Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Kos & Wyn | Food & Wine > LitNet Virtuele Wyngemeenskap > Wynnuus

Bekende Stellenbosch-rooiwynmaker dra sy eerste witwyn op aan sy bruid


Johann H Crafford - 2008-11-17

Hoe gemaak as 'n gesoute, spesialis-rooiwynmaker die dag die knoop met 'n witwynliefhebber deurhaak? Alhoewel dit dalk nie die eenvoudigste uitweg was nie, was die skep van 'n eerste witwyn onder die bekende Martin Meinert-vaandel dalk die mees romantiese oplossing.

Met vroulike finesse verleen die La Barry Sauvignon Blanc 2008 flair aan 'n reeks hardebaard-, gesogte rooiwyne vanuit die Devon Crest-wingerde buite Stellenbosch.

Hierdie verfrissende nuweling dien ook as 'n ware blyk van liefde wat eens 'n belofte was wat deur wynmaker Martin Meinert aan sy bruid, Leigh Ann Barry, op hulle troudag twee jaar gelede gemaak is.

"Tot voor die troue het ek aan verskeie maniere gedink om vir Leigh Ann te oorreed om rooiwyn te begin drink, maar tog het dit niks opgelewer nie. Toe ek uitvind dat sy beplan om vir my 'n spesiale geskenk op ons groot dag te gee, het ek in my toespraak voor almal aan haar beloof om my eerste witwyn te maak en dit aan haar op te dra," vertel Martin, wat sy onthaal op Vergelegen gevier het, die einste landgoed waar hy in 1989 as wynmaker aangestel is.

Alhoewel Martin vasberade was om geen aap uit die mou te laat oor die skeppingsproses van sy eerste witwyn nie, is sy geduld tot op die uiterste beproef.
Hierdie "maagdelike onderneming", paslik gedoop as sy LA Confidential-projek, het hom 'n jaar langer geneem as wat aanvanklik geraam was, as gevolg van 'n skaarste in goeie sauvignon blanc-druiwe vanaf gesogte areas soos Elgin in die Overberg in 2007.

In sy soektog na volmaaktheid het Martin toe uiteindelik topgehalte druiwe vanaf Elgin gevind wat in Maart 2008 geoes is en na sy kelder by Devon Crest vervoer is, waar die waardevolle "vonds" toe met deernis omskep is in sy eerste La Barry Sauvignon Blanc.

Met 'n vrolike, opgewekte, dog elegante smaak weerspieël die wyn sy vrou se beste eienskappe en lê daar ook groot inspirasie in die naam van die wyn, wat Martin op een stadium oorweeg het om te verander na La Berry.

"Leigh Ann het baie gegrap oor die naam en met die mees onvanpaste voorstelle vorendag gekom. Tog het sy laat glip dat sy wel hoop dat die finale keuse ietwat romanties en vroulik sou wees. Ek het natuurlik van die begin af geweet wat ek my eerste witwyn wou noem, aangesien so baie van haar vriende haar die bynaam La Barry gegee het," voeg hy by.

Daar is slegs 'n beperkte hoeveelheid bottels van die La Barry Sauvignon Blanc 2008 landwyd beskikbaar by uitgesoekte wynhandelaars en restaurante teen ongeveer R65 per bottel.