Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Reis | Travel > Artikels | Features

Die verlore stad


Elias P. Nel - 2008-11-24

Skrywer Elias P. Nel het nog net op twee plekke gewoon - in Kraaifontein in die Wes-Kaap, waar hy vandag nog tuis is, en tot en met sy 14de jaar op Verneukpan in die Kenhardt-distrik in die Noord-Kaap. Daar waar "sy mense, sy stories" éintlik is, hulle met die prate vol poësie. Foto's: Naomi Bruwer.

Dis die storie van 'n verlore stad, 'n magiese "lost city". Want dis weggesteek en niemand of min mense weet daarvan. Nou ja, miskien nie 'n stad nie, ook nie juis 'n dorp nie, maar beslis nie 'n plaas nie. Dit haal net rakelings die status van gehuggie.

Ek praat nou van my geboorteplek, my heimat, Verneukpan of Swartkop in die Boesmanland. Die plek waaroor ek soms soos in Hans du Plessis se transponering van Psalm 8 in die Afrikaans van die Griekwas van die Noord-Kaap in sy gesogte en topverkoper-digbundel Innie skylte vannie Jirre tegelykertyd wil kla en jubel:

Jirre, dasie 'n lantie so ver of woes
geleë,
sos dié sandland wat U nou vi my
kom gjee,
want selfs in hierie droë annerlikeit
groei die gemsbokkomkommer van
U se heerlikeit

Dié gehuggie is in die driehoek tussen die groter dorpe Brandvlei, Kenhardt en Vanwyksvlei geleë. Die enigste aanspraak op roem is dat dit op die rand van die bekende Verneukpan geleë is waar sir Malcolm Campbell in 1929 'n landspoedrekord met sy Bluebird probeer opstel het. So onlangs soos 1995 is die rave-partytjie Desert Storm daar aangebied.

Meer as dit is daar ongelukkig nie. Die haastige reisiger uit die stad wat dalk verdwaal en in Verneukpan beland, sal sonder om twee keer te kyk, voet in die hoek sit om so vinnig moontlik op die pad na Kenhardt of Brandvlei te kom.

My skrywersvriend Pieter Strauss, wat ook uit hierdie geweste kom, skryf by geleentheid dat menige mense aan hom die volgende sê: "Wat is dit wat jou so fassineer, so boei aan die Boesmanland? Dis dan net 'n vaal landskap vol opgeefsels, kaal vlaktes en vreemd opgestapelde swart klippe! Hoe kan jy skryf en dig oor daardie bar, onpoëtiese landskap? Ons woerts deur jou wêreld en al wat ons sien, is vlaktes en vlaktes vol niks. Wat sien jou oë dan wat ons nie gewaar nie?"

Ek het my ook al menigmaal dié sort venyn op die hals gehaal en soms is die kritici van my wêreld nie so taktvol nie. Vra my klasmaats vir my in die jare sestig aan die Hoërskool Bellville-Suid van waar ek oorsprong. Moet seker my effense Boesmanlandse aksent of dalk die verwonderde trek op my gesig gewees het wat my weggegee het. Ewe kordaat antwoord ek toe: "Verneukpan, in die Boesmanland."

En sonder om op 'n verdere uitnodiging te wag, trek ek weg en besing die deugde van my wêreld. Net om 'n sin of twee later wreed in die rede geval te word met die volgende opmerking: "O ja, Verneukpan is mos die plek wat onse liewe Vader net gemaak het omdat Hy nie 'n gat in die grond wou los nie."

Maar nie hierdie onsensitiewe opmerking en al die ander gespot wat met die verloop van die jare gevolg het, kon my liefde vir dié landstreek, vir Verneukpan en veral vir die mense blus nie. Hoe sê hulle nou weer? "Jy kan die plaasjapie van die plaas af haal, maar jy kan nimmer as te nooit die plaas uit die japie haal nie."

Dit is soutwêreld hierdie en dit is 'n dorre wêreld dié. Hulle sê rondom Verneukpan is daar soutpanne waar jy soms op 'n stil dag die sout hoor groei. Die padpredikante wat die plaasname op pad na Verneukpan aandui, vertel die storie. Jy swerf van Soutpoort na Soutputs en Brakputs. En van daar dwaal jy weg na Sandputs, Droëhout en Boesmansyfer. Enkele plekke gee nog erkenning aan die eerste bewoners van die streek en daarom kry jy Abiquaputs, Narogana en Noenieputs.

As jy gelukkig is, kry jy in die streek ook nog enkele bewyse dat die San hier deur getrek het. En as jy iets van veldkos weet, dan sal jy weet die hoodia gordonia of !xghobba, die !ghaap, uintjies en gemsbokkomkommers is koningskos. My voorouers het in ieder geval al die jare net uit en van die veld gelewe. Maar as jy nie kennis van die veldkos het nie, moet jy maar eerder honger bly, want die verkeerde happie kan jou dood kos.

En dan is daar nog die driedoring- of die noeniebos wat ná goeie reëns die mooiste pienkgeel blommetjies dra. Sê die oumense hierdie blomme is 'n soort seksstimulant, want as die bokramme hulle eet, kan jy maar weet jou bokooie lam net twee- en drielinge.

Ná goeie reëns is die twa- of boesmangras 'n lus vir die oog soos die wit pluime ritmies heen en weer in die wind wieg. Moet seker van die gras se winkende hande wees waarvan Eugène Marais in sy veelbesproke Winternag praat.

My grootste passie is egter die mense. Sout-van-die-aarde wesens met hul voete plat op hierdie ondermaanse. En hul stories en hul kultuur-uitinge.

Die mense van wie die digter en uitgewer Charles Fryer op 'n keer in Die Burger skryf: "Die mense van die Noordweste het die vermoë om 'n gesegde sommer so uit die broeksak of die blou tabakrook te haal."

Jy moet verby die swaarkry wat deur die kontoerryke gesigte uitgebeeld word kyk, stil word en luister. Soos in W.O. Khune se Huppelkind-stories waar Huppelkind die volgende raad kry: "Draai drie maal in die rondte en kyk onderdeur jou bene. Gaan sit dan by 'n diep kuil vol soetwater. Sit stil soos 'n muis... nog stiller as 'n muis."

Jy hoef darem nie drie maal in die rondte te draai of onderdeur jou bene kyk as jy iets van die misterie, iets van die poëtiese prosa in die mense se praat wil agterkom nie. Nee, jy moet net stil word, nog stiller as 'n muis, en jy sal dit hoor. As jy so stil sit en met jou hele wese luister, dan hoor jy poësie, prosa en word jy deel van hierdie unieke mense se lief en leed.

Maar dis nie net alles maanskyn en rose nie, daar is ook eksentriekhede wat die kleindorpse gemeenskappe kenmerk. Die nuuskierige agies en smartvrate wat een storie hoor en 'n gans heel nuwe storie gaan oorvertel.

Dit is hierdie mense wat met hul eiesoortige humorsin en raakvat-gesegdes kleur en betekenis aan die andersins bar, dorre en leë wêreld gee. Luister maar na die wyse woorde wat in die volgende waarskuwing verskuil lê.

So sal 'n oom of antie jou waarsku as jy die noodlot tart: "Moeilikgeit kom na jou met die spoed van 'n haas, maar hy loop van jou af soos skilpad."

En natuurlik is daar spookstories. Baie. Ek het op 'n keer geskryf dat so volop soos die driedoringbosse in Verneukpan is, net so volop is stories oor spoke. En net soos die driedorings ná goeie reëns blom en van voorkoms verander, so verander spookstories ook soos hulle met verloop van tyd weer en weer oorvertel word.

Hulle vertel die volgende storie vir die waarheid. 'n Reisiger of smous was glo in ons wêreld op reis om sy ware te verkoop. Miskien moet ek die oom wat die storie vir die waarheid aan my vertel het, self aan die woord stel.

Sê hy: "Nou, jy sien, Boetietjie, die trêwwelaar het mos hier by ons ok met sy goeterse kom trêwwel. Net hier deuskant Kranskop se kaiingbulte lê daar mos daardie eensame grafte wat niemand weet wie's daar gebegrawe nie. Regoor die grafte gaan staan die trêwwelaar se mouter. Hy klim uit en kyk onner'ie bonnet, maar kan nie enige fout raaksien nie.

"Ewe skierlik hoor die trêwwelaar 'n stem sê: ‘Tjêk die coil-draad.' Hy kyk op en sien ga mens in sig nie, net twee perde wat daar annerkant die draad stane wei. "Hy kyk weer na die mouter se enjin en weer sê die stem: ‘Tjêk die coil-draad.' En jou wragtig, hy sien dis een van die perde wat dit sê.

Hy kyk en daar is die draad toe allietyd los. Hy maak dit reg en ry tot by die koöperasie. Daar vertel hy wat gebeur het. Vra die mense vir hom: ‘Waffer perd het met jou saamgepraat? Die witte of die swarte?' Hy sê dit was die swarte gewees. Sê die koöperasie se mense vir hom: ‘Jy kan bly wees dit was die swart perd gewees. Daai wit perd weet niks van mouterkarre af nie!' "

En dan het ek nog nie eens by die grootliegstories gekom nie. Mense wat in sulke afgesonderdheid woon, moet seker bedags agter die vee of waar hulle hul ook al bevind die verbeelding oortyd laat werk om sin en betekenis aan die alledaagse se gesloer te gee. Anders kan dit dalk te veel word. In die stilword en luister gaan dit oor die praat. Dis lospraat, dis vou-in-'n-blik praat en praat soos 'n lap wat skeur.

Nog 'n storie wat as die wit waarheid verkoop word, is dié van die tannie wat die ouderling, wat onvanpaste voorstelle aan haar gedoen het, by die kerkraad gaan verkla het. Kom sy glo daar aan, maar kan of wil nie 'n klag formuleer nie. Ná vele gestoei deel die leraar haar mee dat indien sy die klag nie duidelik uitspel nie, sal die broeder nie betug kan word nie. Nadat sy haar moed bymekaar geskraap het, sê die tannie toe: "Nee, leraart en tjêrkraad, ek kan nie sê wat lat die broer saam met my saamgepraat hettie. Al wat ek kan sê, is lat die broer 'n onpraatlike praat saam met my gepraat het!"

Maar dis ook kerkmense. Al het almal nie altyd verstaan hoe die besigheid nou eintlik werk nie. Soos die oupa wat saans tot 15 minute aaneen kon bid sonder om werklik enigiets sinvol te sê.

Bid hy week ná week die volgende gebed in dié presiese volgorde: "Here, hoekom is ons da nou vinaand hier? Dis mos oorlat U wil hê ons moet hier wees, want as U nie wil gehad het ons moet hier wees nie, da sou ons nie hier gewees het nie. Maar dis mos juis oorlat U wil hê ons moet hier wees, daarom is ons hier. En daarom prys ons U se voorsienigheid. Here, hoekom waai die wind da vinaand daar buite?

"Dis mos oorlat... (ensovoorts ensovoorts). Here, hoekom is suster Anna da vinnaand siek? Dis mos oorlat... (en so aan en so aan)."

Godsdiens en geloof is 'n ernstige saak, soos Petrus Slambee oftewel Holpiet dit beleef het. (Vergelyk my verhaal: Holpiet in Gamorra uit die bundel Iets goeds uit Verneukpan?) Ernstig, al is die uiteinde ook hoe komies of is dit as 'n verskuilde sedelessie verpak.

Gaan kyk maar weer as jy op 'n dag in die afgeleë dele van ons land toer. Die kerktorings toring hemelhoog as baken waar jy skuiling teen die droogtes, swaarkry en swaarmoedigheid kan kry.

My ander passie is die rieldans wat die grootmense naweke op die oop vlaktes gedans het. Die rieldans is vir die mens wie se voet alewig jeuk, dié wat daarvan hou om te bokspring, vlerk te sleep, soos 'n perd te gallop of sommer net al wat 'n perkaat is behels soos 'n parmantigebobbejaanmannetjie wil uithaal. Die energietappende dans is meesal die nabootsing van diere. Dis 'n lyflike dans waar die liefdespel tussen man en vrou subtiel en soms openlik met die klem op die viriliteit van die man is. En op Verneukpan het ek die riel leer trap.

Omdat ons nie straatname gehad het nie, het ons gewoon die werf van 'n huis 'n naam gegee. Daar was Tjoeroeshoek, wat na die eienaar Tjoeroe Cloete vernoem is. Klipstraat wat teen die heuwel geleë was en Witkalk waar die wit kalk uit die grond gedans is.

In die rieldans word werksituasies ook uitgebeeld, soos bokwagter, skaapskeer en die askoek slaan. Die as van 'n askoek word op 'n spesiale manier verwyder nadat dit onder uit die as verwyder is. Dit word behendig tussen die twee hande in die lug gegooi en dan met albei hande hard geslaan. In die dans slaan die danser sy regtervoet in 'n vinnige beweging bokant sy linkerknie.

Daar is juis nou weer 'n oplewing in die rieldans. Die feniks is uit die vergetelheid onder die sak en as uitgeruk en ons kan weer pronk op die dansbaan. Want nou weet ons; ons behoort.

Sal ek weer wil teruggaan? Sou ek die weelde en gerief van die stad verruil vir die ongerief en afgesonderdheid van my verlore stad?

Ja, as ek 'n lappie grond kan hê waarop die lammers weer soos gister en eergister, toe alles nog ongekunsteld was, kan baljaar.

Dan sal ek teruggaan. My verlustig en verluister aan die stories; die prate wat gepraat word.