Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Kos & Wyn | Food & Wine > LitNet Virtuele Wyngemeenskap > Wynnuus

Vyf internasionale toekennings vir Plaisir de Merle Cabernet Sauvignon


Johann H Crafford - 2008-11-17

Plaisir de Merle se Cabernet Sauvignon 2005 het hom as ‘n internasionale wenner van formaat bewys deur tot dusver vanjaar nie minder nie as vyf internasionale toekennings in te palm.

Nog skaars was die nuus koud dat die 2005 Cabernet Sauvignon ‘n goue medalje op die 2008 Swiss International Airlines Wine Awards ingepalm het, toe volg die aankondiging dat hierdie wenner goud gewen het op die 2008 Concours Mondial de Bruxelles, ‘n hoog-aangeskrewe, professionele kompetisie om die heel beste wyne en spiritualieë wêreldwyd aan te wys. Die kompetisie, wat vanjaar in Bordeaux gehou is, het meer as 6 000 inskrywings gelok wat deur sowat 240 kundige beoordelaars geproe is.

Die "mees invloedryke wynkompetisie ter wêreld", die Decanter World Wine Awards 2008 met sy 9 219 inskrywings, het die Plaisir de Merle Cabernet Sauvignon 2005 ‘n silwermedalje gegee. Maar, het die voorsitter van die Decanter-kompetisie, Steven Spurrier, gesê "... om ‘n silwermedalje in die Decanter World Wine Awards te wen, is gelykstaande aan ‘n goue medalje by ander kompetisies"! ‘n Groot uitspraak van hierdie gerespekteerde wynmediahandelsmerk, wat meer as vyf miljoen lesers bereik.

Op die derde Wine & Spirits Asia, wat in Singapoer gehou is, is meer as 500 inskrywings deur invloedryke kenners in die bedryf beoordeel en was Plaisir de Merle se Cabernet Sauvignon 2005 een van slegs twee inskrywings uit Suid-Afrika wat ‘n silwermedalje gewen het uit altesaam 38 silwer-toekennings.

Die jongste nuus is dat hierdie besonderse Plaisir de Merle Cabernet Sauvignon 2005 ‘n silwermedalje gewen het op die 4de Mundusvini International Wine Awards in Duitsland gewen, ook een van die grootste erkende wynkompetisies in die wêreld met 5 343 inskrywings.

Plaisir de Merle se keldermeester, Niel Bester, het nog altyd gesê dat hy "daarvan hou om wyne te maak wat internasionaal aanvaarbaar sal wees". Die prestasies van sy Plaisir de Merle Cabernet Sauvignon 2005 is voldoende bewys dat hulle nie net aanvaarbaar is nie, maar ook wenners.