Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Ongepubliseerde skrywers

Die tuin van verlatenheid


Elsa Engelbrecht - 2008-11-24

Die pad is byna onbegaanbaar. My suster, Martie, het moeite om al die slaggate te vermy en die motor in die pad te hou. Die man by die motorhawe het vir ons baie duidelike aanwysings gegee oor hoe om by die plaas te kom, maar het vergeet om te sê dat die pad nog feitlik net deur die swaar voertuie van die Mondi-mense gebruik word. So ver ons ry, sien ons die plantasies in wording. Sommige is al goed gevestig; op ander plase word die grond nog voorberei om die jong boompies oor te plant. Stadig maar seker verdwyn die landskap wat ons as kinders geken en liefgehad het, onder wuiwende dennebome. Dit is dan ook die doel van ons reis: om vir oulaas die plaas van ons kindertyd te besoek voordat dit verswelg word deur plantasies.

Die omgewing waar ons nou ry, begin meer bekend lyk en ons weet dat ons naby die plaas moet wees. By die hek wat na die plaaswerf lei, besef ons dat ons nie verder sal kan ry nie. Die pad bestaan amper nie meer nie en die bruggie oor die spruit naby die huis is in so 'n swak toestand dat 'n motor nie meer daaroor kan ry nie. As ons op die werf wil kom, sal ons daarheen moet voetslaan. Daarom stap ons drie susters die stofpad af, soos jare gelede toe ons nog kinders was. Oor die wankelende bruggie, verby die braambosse, verby die bouvalle van die werkershuisies teen die hang, totdat die werf waar die ou opstal gestaan het, voor ons lê. Toe gaan ons eers staan om alles in te neem en te probeer verwerk.

Dit is skielik vir ons so bekend en tog ook soveel anders as wat ons dit onthou. Waar die ou opstal gestaan het, is nou net kweek en 'n paar los klippe. Verder lyk alles soos destyds. Dieselfde ou klipkraal staan nog aan die rand van die bos bloekombome. Dieselfde vyebome groei nog op die wal van die spruit wat verby die opstal geloop het. Die struike is wild en ruig en kort 'n snoeiskêr, maar die tuin lyk nog soos ons dit eenmaal geken het. Tog is die oorheersende gevoel een van verlatenheid en verlorenheid.

En die berg.

Die berg wat ons altyd verwelkom het as ons huis toe gekom het, het ook nou vir ons gewag. Na alles wat deur die jare met ons gebeur het, en hoe ons ook al verander het, die berg het dieselfde gebly. Deur al die eeue heen het die berg gewaak oor dié lap aarde en die geheime van die mense wat hier gewoon het.

‘n Bewoënheid daal op ons neer; ons gaan sit op die klippe wat daar rondlê om eers tot verhaal te kom.

‘n Rukkie later gewaar ons ‘n man op ‘n perd van die rivier se kant af aangery kom. Met skielike skrik onthou ons dat ons nou eintlik oortree op andermansgrond en dat ons drie weerlose vroumense is met net die wind en die bome as getuies rondom ons.

Die man is egter vriendelik toe hy nader kom en homself bekendstel: "Ek neem aan julle wou net vir oulaas kom kyk hoe dit hier lyk voordat die bome oorneem?"

"Ja, ek is jammer, ons oortree eintlik, maar dit ís die rede waarom ons hier is. Hoe het u geweet?" praat ek namens ons al drie.

"Ons kry dit dikwels dat mense vir oulaas wil kyk en foto's neem van die plek waar hulle gewoon het en grootgeword het. Ons maak net elke keer seker dat dit nie kwaaddoeners is wat op die werf is nie."

Ons gesels ‘n rukkie en skielik vra hy: "Is julle nie skrikkerig hier so alleen nie?"

"Ja, ons is maar skrikkerig, want dit is baie alleen en afgesonder hier, maar ons sal teruggaan voordat dit begin donker word."

"Nee, maar wat ek eintlik bedoel is dit: Is julle nie hier bewus van ‘n vreemde atmosfeer nie? My werksmense is baie kopsku om hier doenig te wees; hulle sê hier is ‘n onheil wat hulle bedreig. Jy sal nie een van hulle saans na donker hier vang nie en ek moet sê ek kry ook soms ‘n vreemde gevoel as ek hier is. Het julle nooit so iets ondervind nie?"

Ons kyk na mekaar.

Ons verseker hom dat ons nooit sodanige gevoelens ervaar het gedurende die jare wat ons daar gebly het nie en dat dit van ons wonderlikste herinneringe is: ons dae van pret en ontdekkingstogte op die plaas.

Ons sit nog ingedagte en kyk hoe die man wegry, toe Martie skielik sê: "Het ons nou regtig vir hom die waarheid vertel?"

Vroeg die oggend roep Ouma ons klompie neefs en niggies wat op die plaas kuier: "Ek wil hê julle moet vir my ‘n klompie katdorings en aronskelke gaan pluk in die kloof. Ek wil dit gebruik om kransies te maak vir oom Piet se begrafnis. En moet nou nie met versukkelde stukkies plante hier aankom nie; julle weet mos ek wil net die mooiste en beste hê vir die kransies wat ek maak!"

Neef Ben, die oudste onder ons, is dadelik vies. Hy wag net tot hy buite hoorafstand van Ouma se kombuis is, toe trek hy los: "Vir wat moet Ouma altyd oorboord gaan met alles? ‘n Mens sou sweer sy is die kransie-koningin van die omgewing: om nou vir elke ou oom en tante wat doodgaan, ‘n klomp kransies te wil staan en maak."

"Wel sy ís eintlik ‘n soort van ‘n koningin in die omgewing, as jy so daaraan dink," bly ek lojaal aan Ouma. "En buitendien is dit hoog tyd dat ons weer ‘n slaggie in die kloof kom; laas toe ons saam met die grootmense daar was, was hulle alte haastig om weer daar uit te kom. Ons kon nie eens behoorlik alles bekyk nie."

"As jy dan so lus is om te gaan, hoekom gaan haal jy nie alleen die goed vir Ouma nie?"

"Ag, jy is sommer net ‘n ou bangbroek. Jy het gehoor dat Ouma jou aangestel het as hoof van die ekspedisie," hou ek my slim.

"Wel, kyk, ek sê nou vir julle, bangbroek of nie bangbroek nie, dit spook in daardie kloof, maar hoe gouer ons daar kom, hoe gouer kan ons terugkom - ás ons terugkom. Dit sal Ouma se verdiende loon wees as ons nooit weer terugkom nie."

Ten spyte van Ben se bangmaakstories is ons die kloof in. Maar katvoet. Hoe verder ons gaan, hoe digter word die bome en hoe donkerder word dit rondom ons. Selfs ek voel nou glad nie meer so dapper soos ek my voorgedoen het nie.

Ons raak gaandeweg bewus van ‘n bedreiging wat ons gekwetter laat verstom. Dit voel of ‘n vreemde boosheid ons omring. Ons kyk bekommerd rond, maar kan niks sien wat die angstigheid kan veroorsaak nie. In die skemerte rondom ons is daar net die plante en bosse en rotse. En die aronskelke waarvoor ons eintlik gekom het. Tog is daar ‘n gevoel só dreigend dat dit ons almal aangryp. Martie gryp skielik my hand vas en ek voel rilling na rilling deur my trek.

Neef Ben gewaar die eerste dat die onheil nou tussen ons is toe hy skielik die gedrog se lang vingers om sy nek voel sluit. Met 'n onaardse gil los hy alles wat hy gepluk het en sit verskrik op loop. Paniese angs oorval ons. Ons sit hom skreeuend en huilend agterna, son toe, huis toe. Die ongediertes laat ook nie slaplê nie en bly op ons hakke deur die ruie bosse; oor die kranse en klowe; deur die stroompies en plate aronskelke, en ons moet net uithaal om voor te bly. Ons kan dit vóél, almal van ons, ‘n klam, taai teenwoordigheid wat jou vel koud maak en jou hare laat rys en wat dreig om jou te verswelg.

Verflenterd, met stukkende knieë en voete, kom ons by die huis aan, tot groot konsternasie van die grootmense. Martie, die jongste onder ons, seil direk onder die bed in, waar sy die res van die dag nie weer wil uitkom nie. Daardie nag slaap sy tussen my ouers in hulle bed. Ons almal slaap ‘n paar nagte baie onrustig en bly deur die dae bewus van ‘n gevoel van onheil wat ons nie wil verlaat nie. Later neem die pret en avontuurlus weer oor en ons skuif hierdie gevoel eenkant toe - maar nooit verdwyn dit heeltemal nie.

Ons besef skielik dat die son aan die sak is. Haastig maak ons ons goedjies bymekaar vir die terugtog na die motor. Elkeen loop in stilte met sy eie gedagtes. Ek loop en wonder: Was dit kollektiewe histerie wat ons daardie dag so die skrik op die lyf gejaag het? Was daar regtig ‘n onheil wat hom aan ons openbaar het? Was daar in ons onderbewussyn, terwyl ons op die plaas gespeel en rondbeweeg het, altyd die wete van ‘n soort boosheid? Was dít die rede waarom ons altyd saamgebondel het en dit nooit alleen ver van die huis af gewaag het nie, selfs vóór die dag in die kloof?

Ek kyk om. Vir oulaas.

En toe sien ek dit. Die bome wat in die wind worstel. En die donker wolk wat hom losmaak en met lang, grypende slierte, soos arms, in ons rigting begin waai.