Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Vintage@LitNet

Daantjie Saayman - 'n gawe van vriendskap


IL de Villiers - 2008-11-18

Audrey Blignault het gesê Daantjie Saayman is een van daardie rare wesens met ’n gawe van vriendskap. Oral waar hy gekom het, was daar iemand bly om hom te sien, en hom selfs op die Franse manier te omhels. In die wêreld van die letterkunde was hy ’n soort ridder van die boektafel. Met sy blink oë en Svengali-baardjie het hy vroue betower. En die mans het sy geselskap gesoek daar waar die vuurtjie brand, die wors braai en die gelag al harder word.

Ons het mekaar in 1977 by Tafelberg-Uitgewers in Waalstraat ontmoet nadat Danie van Niekerk ons aan mekaar voorgestel het. So effe wantrouig het ons mekaar betrag en elkeen opinies voorbehou. Ek was die dominee. Hy was die illustere uitgewer van André P Brink se Kennis van die aand en van Breyten Breytenbach. Hy het in die hof beland toe Kennis verbied is en hy appèl aangeteken het. Dit het hom finansieel op sy knieë gebring. Soos hy aan my verduidelik het: "As ek ongetroud was, sou ek met my uitgewery voortgegaan het en in die kantoor geslaap het snags. Ek kan spaarsaam leef. Maar ek is ’n man met ’n vrou en kinders. Ek moet eerstens vir hulle sorg." Hy het as verkoopsbestuurder by Tafelberg begin werk.

Op ’n dag het ons saam gaan rondloop. Ná die kuier het ons geweet ons was vriende.

Wat my die dag verstom het in die Café Royal langs Groentemarkplein, was hoe hy sommer goedsmoeds vir die kelnerin gevra het: "Wat is julle hotnots so stadig met die tee vandag?" Die vrou het uit haar maag gelag en gesê: "Mister Daantjie, djy moet bly wies djy kry die tie." Sy het so ligweg oor sy kort haartjies gevryf. Hulle was ou pelle.

Buren was een van daardie boetiek-uitgewerye wat goeie boeke uitgegee het, want Daantjie het ’n goeie manuskrip dadelik geken. Soos hy ’n goeie kunswerk kon raaksien en later ’n hele versameling van die beste skilders opgebou het.

Eendag - ná Buren maar moes sluit - het hy gevra of ek nie die naam van sy uitgewery plus die pragtige monogram van die kasteel wou koop nie, "vir miskien as jy eendag so iets wil doen". Hy het gesê ek moet net die oordragkoste betaal, dis al - ’n nietige bedraggie. Dom het ek nee gesê. My eie uitgewery ... ja, ’n mens kan droom ...

Daarvandaan het ons mekaar gereeld gesien. Sy kennis van boeke was formidabel. Sy eie geskiedenis ook. Hy is vroeg wees gelaat met die skielike dood van sy pa, en sy ma het haar gesin met liefde grootgemaak. In standerd 8 is hy uit die skool om ’n verkeersman te word. Hy het met ’n blik toebroodjies werk toe gegaan en op sy eerste dag teen elfuur al sy toebroodjies opgeëet. Hy was verveeld en het gou by die boekbedryf gaan werk soek, en toe later sy eie uitgewery, Buren, begin.

Hy was die mees belese outodidakt wat ek ooit geken het, ’n wandelende ensiklopedie en ’n onuitputlike bron van stories en grappies. Hy was nie sonder sakevernuf nie, maar vir hom was die lewe ’n dans, of liewer die een dans op die ander: wals, foxtrot, samba ... Hy was ’n genieter, ’n soort Pallieter wat sy motto op ’n boom se stam skryf: "Melk die dag!" Hy kon ’n mens opbeur uit die diepste depressie met een of ander gevatte opmerking. En hy kon luister en ’n deurdagte mening gee.

Sy hartsplek was die Sederberge. Daar kon hy na aan die natuur leef en daarheen het hy Breyten Breytenbach geneem toe dié in 1972 weer in Suid-Afrika toegelaat is. Sy vertellings oor die Sederberge en die mense daar, die diertjies en die bome, het hom soms nat-oog gemaak. Daar kon hy maande leef "en nie eens dink aan plesiere soos ’n wyntjie of wat ook al nie - daar bly ek 'droog', net die vryheid van die natuur".

Soms het dit gelyk asof hy weet waar elke boek in elke boekwinkel in Kaapstad staan. Met mev Oldershaw, ’n besonderse vrou en bestuurderes van Nasionale Boekhandel in die Groot Kerk-gebou, het hy ’n soort verstandhouding gehad. Sy laat hom weet van elke nuwe boek en hy het soms net daar gaan sit en lees. Op ’n dag het Rina daar ’n boek gaan soek. Daantjie het haar gou-gou ’n lesing gegee oor ’n Russiese skilder van wie sy ’n boek in die hande gehad het.

Terloops, daar het lank net drie eksemplare van Kennis van die aand gestaan. Ek het een gekoop en twee het bly staan. Vir byna ’n week. Toe begin die byle huil rondom die boek en daar was sprake dat dit verbied sou word. Mev Oldershaw het nog 95 in voorraad gehad en al dié eksemplare in een oggend van die hand gesit! Sensuur is die beste verkoper van enige boek, het ek daardie dag weer geleer.

Ek en Rina het een aand ’n groot party in die Here XVII gehou. Ons gaste was nie skaam by die kroeg nie - van bottels riesling tot Franse cognac. My hoofouderling was een van die laastes wat geloop het: hy en sy wonderlike vrou wou eers hul cognac klaarmaak. Toe almal hier teen twaalfuur goed vrolik was, het Daantjie stilte gevra, want hy wou iets sê. Hy gaan staan toe in die middel van die vloer en kondig aan: "Izak, jy het nou vir die ete betaal. Jy maak vir Tafelberg-Uitgewers baie geld. Tafelberg sal die drank betaal."

Danie van Niekerk, Tafelberg se baas, het niks gesê nie - gelukkig nie, want die drankrekening vir die aand was dubbeld die kosrekening. Maar dit was seker die beste paartie wat ons ooit geskop het, met gaste wat nie wou loop nie en ’n hele paar raconteurs op hul beste.

Oor Tafelberg en geld en boeke het ek my eendag bitter sleg gedra in die Nederlandse Klub. Ons het die verskyning van een van my boeke gevier. Danie van Niekerk was daar, Fritz Joubert van Sarie, Daantjie, en ek. Dit was juis rubrieke wat onder Fritz se redakteurskap verskyn het, wat gebundel is. Die boek het mooi gelyk en ons was almal opgewonde.

Toe begin ek vir Danie van Niekerk te pla dat hy my meer tantieme kan betaal. Danie, synde ’n erg kalm persoonlikheid, het hom netjies aan my afgesmeer. Toe takel ek Fritz Joubert oor vergoeding vir die rubrieke - eintlik sommer om skoor te soek, want Fritz het my redelik vergoed. Maar Fritz antwoord toe: "Jy maak so baie geld uit wat jy skryf, en dan kla jy nog! Jy maak die meeste geld van al die skrywers."

Net daar vervies ek my, staan op en ry huis toe. Daantjie het agter my aan gekom en my probeer paai, altyd die vredemaker. Hy het gesê Fritz het ’n grap gemaak. Maar ek was te skaamkwaad - ’n slegte emosie te alle tye - om terug te gaan en gesê hy en almal kan in hul dinges gaan. Fritz het later gebel en ons het die saak uitgemaak. Dis ’n insident waaroor ek my skaam.

Een oggend bel Daantjie en vra of ek wil saamgaan na die skilder Erik Laubscher in Seepunt. Hy was lus om "sommer ’n bietjie nonsens te praat met ou Erik". Erik was vriendelik, maar het ons effe skugter ingenooi. Daantjie het dadelik op sy esel gaan loer waaraan Erik werk en ’n paar aanmerkings gemaak wat Erik nie juis amusant gevind het nie, maar die twee was klaarblyklik op goeie voet.

Ek het so tussen die gesels geïnteresseer geraak in twee klein waterverf-skilderye van die Swartland. So sagkens het ek verneem wat Erik vir hulle wou hê. Hy het gesê dis nie te koop nie. Daantjie het na die waterverfies gaan kyk en sommer een afgehaal om van nader te betrag. Toe sê hy: "Izak, gee hom R60 hiervoor en R60 vir die ander een ook. Dis niks meer werd nie: R120. Cash." Erik het gesluk en die R120 gevat. Later het hy ’n uitstalling gehou en Rina het by tien waterverfies verbygeloop net toe Erik vir bewonderaars vertel dat dit oorspronklik ’n dosyn was, maar twee is uit. Rina haak toe af en sê vrolik: "Erik, ek weet tog waar hulle hang!" Soos destyds was hy effe uit die veld geslaan, maar hy het Rina geken en in ’n groet geglimlag.

Ons was juis een aand by ’n uitstalling van die skilder Jan Visser se werk, waar ek die openingswoord moes voer - en ’n lieflike penskets van Tafelberg as geskenk gekry het. Toe ons terug kom by die pastorie, hol Louis uit sy kamer en sê: "Pappa, oom Daantjie en oom X was hier en het Pappa gesoek, maar hulle is weer weg. Elkeen het ’n bottel rooiwyn in die hand." Ek was bitter bly ek het dit gemis, want Louis het duidelik laat blyk dat die twee al gekuier het. Net mooi toe ek in die bed wou kruip, lui die pastorie se voordeurklokkie. Ek het gebrom en gaan oopmaak en daar staan Daantjie en "oom X" - Daantjie wat vir vastigheid leun teen die muur en X wat sku agter by die rose ’n bottel optel. Simonsig Pinotage 1971. Ek was regtig nie bly om hulle te sien nie.

Toe sê Daantjie: "Jy is mos die dominee, nè? Ons twee het nou gesels. Ons wil weet of ons twee ook siele het." (Ek het hulle tevore die storie vertel van die twee kroegvlieë wat een aand op Bonnievale by my aangekom het ná die kroeg gesluit het om te vra oor hulle siele en hoeveel perdesiele maak ’n mens se siel.)

Ek het effe geaarsel, maar Daantjie is by my verby na my studeerkamer en het nog ’n bottel Simonsig Pinotage onder sy baadjie uitgehaal. X het vir die wyn gesorg. Hulle wou ’n oopmaker hê. Hulle het die twee bottels gepos en Daantjie het gevra of ek nog rooiwyn het, want hulle is nog dors. (Ek het darem ook ’n ietsie saam gebruik.) Ek het gesê Merwe Scholtz het ’n kis Roodeberg by my weg, maar daar is Groot Constantia Cabernet wat ek goedkoop by die keldermeester, oom Pelser, gekry het. Daantjie het gesê hulle is nie uitsoekerig nie. X was nog genoeg by sy positiewe om te sê die Simonsig wat hy gebring het, was "af"; die Constantia Cabernet 1975 was beter.

Nadat hulle vir my gesing het en die een die ander wou oortref met kwinkslae, hoe later hoe kwater, is hulle so teen halfdrie die nag daar weg. X is huis toe. Hoewel hy die stille was, het hy die huis gehaal. Daantjie het net tot by Wynberg gekom en toe afgedraai na Augie Cohen en daar sommer in die sitkamer geslaap. Na hulle weg is, kon ek nie slaap nie van bekommernis. Ek moes hulle gedwing het om by my te bly, maar hulle wou nie hoor nie.

Die volgende oggend het ek X se kantoor gebel en gehoor hy is daar. Daantjie was nêrens nie.

So teen tienuur het Daantjie die pastorie se voordeurklokkie gelui en om die hoek geloer: "Jy het my nog nie gesê of ek ook ’n siel het nie!" was sy groet. Ek wou weet waar hy die aaklige das gekry het wat hy aan het. "Dis sommer een van ou Augie s'n wat ek gevat het, was sy antwoord. "Ek het gemors op die ander een." Toe het hy begin soentjie-geluidjies maak vir my papegaaitjie. En my ’n storie vertel van "ou Olof Hennig" wat wil partytjie hou.

Kort daarna is hy vir sake na die VSA. Van John F Kennedy-lughawe het hy vir my ’n poskaart gestuur met net die volgende: "Die k*khuise op JFK is groter as die Pêrel." (Ek het gedurig met die Paarl gespog, en wou altyd weet of ’n plek groter of kleiner as die Pêrel is.)

By sy terugkeer het Lina Spies by ons gekuier. Sy het nog gesukkel om kar te bestuur en ek het Daantjie gevra of hy haar nie kon huis toe neem Stellenbosch toe nie - hy het in Somerset-Wes gewoon. Daantjie het met ’n Mazda RX gery, een met ’n Wankel-masjien. Gedurende die rit vra hy vir Lina: "Wil jy voel hoe vinnig die kar kan ry ?"

"Ja," het Lina gesê en Daantjie het sy voet neergesit. Die Wankel-enjin het die kar laat wegskiet soos ’n naelloper uit sy blokke. Lina het niks gesê nie en vasgeklou. Agterna het sy beken dat sy geskrik het, maar Daantjie was in sy noppies: "Daardie vrou het guts! sê ek jou. En sy dig blerrie goed." Toe haal hy sommer ’n paar van Lina se verse aan.

Ek het nooit iemand gekry wat sleg van Daantjie gepraat het nie. Vir sy gewese vrou Trix Pienaar het hy altyd lof gehad. Vir sy eie Nicki en sy kinders sou hy Everest sonder suurstof uitgeklim het. Maar wanneer hy baklei het, het hy baklei. Veral een joernalis kon hy nie verdra nie. Hy het hom beskryf as "een van daardie ouens wie se agterent net so breed soos sy skouers is". Ek het die man later in Johannesburg ontmoet en met Daantjie saamgestem.

Maar toe ek na die Goudstad is, was hy effe ontevrede. Hy het vriende by Rapport gehad, maar nie eintlik veel van die koerant gedink nie. Tog het een van sy vriende nog gedurende my predikantsdae oor my ’n artikel geskryf met die opskrif: "Al dié Dominee se vrinne is nie diakensmateriaal nie".

By Nuweland het hy dikwels net oor die paadjie voor my gesit. Ons het vir mekaar goeters geskreeu wat ander toeskouers laat lê het van die lag. Een Saterdag het Daantjie al klaar WP se oorwinning gevier voor die wedstryd nog plaasgevind het. Hy stap toe na sy plek op die grootpawiljoen en sien my toe ek van die hysbak wegstap. Net daar voor die mense gryp hy my en soen my rojaal op die mond ten aanskoue van al die "vernames" in Jan Pickard se sitplekke. Ek het bloedrooi gebloos. Maar toe die eindfluitjie blaas, het ons mekaar sommer om die nek gegryp en weer gesoen! Enigiets vir ’n WP-wen.

Maar ons vriendskap het gekwyn toe ek weg is uit die Boland. Ons wêrelde het uit mekaar beweeg. Tog het ons na mekaar verlang. Ander vriende sê Daantjie het hom begin terug trek. Alles was nie pluis nie.

In Desember 1996 is ek Stellenbosch toe vir ’n konferensie oor Afrikaans. Naspers het dit gereël en al wat ek kan onthou, is dat Andrew Marais die voorsitter was. So teen elfuur die oggend het ek besluit ek is verveeld met die neo-Afrikaans-stories. Ek klim in my kar en ry Somerset-Wes toe om ’n keer behoorlik by Daantjie te kuier. Toe ek klop, het hy self die deur oopgemaak. Ek het geskrik. Hy was maer en geel, met ’n effense boepie - daar waar die kanker gesit het. Tipies Daantjie het hy besluit om chemoterapie of bestraling te weier. "Ek wil nie nóg gif in my lyf hê nie."

Ons het gesels en gesels. Blykbaar het hy lank tevore gevoel iets is met die kolon verkeerd, maar hy was "nie een vir dokters nie". Hy vertel my toe van ’n vriend wat dieselfde simptome as hy ontwikkel het. Die vriend is geopereer en dit het gehelp. Daantjie het dit gesê en sy skouers opgetrek. En ons het weer begin gesels: van Keeromstraat na Constantia, van Groentemarkplein na Somerset-Wes, van die Pêrel na die Sederberge, van die ou vriende tot die ou met die breë agterent. Ons het weer saam gelééf.

Ek het ’n teer sakie aangeroer: of ek maar vir hom ’n Kersgeskenkie kon gee, wetende hoe trots hy is ... Hy het geknik en ek het ’n tjek omgekeer by hom neergesit, en sonder ’n woord het hy my met blink oë bedank. (Later sou Nicki sê hy het die volgende dag aangehou dat hulle hom moes winkels toe neem. Daar het hy die tjek getrek en vir sy gesin geskenke gekoop. Hy self wou niks meer hê nie. Hy is die volgende Februarie oorlede en sy as is in sy geliefde Sederberge gestrooi.)

Toe ek opstaan om te loop, het ek geweet ek sou my lughawe toe moes haas. Hy het saamgestap. Buite in sy tuintjie het ons mekaar byna koorsagtig soos geliefdes omhels. Ons het geweet. Hy het op my rug getik asof hy my wou troos, maar self ’n snikkie gegee.

Ek het weggery terwyl hy vir my staan en waai. Voor die einde van sy straat het ek die ruit afgedraai en by die venster uit vir hom gewaai. Hy het met albei hande gewuif, soos in ’n seën.

Dis soos hy nou nog vir my waai. Net: ek verbeel my hy wink deesdae meer as wat hy waai. Asof ek moet nader staan vir ’n storie.