Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Opvoeding | Education > Skole | Schools

Vyf vinnige vrae: Carina Diedericks-Hugo


Adriaan Louw - 2008-11-18

Jy het so pas ʼn nuwe boek, Die Verdrinking van Josua van Eden, vrygestel. Dit is veel dieper en heeltemal anders as enige van jou vorige boeke. Wat het jou laat besluit om hierdie verandering aan te bring?

Dit was nie eintlik 'n besluit wat ek bewustelik geneem het nie. Die storie kom al vyf jaar en het deur die jare verskillende gedaantes aangeneem. Dit was egter eers toe ons drie jaar gelede Stellenbosch toe getrek het dat die storie werklik begin vorm aanneem het. My studeerkamer kyk uit op Stellenbosch-berg en Paradyskloofbos en een bewolkte middag het ek Stef Bos se "Witsand" geluister en na die berg gesit en kyk. Skielik het ek net geweet wat om met die storie te doen.

Waarmee presies hou jy jou elke dag mee besig?

Ek is 'n uitgewer by Protea Boekhuis. Protea se uitgewerskantore is eintlik in Pretoria, so ek het die luukse om van die huis af te werk. Na vyf jaar van slegte omstandighede en people poisoning voel dit of ek nou in die hemel werk. Protea publiseer baie wyd: van kinderboeke tot geskiedeniswerke. Vir 'n beter leerskool saam met fenomenale kollegas en effektiewe bestuurders kon ek nie gevra het nie.

Waar kom jou idees van stories vandaan?

Dinge wat regtig met 'n mens gebeur. As jy jou oë en ore oophou, sien jy baie stories raak. Die hele gegewe van Josua is eintlik 'n ware verhaal. Ek en my man spandeer baie tyd in restaurante - nie net omdat ons mal is oor goeie kos en wyn nie, maar omdat daar altyd stories en karakters om jou is. Ek luister skaamteloos gesprekke af en staar soms ongeskik lank na mense.

Jy skryf slegs vir kinders en tieners. Hoe hou jy by met die jongste tienertendense?

Ek hou my oë en ore oop en ek besoek baie laer- en hoërskole as spreker. Ek neem kennis van die gewilde brands, die taal, ek kyk die flieks en luister die musiek. Ek het aanhangers met wie ek gereeld op Facebook en per e-pos gesels, en natuurlik is daar die vermoede dat kinder- en jeugboekskrywers nooit werklik grootgeword het nie ...

Wat is jou planne vir volgende jaar en jou lewe vorentoe?

Ek en my man gaan Desember en Januarie na Oos-Europa, so as ek nie werk nie, beplan ek ons reis. Ek is ook besig om 'n nuwe thomas@-boek (thomas@geraamte.net) klaar te maak wat hopelik vroeg volgende jaar sal verskyn. Wat die lewe vorentoe betref, vat ek elke dag soos dit kom. Ek voel baie bevoorreg: ek het 'n man wat my sielsgenoot is, ek lewe in 'n wêreld van boeke, ek bly op Stellenbosch, en ons het die vryheid om ons tyd te spandeer soos ons wil. Solank my man aan my sy is, die boekrak nie te ver is nie, ek 'n kat op my skoot het, ons uitsig op Stellenbosch-berg nie versper word nie en Villiera aanhou om sjampanje te maak, sal ek hoogs tevrede wees.