Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Ongepubliseerde skrywers

Nine to five ...


2008-11-14

Dis nie aldag maklik om ‘n ma te wees nie.

Dis ook nie aldag maklik om ‘n getroude vrou te wees nie.

Dis nóg minder maklik om beide die bogenoemde te wees, én te werk.
Nine to five.

Vergeet van die feit dat jy ook die rol van kollega, vriendin, dogter, ousus, buurvrou, kok, kliënt, pasiënt, diplomaat, vrederegter, troeteldier-versorger, mevrou-diaken, skottelgoedwasser, skoolbrood-pakker en wat-nog-als moet speel. Nine to five.

Dis eintlik ‘n konsert.

Die hele lewe is eintlik ‘n konsert - my vriendin sê altyd so.

‘n Free spirit-konsert, waarin jy kan besluit wanneer jy voorkeur aan watter rol wil gee, want dis nie asof jy net een op ‘n slag mag wees nie. Jy is almal gelyk.
Nine to five.

Jy kom ongeveer vyf namiddag by die huis, emosioneel gedreineer van die rowwe dag by die kantoor en jou rol van kollega-wees. Die hond loop jou storm, stamp jou van jou PEP-ontwerpershakke af. Sy soek aandag - die kinders het heeldag TV games gespeel. Die katte kom skuur aan jou sykouse. Hulle is honger - die "huishoudster" het vergeet om katkos op die inkopielys te skryf.

En as jy aan die veiligheidshek raak ... In plaas van ‘n "Mamma! Ons is so bly om jou te sien!", is daar drie hooligans wat elkeen sy storie eerste wil vertel en baklei oor wie die hek moet oopsluit.

Op pad deur die huis na die kombuis val jy jou amper besimpeld, want die katte soek nog steeds kos; jou jongste rem aan jou handsak om te kyk of jy swiets gebring het; jou oudste vertel dramaties dat hy wel sy huiswerk gedoen het, al gaan hy nie so vlot kan lees nie (want Mamma, dis ‘n nuwe boek!); en die middelste begin luidkeels te gil met trane wat die wit teëls vol spat, want jy het "asipris" op haar voet getrap!

Dan sak jou moed reeds laag af in jou skoene! Baie laag.

Jy weet, dit gaan ‘n besonderse lang aand wees.

Dan doen jy een van twee dinge.

Jy probeer alles ignoreer, die gejil en gegil, totdat jy dit nie meer kan vat nie, en dan skree jy ... hard! (Soms vloek jy.)

Of jy skree sommer van die begin af (die ignoreer-gedeelte mors soms net tyd).

Dan skrik almal so groot dat hulle vinnig, in-hul-eer-gekrenk en blou ogies vol trane, na hul kamers verdwyn, die hond druipstert by die huis uithardloop, jou huishoudster besig raak met die strykgoed van môre ... Dis net jou jongste wat nog steeds in jou handsak na swiets soek - en o ja, die katte wat jou van ‘n koninklike hoogte af aanstaar: Wanneer kry ons kos?

Al wat dan nog moet gebeur, is dat die foon moet lui en dit een of ander finansiële instansie is wat namens ‘n welbekende klerewinkel bel om te vra wanneer jy jou agterstallige rekening gaan betaal. Dan vertolk jy vinnig die rol van Bits-wees.

En na al dié drama besluit jy: "Te hel met die lamsnek in die oond!" Spaghetti bolognaise is ‘n baie vinniger opsie (en jy gee nie om dat dit nou nie juis jou man se gunsteling is nie).

Pappa kom by die huis, fluit-fluit, heel gelukkig met sy lewe. Glad nie gedreineer van spanning by die werk nie. Glad nie omgeëllie met die kinders wat hom met erge entoesiasme vasgryp en vasklou nie (die arme bloedjies, hulle ma het hulle verskree!), of die hond wat aandag soek, of die katte wat miaau-end honger is nie.

En terwyl jy diep terneergedruk voor die stoof staan (omdat jy gefaal het in jou rol van ma-wees) en probeer om die spaghetti van mekaar af los te kry (jy hét genoeg olyfolie ingegooi!), groet Manlief jou met ‘n betekenisvolle drukkie en soen in jou nek ... en jy weet ... vanaand vertolk jy die rol van vrou-wees (sug!).

Jy gaan maak die katte se kosbakke vol (met hondekos!) - hulle is eintlik so dierbaar - vergete die feit dat jou sykouse geleer is.

Jy vryf die hond in die verbygaan - sy het darem al een keer vir die buurman geblaf (hoewel nie vir die inbrekers toe sy moes nie!) - vergete die feit dat jou enkel vroeër geswik het op die ontwerpershakke.

Jy gaan klop aan jou middelste se kamerdeur, vee die trane af en sê "sorry" omdat jy op haar voet getrap het - dit moes damn seer gewees het - en sê dat jy dit nie "asipris" bedoel het nie.

Jy gaan gee jou grootseun ‘n drukkie en sê hy moet vir jou kom lees uit sy nuwe leesboek - jy kan nie wag om die storie te hoor nie.

En verby die lekkergoedrak ruk jy ‘n stokkielekker uit die laai, gooi dit vinnig in jou handsak en haal dit met groot fanfare uit en wys dit vir jou jongste - en die ogies glinster: Mamma hét swieties gebring!

Jy gaan laai jou huishoudster by die taxi-rank af en gee ‘n ekstra tien rand om ‘n ietsie mee te koop vir haar vierjarige seuntjie.

En op pad terug van die mall af huil jy oor jou mislukkings en dat jy nie die script van jou rol as ma goed genoeg bestudeer het nie.

En toe die kinders se Bybelstories gelees is, almal gepiepie en getandeborsel is en hulle onder Barney, Aristocats en High School Musical aan die slaap raak, gaan sit jy langs Manlief op jou ma se blou stoele, neem ‘n diep teug van jou rooiwyn, haal diep asem ... en sê "Dankie!"

En jy weet nie juis hoekom jy dit sê nie.

Miskien omdat Manlief vanaand die rolle van kos-opskepper, borde-uitspoeler en skoolsak-pakker vertolk het.

En jy sug ... omdat jy meestal nie omgee om al die rolle gelyk te vertolk nie. Nine to five.

Maar omdat alles vanaand net te veel geraak het ... Omdat die kinders, hond én die katte slaap en die huis rustig is en jy nog met ‘n mengelmoes van emosies sit!
Omdat jy kan chill, maar nie noodwendig kan afskakel nie.

En dan lui die foon, Manlief antwoord, dis jou Kleinsus ... het behoefte om te praat, want ‘n vriendin het haar gevoelens seergemaak ... en jy neem dadelik die rol oor van Ousus, want jy is dit: Ousus, nine to five. En jy gee nie om nie.

‘n Ander vriendin sê: "It's not nine to five, it's eight to five!", maar ek verkies om in my droomwêreld te bly leef ... met Dolly Parton se stem in my ore ... en ek hou vir myself ‘n strip show in die badkamer voor die vollengte-spieël - selluliet en rekmerkte of te not! - op die maat van die musiek! Want ek kán alles wees, ek wíl alles wees, en ek sal môreaand met ‘n goeie gemoed huiswaarts keer.

Nine to five.

Tot volgende keer!