Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Resensies | Reviews

The Counterfeiters: nie net nog 'n Holocaust-film


Suzette Kotzé-Myburgh - 2008-11-25

The Counterfeiters
(Duits met Engelse onderskrifte)
Spelers: Karl Marcovics, August Diehl, Devid Striesow, Sebastian Urzendowsky, August Zirner, Martin Brambach
Regie en draaiboek: Stefan Ruzowitzky

Klik hier om The Counterfeiters nou van kalahari.net te bestel!


Dis altyd die moeite werd om dop te hou watter film die Oscar vir die beste buitelandse rolprent wen, en met The Counterfeiters, 2008 se wenner, was die wag tot dit op ons kringloop verskyn, beslis die moeite werd.

Die film is gegrond op 'n ware verhaal, soos vertel deur die Holocaust-oorlewende Adolf Burger, en op die eerste vlak handel dit oor 'n klompie Jode in 'n Nazi-konsentrasiekamp wat betrokke was by die grootste geldvervalsingsoperasie in die Westerse geskiedenis. Dis egter die dieper vlak wat hierdie fliek werklik besonders maak: 'n ondersoek na moraliteit - ons siening van wat reg en verkeerd is.

Die hoofkarakter, Salomon, oftewel Sally Sorowitsch (skitterend vertolk deur Karl Marcovics), is 'n meesterlike vervalser. Hy opereer op klein skaal in die Berlynse onderwêreld in die 1930's. Lank gelede was hy 'n man met 'n vrou en kinders, en nog voor dit 'n uiters belowende kunsstudent in sy geboortestad, Odessa in die Oekraïne. Maar die noodlot het sy draaie met Sally geloop, en nou is hy nog net 'n deurwinterde oorlewer. Toe die Tweede Wêreldoorlog uitbreek en Hitler se Jodevervolging verskerp, moes hierdie man, wat duidelik al ellende geken het nog lank voor die Nazi's se helkampe (Odessa was immers die brandpunt van die Russiese Rewolusie in 1905), opnuut aanpas om te oorleef.

Totdat hy deur die toedoen van Friedrich Herzog (Devid Striesow), sy ou nemesis by die Berlynse polisie en nou Sturmbannführer, na Sachsenhausen gestuur word. Daar word hy aan die hoof van 'n geheime eenheid Jode geplaas, met die opdrag: sorg dat die Britse pond vervals word, en daarna die dollar.

Met die beste tegnologie en toerusting tot hul beskikking is Sally én Herzog seker van sukses, maar die probleem lê by die Joodse gevangene Adolf Burger (August Diehl). As 'n man met die hoogste morele beginsels skop hy nie net teen hul "geheul" met die Duitsers nie, maar as drukker het hy ook die mag om hul werk te saboteer. Die stryd tussen Burger en die pragmatiese Sally vorm die kern van die verhaal.

In die breë gesien, meen baie mense dat moraliteit 'n eenvoudige saak van reg of verkeerd is, ja of nee, swart of wit. Verder: dat daar net een moraliteit is, wat duidelik onderskeibaar is van die alternatief, en dat dit vas staan. Enige denkende wat sy of haar sout werd is, sal jou egter kan sê dat dinge glad nie, hoegenaamd nie, gehéél en al nie so eenvoudig is nie. Daar is inderdaad verskillende moraliteite - iets wat hierdie film besonder treffend illustreer.

Vir my is een van die interessantste dinge omtrent die fliek dat hoewel dit op Burger se boek gebaseer is (hy was mededraaiboekskrywer en het raad gegee met die verfilming), word nie hy nie, maar wel Salomon as die hoofkarakter uitgebeeld. Sou die onversetlike Burger later in sy lewe begrip gekry het vir sy teenstander se meer deurleefde moraliteit?

Ek het al heelparty Holocaust-films gesien, maar selde nog het een die absolute verskrikking daarvan so goed oorgedra soos hierdie een. Vir alle ernstige fliekkykers is The Counterfeiters 'n moet.