendrix se geboortestad, Seattle, en San Diego verfilm is.

‘n Aantal werklik briljante kitaarspelers en uitstekende musikante bring hulde aan Hendrix op ‘n manier wat hom beslis sou behaag het as hy nie so jonk reeds uitgefok het nie. Daar is onder andere Kenny Wayne Shepherd & Double Trouble, Indigenious, ? ek neem aan dit moet wees Indigenous? Living Colour, Eric Gales, Mitch Mitchell, Billy Cox, Apaul Rodgers, Buddy Guy. Van die musiek wat te hoor is (as dit by Hendrix kom, praat ‘n mens nie van “liedjies” nie), is “Come on (Let the good times roll)”, “Voodoo Chile”, “I don’t live today”, “Here my train a-coming”, “Purple haze”, “Bleeding heart”, “Freedom”, “Stone free” en

Living Colour se uitstaande weergawes van “Power of soul” en "Crosstown traffic”.

Dis natuurlik beter om Hendrix self in aksie te sien, maar veral Hendrix-liefhebbers sal hierdie DVD ‘n salige ervaring vind.


Marilyn Manson
Lest We Forget: The Best Of



Marilyn Manson is een van die interessantste kunstenaars in die surrealistiese rock-sirkus. Die paneel het lekker baklei. Yvette en Alice word gewalg deur hom en hulle sê hulle sal glad nie verbaas wees as al die skinderstories oor Manson waar is nie – dat hy vlermuise eet vir ontbyt, bloed soos bier drink, bokke se horings afsaag en snuif dit om sy seksdrang ‘n hupstoot te gee, tieners se breine vergiftig en ‘n Martie Martelgat is wat net kreun (nee, nie sing nie) oor pyn, verdriet, ellende, vervreemding, doodsverlange en hoe vieslik die lewe is. Om als nog erger te maak, sê Yvette, klink daai gekreun soos dié van ‘n hiëna wat in die hol geskiet is.

Beyers en Naas meen Marilyn Manson en Nine Inch Nails maak die beste sogenaamde heavy musiek in enige heavy genre. Manson is ‘n skerp sosiale kommentator wat al die valshede, bedrog en plastiekwaarhede van ons wêreld genadeloos oopvlek (soos op “Rock is Dead” en “Beautiful People”). Daarbenewens doen hy ook meesterlike werk as hy ander mense se liedjies sing, soos Depeche Mode se “Personal Jesus”, Soft Cell se “Tainted Love” en Eurythmics se “Sweet dreams are made of these”. Sy weergawes laat die oorspronklike weergawes na popkak klink, beduie Naas driftig.

Lest We Forget is onmisbaar. Dit bevat ‘n CD met Marilyn Manson se 19 bekendste liedjies, nog ‘n CD met ‘n konsertopname en dan ‘n DVD met nie minder nie as 26 musiekvideo’s. Beyers en Naas meen Yvette en Alice praat stront, Manson lei niemand die verdoemenis in nie – daarvan is sy liedjie “Long hard road out of hell” die bewys. En dat ons almal buitendien in die middel van die hel is waaroor hy sing sonder dat ons daarvan weet. Hy hou ‘n spieël op vir ‘n siek, verrotte wêreld wat haas geen hart en siel meer het nie.


Neil Young & Crazy Horse
Rust Never Sleeps

 

 


Nog ‘n baie spesiale DVD, dié ene. Dit is in Oktober 1978 opgeneem in The Cow Palace in San Francisco. (‘n Mens kan eers nie glo hoe jonk Young nog daar gelyk het nie.) In die konteks van rockkonserte in die 1970’s is dit duidelik dat Young ‘n heel eiesoortige benadering op die verhoog gevolg het in vergelyking met ander kunstenaars. Rust Never Sleeps was ‘n heel spektakulêre produksie (‘n mens wil nie die woord skouspelagtig hier gebruik nie) met akteurs en interessante props en goeters en alles.

Dit begin met ‘n indrukwekkende ouverture waarin Young ‘n skeermeslem-weergawe van die Amerikaanse volkslied speel, gevolg deur John Lennon se “A day in the life”. Dan verskuif die fokus na Young net met sy kitaar en mondfluitjie vir ‘n paar liedjies, en daarna kom Crazy Horse by en die atmosfeer raak, nodeloos om te sê, al hoe meer gelade. En tussendeur is daar allerhande interessante teatrale en spesiale effekte. Al sy ou treffers is daar (“Cinnamon Girl”, “The Needle and the Damage Done”, “After the gold ruch” ? rush? en “Like a hurricane” (maar geen “Heart of Gold” nie). ‘n Moet vir hardebaard-aanhangers van Young.


Bryan Adams
Unplugged



Yvette, Alice en Naas is in die 777ste hemel oor hierdie DVD (wat ook ‘n CD-opname van die konsert insluit). Vir hulle is Adams met sy hees stem en aansteeklike liedjies onweerstaanbaar opvreetbaar. Tom en Beyers is minder geesdriftig – hulle noem hom die ryk man se Bruce Springsteen. En wie wil nou na mnr Adams luister as jy na Springsteen kan luister? Daar is so baie musiek op aarde en so min tyd dat ‘n mens moet prioritiseer, allamagtag. Aanhangers van Adams kan sy standaard-treffers verwag, soos “ Summer of 69”, “Cuts like a knife” en “Heaven”. En wanneer hy die liedjie “I Wanna be your underwear” sing, ruk Yvette, Alice en Naas se geesdrif heeltemal handuit. Dis nogal ‘n ding om sulke rukkings te aanskou …


Avril Lavigne
The Best Damn Tour: Live in Toronto

 

 


Beyers en Tom is versot op hierdie DVD en kan net nie genoeg daarvan kry nie. Yvette en Alice en Naas sê dis net omdat hul hormone die oorhand kry as hulle dié sekskatjie in aksie sien en dan met hulle oë luister eerder as hulle gesonde verstand. (Ja, dit klink soms asof ons paneellede in tale praat, maar wie kan hulle kwalik neem as hulle aan so baie verderflike musiek blootgestel word?)

Die konsert is skouspelagtig en dramaties – ‘n mens kan sien daar is miljoene rande ingepomp. Van die liedjies is catchy en Avril is inderdaad pragtig (net jammer van daai verskriklike pienk make-up op haar ooglede wat haar soos ‘n snytjie troukoek laat lyk, sê Yvette). Maar ai, dit klink of sy oor niks anders kan sing as adolessente erotiese hunkeringe en probleme met boyfriends nie. Asof dit al is waaruit die wêreld bestaan. Alice meen die mark waarop dit gerig is, is twaalfjariges. En dat dit regtig rede tot kommer is as musiekjoernaliste oor sulke dinge skryf.


Bowling for Soup
Live and Very Attractive

 

 


Hel, hoe sal ‘n mens Bowling for Soup kategoriseer en klassifiseer? wil Naas Maas bekommerd weet. Alternative? Nee, nie heeltemal nie, korswil Beyers. Tog beslis nie mainstream nie. Daar is iets off-the-wall, maar nie genoeg om ‘n mens weg te blaas nie. Hulle is op ‘n ander pl ak. ? Lyk na ‘n klomp suipgatte wat net paartie. ‘n Mens kan net nie agterkom of hulle hulself ernstig opneem en nie net die draak steek met alles nie, sê Tom. Alice vind hulle oulik omdat hulle sulke atipiese poprockmusiekmakers is – hulle is nie soos al daai sterretjies wat die heeltyd wil blink en shine in tydskrifte en koerante en op TV nie. Yvette het gaan navorsing doen op die internet oor die knape en sê hulle kom van Texas en speel al 14 jaar lank. Hulle het al heelwat albums met interessante titels uit: Drunk enough to dance, A Hangover you don’t deserve, StarJam en The Great Burrito Extortion Case . Die paneel meen hierdie DVD sal nie by ‘n wye gehoor aanklank vind nie, maar wel by diegene wat hou van iets aweregs en anders as jou gebruiklike kommersiële stadion-rock en popcorn-pop.

Liedjies wat op die DVD gehoor kan word, sluit in “Suckerpunch”, “The Bitch Song”, “I’m Gay”, “Punk Rock 101”, “Girl all the Bad Guys Want” en ‘n pseudopunkerige weergawe van Johnny Cash se “Ring on Fire”. of ? Die bonusmateriaal word aangedui as “Behind the scenes ridiculousness”. Nie iets waarna mens noodwendig herhaaldelik wil kyk nie. Net vir toegewyde aanhangers.

 

Blink-182
Greatest Hits

 

 


Hierdie stel is net so indrukwekkend verpak soos Marilyn Manson s’n: twee CD’s en ‘n DVD met 13 musiekvideo’s. Die eerste CD bevat hul 19 bekendste treffers en die tweede CD die opname van ‘n konsert, The Mark, Tom and Travis Show (The Enema Strikes Back). Van die paneellede voel dat die konsert eerder ook op DVD ingesluit moes wees by hierdie verpakking, want dis tog lekkerder om ‘n konsert te sien as dit net te hoor. Oor die aard en meriete van Blink-182 se werk was daar ook nie eenstemmigheid onder ons paneel nie. Dus blyk dit nie almal se koppie tee te wees nie, en behoort veral reeds gesoute aanhangers en pasbekeerde volgelinge hierdie stel van waarde te vind. Liedjies wat ingesluit is, is onder (vele) meer “Carousel”, “What’s my age again?”, “Voyeur”, “Pathetic”, “Peggy Sue” en “Wendy Clear”. Tieners en studente sal meer aanklank hierby vind as volwassenes, middeljariges, afgeleefdes en bejaardes. Deurleefdes sal ‘n eenmalige kennismaking hiermee interessant vind. Hoe dit ook sy, dis nie naasteby in dieselfde kaliber as die DVD’s van Dave Gilmour nie (as ‘n mens rooiwangappels met ingelegde pere wil vergelyk).


Daughtry
Deluxe Edition

 


Daughtry was ‘n paar jaar gelede een van die naaswenners in ‘n reeks van American Idols (nie een paneellid kan onthou of dit die derde of 47ste reeks was nie). Van al die wêreldwye idole wat dié kompetisie al opgelewer het, is Daughtry waarskynlik een van die stewigstes. (Hy is nou nie juis Anke of Karin Kortjé nie, hoor …) Hierdie Deluxe Edition (hoekom laat dié woorde ‘n mens aan ‘n seepadvertensie dink?) bevat 16 ateljeeopnames op CD, vyf musiekvideo’s, twee live video’s en ‘n onderhoud. Streng gesproke moet dit dus in die afdeling vir CD’s bekyk word, maar ons gooi hom nou maar onder die DVD-afdeling in – daar is anyway te veel nuwe rock-CD’s (kyk uit vir volgende keer se Sound Bites) waarteen Daughtry nie so skerp sal afsteek nie. Hy is ‘n goeie sanger, maar ongelukkig is sy styl dié van een van die verveligste genres wat daar in poprock is: Adult Contemporary Rock. Ondanks al die goeie kwaliteite, twyfel ‘n mens of Daughtry se werk ‘n lang rakleeftyd gaan hê en of ‘n mens hom oor tien jaar nog gaan onthou. Tyd sal leer. Of sal dit? Goeie vraag.