Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Ongepubliseerde skrywers

AHM SCHOLTZ


2008-11-14


Gebore en getoë

Verdere studie en werk
Publikasies
Keur van biografiese artikels oor A.H.M. Scholtz beskikbaar op die internet 


Gebore en getoë


Andrew Henry Martin Scholtz is op 28 Julie 1923 in Kimberley gebore, die oudste van tien kinders. Sy ma was ’n “huismoeder”, soos hy self sê, en sy pa was ’n tuig- en saalmaker. Andrew slaag sy standerd vyf aan die Beaconsfield Coloured School in Kimberley, maar moet die skool verlaat om te gaan werk nadat sy pa sy heup gebreek het en bedlêend was. Sy ma kry vir hom werk by sy oom as ’n skrynwerkersleerling.

Terug na bo

Verdere studie en werk

Armoede en nood dwing Andrew om hom in Oktober 1940 by die leër aan te sluit. Hy gee voor hy is 21, al is hy net 17. As vereiste om by die Kaapse Korps aan te sluit, moet hy ’n rybewys hê. Hy het egter nie een nie en sluit dus by die Artillerie-eenheid aan. Hier word hy as ‘n blanke aanvaar en hy doen dit “om my familie te laat eet, nie om ’n witman te wees nie”. Hierdie ervaring het ’n blywende indruk op hom gelaat: die ding van soldaat wees in ’n wit bataljon. Hy moes die geheim vir vyf jaar saam met hom dra en sy masker kon nooit afglip nie. Na vyf jaar keer hy terug – te laat vir sy pa se afsterwe en nadat hy in Kenia, Ethiopië en Egipte geveg het en na twintig maande as krygsgevangene in die noorde van Italië voordat hy ontsnap.

Op 12 Junie 1948 trou Andrew en Gazina Ortell, die moeder van sy twaalf kinders, in die hof in Kimberley. Ontnugter deur die nuwe bestel, val hy terug op sy ambag wat hy as jongman aangeleer het. Hy werk vir ‘n ruk as skrynwerker en bouer in Swaziland en later ook in Botswana en vestig hom daarna as bou-aannemer in Mafikeng. As gevolg van die apartheidswetgewing kan hy nie sy lewenslange ideaal om ’n beesplaas te besit, verwesenlik nie – al kan hy teen hierdie tyd vir hom ‘n Bosveldplaas kontant aanskaf.

Eers nadat hy afgetree het, ná ’n leeftyd van harde werk in sy ruim en selfgeboude huis, kan hy hom wy aan die dinge van die gees – ’n diep godsdienstige instelling wat sy skryfwerk gevoed het en dit gesuiwer het van bitterheid. Sy skryfwerk is deurspoel met erbarming en geduld met menslike swakheid en dit verklaar die aanklank wat sy werk by so ’n wye spektrum mense gevind het.

In 1995 debuteer Andrew op 75-jarige ouderdom met sy debuutroman, Vatmaar: ’n lewendagge verhaal van ’n tyd wat nie meer is nie. Alhoewel die roman ’n Afrikaanse siel het, skryf hy dit aanvanklik in Engels in netjiese, volgeskryfde skoolkladboeke voordat sy dogter dit oortik. Vir drie jaar werk hy aan die storie voordat hy dit na David Philip in Kaapstad stuur, wat dit toe na Kwela Boeke stuur, omdat dit nie in Engels werk nie. Kwela Boeke is toe pas gestig met die doel om nuwe talent te ontdek, te identifiseer en te ontgin. "Annarie van der Merwe van Kwela Boeke sê toe 'Dis ’n Afrikaanse storie, man, ons maak dit Afrikaans.’ Wat's sy naam, Wium van Rensburg, nee Wium van Zyl, hy’t dit oorgetolk. Toe hy klaar is, stuur hulle dit aan my, en toe’t ek nou veranderinge gemaak, want sy Afrikaans is ’n bietjie te hoog. Jy weet, hy sê ’n vrou se dy; ek weet nie wat’s ’n dy nie, dis ’n boud. Ons sê ook nie wildheid nie, maar praat van wildigheid. Die’t ek dan verander. Want dis Afrikaans met ’n difference. Dis gaat eerder as gaan.” Annari getuig ook dat Vatmaar dié boek is wat in haar loopbaan as uitgewer bo alle ander boeke uitstaan.

Andrew vertel self dat Vatmaar geskep is uit stories wat hy by sy ouma gehoor het en sy kennis van die mense van die outyd, toe mense “met liefde gelewe het en dit nie ’n skande was om met ’n gelapte broek te loop nie".

Jakes Gerwel noem die boek “’n merkwaardige letterkundige gebeurtenis”. En hy is nie al een wat so dink nie, want in 1996 loop Vatmaar weg met die Eugène Marais-prys, die M-Net-prys en die CNA-Debuutprys – voorwaar ’n merkwaardige prestasie vir ’n debuutroman. Vatmaar word ook vertaal in Nederlands deur Riet de Jong-Goossens en hierdie Nederlandse uitgawe beleef ’n tweede en derde druk. Dit word in Duits vertaal deur Arnold Blumer en die Engelse vertaling is deur Chris van Wyk behartig. In 2002 verwerk die bekende regisseur Janice Honeyman die roman vir die verhoog en première dit met groot welslae in die Oude Libertas Amfiteater op Stellenbosch voordat dit ook by die KKNK en in die Baxter- en die Staatsteater op die planke gebring word.

Intussen sit Andrew nie stil nie en nog twee boeke vloei uit sy pen voort. In 1996 verskyn Langsaan die vuur: vyf lewensverhale, wat verhale bevat wat deurspek is met eg Suid-Afrikaanse pyn en lyding, en in 1998 word Afdraai: ’n kroniek van seermaak en seerkry, van vrede en verandering gepubliseer. Laasgenoemde, wat hy ’n roman van versoening noem, se aanvanklike titel was Tapisserie en dit handel oor die Anglo-Boereoorlog en sy na-oes. Andrew skryf ook gedigte, maar dit is nooit gepubliseer nie.

In 2002 vereer die Afrikaanse Skrywersvereniging vir Andrew deur die Patrick Petersen-gedenkprys aan hom toe te ken. Rudi Daniels onthou dat die ASV dit gedoen het omdat Andrew deur sy werk gestalte gegee het aan ’n belangrike doelstelling van die organisasie, naamlik "om die stories te vertel van mense wat andersins nie vertel sou word nie; om gesig te gee aan die gesigloses; en om stem te gee aan die stemloses”.

Op 17 November 2004 sterf Andrew Scholtz aan akute asma nadat hy die laaste twee maande van sy lewe ook blind was. Maar hy sal altyd onthou word vir Vatmaar.

Terug na bo

Publikasies:

 

 

 

Terug na bo

Keur van biografiese artikels oor A.H.M. Scholtz beskikbaar op die internet 

Terug na bo


 



Bygewerk: 2008-11-10
Inligting verouderd/onvolledig? Stuur 'n e-pos aan album@litnet.co.za