Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Poësie | Poetry

Rachelle Greeff wen die Nagtegaal Tekspryskompetisie


2008-11-21

En ... die wenstuk van die landswye Nagtegaal Tekspryskompetisie is Die Naaimasjien deur Rachelle Greeff! Hierdie eenmanstuk, met ʼn bejaarde vrouehoofkarakter, speel af in ʼn aftreeoord waar sy terugdink oor haar lewe. Die dramaturg dra hierdie teks op aan "die ma's en oumas en grootmoeders wat soos Baboesjka-poppies in hul dogters staan." Die regisseur van Die Naaimasjien is Hennie van Greunen. Die prys behels n kontantbedrag van R30 000 plus die produksiekoste van die wenstuk, onderhewig aan die reëls van die kompetisie.

Die standaard was so hoog dat vyf finaliste ipv net drie die werkswinkelnaweek by Clara Anna Fontein bygewoon het hierdie jaar.

Die vyf finaliste was:

Maskermaan deur Cecilia du Toit
Hol deur Nicola Hanekom
Marie Wie? deur Kobus Burger
Die Naaimasjien deur Rachelle Greeff
Jonas deur Daleen Kruger

Die beoordelaarspaneel het bestaan uit EKM Dido, Nico Luwes en Hennie van Greunen.

Die Naaimasjien word opgevoer by die Suidoosterfees 2009 by Kunstekaap. Ten einde die wenstuk aan te bied as deel van die Nagtegaal-slypskool, kan ʼn gratis gesprek bygewoon word tussen die dramaturg en die regisseur oor die ontwikkeling van die produksie na die opvoering op Vrydag 30 Januarie.

Van die ander feeste waar die Nagtegaal-wenteks opgevoer word tydens 2009 is onder andere die Woordfees, KKNK, Innibos, Volksbladfees en Aardklop.

Dus, begin solank betyds werk aan teatertekste vir die volgende rondte inskrywings waarvan die afsnydatum 31 Augustus 2009 is.