Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Artikels | Features

Die perfekte kelner


Hennie Aucamp - 2008-11-12

 

St Peter's Basilica was built only because Cavalieri's "beautiful lips" requested it. - Anthony Heilbut, Thomas Mann: Eros and Literature

As it is, in three days I won't see the boy anymore, will forget his face. But not the experience of my heart. He will join that gallery about which no literary history will speak. - Thomas Mann, Diary, July 11, 1950


Daar is sekere gestaltes en figure binne die wêreld van die homoërotiek wat oor die jare, en selfs oor eeue heen, iets argetipies gekry het, soos die soldaat, die matroos, die demoniese minnaar ("demon lover"), die ewige sigeuner, die stiervegter, die stuwadoor, die sjarmante vertroueswendelaar.

In hierdie flambojante stoet sal "die perfekte kelner" nie onmiddellik opval nie, al het hy sy eie uniform, want "selfuitwissing", onopvallend wees, is deel van die rigiede opleiding van 'n kelner. Dié soort is 'n spesie wat aan die uitsterf is, maar was 'n werklikheid in die hotel- en restaurantkultuur van die Europa van voor en tussen die twee Wêreldoorloë van die twintigste eeu, en het ook die literatuur bevolk, onder andere dié van Thomas Mann.

In 'n besondere kategorie is die hotelle en restaurante van spa's en kuuroorde, soms hoog in die Switserse Alpe, en dikwels digby 'n meer. Dit is presies die milieu wat die Alsassiese skrywer Alain Claude Sulzer vir sy kunssinnige novelle Ein Perfekter Kellner (A Perfect Waiter) gekies het. (Sulzer het talle kortverhale en drie romans geskryf, maar Ein Perfekter Kellner (2004) is die enigste werk van hom wat tot dusver in Engels vertaal is.)

Dit is 'n versoeking om die woord elegant te ooreis wat A Perfect Waiter betref. Eerstens is daar die aristokratiese prosa van Sulzer, wat mooi behoue gebly het in die toegewyde vertaling van John Brownjohn, en dan is daar die uitleg en tipografie van A Perfect Waiter, met alle lof aan Bloomsbury. Die skutblaaie toon 'n foto van die eetkamer van 'n hotel met hoë plafonne, kroonlugters, gedrapeerde gordyne en vensters wat op tuine uitkyk. Die stoele en tafels is in die Neo-Biedermeier-styl, en oor die tafels is damas. Die gestyfde servette staan tussen kristalglas.

Die font van A Perfect Waiter - lieflike, leesbare font - is in 1914 ontwerp vir die Metropolitan Museum of New York, maar is nou kennelik algemeen beskikbaar.

Dit mag klink of dié resensent 'n bietjie aangaan en aangaan, maar styl is 'n sleutelbegrip in A Perfect Waiter; styl in die presentasie en bediening van kos, styl in die omgang tussen mense, volgens die sosiale norme van 'n verbygegane era.

Demokratisering het 'n donker onderkant. Dit ondermyn styl met 'n "aristokratiese" tenuur, want "the times they are a-changin'." In 'n onlangse TV-dokumentêr, Vanishing England, het die Lyon's Corner Houses (teedrink-venues) onder die loep gekom. Meisies wat in die dertiger en veertigerjare van die vorige eeu met sorg gekies en opgelei is as kelnerinne in teehuise, het vandag talle ander, en meer lukratiewe loopbaankeuses. Hoekom sal meisies en vroue iesegrimmige en aftandse snobs bedien terwyl beter geld makliker te verdien is? Die Lyon's Corner Houses word die een na die ander deur McDonald's-eethuise vervang.

Die hotelkelner bestaan nog, en hou hom aan die reëls en etiket van sy vak, maar sonder die slaafsheid van 'n vorige geslag kelners. Hy is hom in toenemende mate bewus van sy regte as mens.

Die eietydse kelnerbedryf het miskien nie meer die stut van tradisie en kontinuïteit nie. Talle kelners is byvoorbeeld seisoenarbeiders, soos studente wat vir studiegeld spaar en op fooitjies reken.

Maar in een opsig - en dit leer die leser vroeg in A Perfect Waiter - het die kelnerbedryf nie verander nie. Die kelner is (dis nou as hy nog jonk is) bewus van sy lyfwaarde, en kan iets ekstra tussen die lakens verdien by 'n ouer meneer of mevrou.

Erneste, die sleutelfiguur in A Perfect Waiter, het vroeg in sy loopbaan as kelner 'n Belgiese edelman in die Restaurant am Berg in sy kamer ontvang. Wat hy later van dié ontmoetings onthou het, is die gewig van die edelman, en sy melancholie. Die wêreldwysheid van kelners, so bekend uit die letterkunde, het sekerlik met hul afstandelikheid te maak: hulle is waarnemers van die lewe, nie noodwendig deelnemers nie. Hul werksetiek marginaliseer hulle. Erneste se Belgiese edelman stort 'n paar trane wanneer hy afskeid neem van Erneste, maar Erneste bejeën dit nie alte ernstig nie: "He saw the man weep, nothing more, treating himself to nostalgia like the ring on his finger and the eeau de Cologne on his skin. He couldn't regain his youth as he might have recouped a dud investment; he could only buy its semblance for a while - in this case, through the medium of a young man named Erneste."

Erneste is wel die sleutelfiguur in die novelle, maar hy is lank nie so interessant soos sy twee teenspelers, Jakob Meier en die groot Duitse skrywer Julius Klinger, nie. Erneste is in een opsig wat sy naam sê: ernstig omtrent sy vak, dié van kelner. Maar diepsinnig is hy nie. Hy praat vier, vyf tale vlot, soos van 'n kelner by 'n kosmopolitiese hotel soos die Grand verwag word, maar hy lees nie juis nie. Hy het sy benouende ouerhuis verlaat, en nooit weer teruggekeer daarna nie, ook nie vir die begrafnisse van sy ouers nie. Hy voel veilig en vry binne sy roetinebestaan; hy is iemand binne die eng parameters van sy kelnerbestaan.

Jakob Meier is 'n aantreklike en lewendige leerling-kelner wat Erneste se "bediende"-kamertjie met hom deel. Van die subtielste erotiese tonele in A Perfect Waiter is waar jong Jakob gemeet word vir verstellings van 'n ou uniform, want hy het vinnig opgang gemaak binne die kelner-hiërargie, en Erneste het hom na die hotel se eie couturière geneem. Frau Adamowicz het haar taak afgetrokke maar presies uitgevoer, en haar naaldwerksters het met neergeslane oë voortgegaan met hul werk. Die intimiteit van die meet-toneel is iets wat net die twee mans ervaar en deel. Frau Adamowicz trek die maatband om Jakob se middel, sy heupe en sy boude, voordat sy kniel en beveel: "Sprei jou bene."

Erneste en Jakob Meier word minnaars, maar dis Jakob wat die inisiatief neem en Erneste in die buitelug soen, wat gevaarlik is, want om betrap te word kon onmiddellike ontslag vir beide beteken het.

Die gelukkigste weke van Erneste se lewe volg. Jakob is 'n gulhartige bedmaat, en soms moet die twee minnaars begin werk na slegs drie uur slaap.

Maar dan is daar 'n groteske parodie van die meet-toneel met Frau Adamowicz. Erneste betrap Jakob met die middeljarige Julius Klinger; Klinger staan regop terwyl Jakob voor hom kniel in die klein dakkamertjie van die verliefdes. Skielik weet Erneste waar die vyffrankstuk onder Jakob se kussing vandaan gekom het. Vyf frank was baie vir destyds, maar Klinger se vergoeding het ook 'n sosiopolitieke implikasie: die kliënt is in beheer; hy besluit wat sy seksmaat werd is en wat die sekstegniek vir die geleentheid gaan wees.

Die vroeë dertigerjare van die vorige eeu was onstuimig, en ook in Switserland het oorloggerugte vanuit Duitsland gekom. Jakob het geweet dat hy deur die Wehrmacht opgeroep gaan word, maar genadiglik het Julius Klinger verslaaf geraak aan Jakob. Jakob vertrek saam met Klinger en sy gesin en huishoudster na Amerika, en dis eers dertig jaar later dat Erneste weer van Jakob hoor, by wyse van twee noodbriewe uit Amerika. Jakob het geld nodig, en Klinger het hom in Switserland hervestig, naby Erneste. Sal Erneste met Klinger gaan praat?

Dit sou wreed teenoor die leser wees om die boeiende afloop van A Perfect Waiter te verklap. Wil hierdie leser 'n paar van die intertekstuele grepe in A Perfect Waiter met voornemende lesers deel.

Daar kan nie met stelligheid gesê word dat Julius Klinger op Thomas Mann gebaseer is nie, maar eweneens is die raakpunte tussen Thomas Mann en Klinger te markant om toevallig te wees. Klinger se vrou bly op die agtergrond, maar weet veel meer van haar man en kinders se privaatlewens as wat hulle vermoed, en in dié opsig eggo mevrou Klinger Thomas Mann se vrou Katia. Die twee vreemde kinders van Klinger het iets van die dekadensie van Erika en Klaus Mann, en die jong Maxi pleeg selfmoord in Amerika, nes Klaus Mann gedoen het.

Klinger - en dis 'n prestasie - klink presies net soos Mann, intellektueel, ernstig, effens pedanties. Die skrywer Sulzer se herskepping van Klinger se twee lang gesprekke met Erneste is 'n kragtoer.

Maar belangrikste van al die getuienisse: Thomas Mann is óók deur jong kelners betower. Veral in die pylvak van sy lewe.

Anthony Heilbut neem geen blad voor sy wond omtrent Thomas Mann se homoseksualiteit in sy boeiende studie Thomas Mann: Eros and Literature nie, en Mann se fiksasie met mooi jong kelners word openlik bespreek. Daar is selfs 'n foto van Franz Westermeier, Mann se laaste kelner, uit die jaar 1950. Beide Katia en Erika Mann was bewus van Thomas Mann se dolverliefdheid, en het dit so gereël dat Thomas Mann na Switserland kon gaan net om Franz nog 'n slag te sien.

Daar was geen seks tussen Mann en sy kelners nie; selfs nie aanraking nie. Hulle was vir Mann bloot 'n laaste aanblik van die Ewige Skoonheid, op pad na sy eie dood.

Laat geen burgerlike sede-apostel dit waag om Thomas Mann 'n "dirty old man" te noem nie. Die skoonheid van Franz Westermeier was die aanleiding tot een van Mann se groot laaste essays, "Die Erotik Michelangelos", waarin hy Michelangelo aanhaal: "La forza d'un bel viso."

Nou is dit juis "La forza d'un bel viso" wat Aschenbach agter Tadzio laat aanloop in Der Tod in Venedig; en dis die skoonheid van 'n Switserse kelner wat Mann tot 'n magtige skeppingsdaad voer. Ein Perfekter Kellner van Alain Claude Sulzer is 'n náklank, maar terselfdertyd 'n huldeblyk aan Thomas Mann se meesterlike novelle Der Tod in Venedig.

En Sulzer se novelle het, soos dié van Mann, sy eie musiek, sy "klankbaan", sy temalied. Al Erneste se verlange na 'n kort, goue seisoen in die paradys trek saam in Adolphe Charles Adam se komiese opera Der Postillon van Lonjumeau; telkens 'n aanhaling daaruit, dwarsdeur Sulzer se novelle, tot die leser gereed is vir die bittersoetheid van die volgende reël: "Et alors voilà qu'un soir il est parti, le Postillon de Lonjumeau."

Maar 'n trooswoord is daar ook ten slotte: Jakob het waarskynlik alles bedoel wat hy aan Erneste gesê het, al was hulle romanse wel so kortstondig.


Verwysings
Heilbut, Anthony. 1995. Thomas Mann: Eros and Literature. Londen: Papermac.

Keller, Harald (red.). 1975. Michelangelo Zeichnungen und Dichtungen, met die essay "Die Erotik Michaelangelos" van Thomas Mann as Nawoord. Frankfurt am Main: Insel Verlag.


Diskografie
Daar bestaan Duitse en Franse weergawes van die opera Die postiljon van Lonjumeau van Adam. Erneste het in die buiteseisoen in Parys gewerk en mag daar kennis geneem het van die Franse weergawe. Twee spelvorme van postiljon kom voor in Frans en Duits: Postillon en Postillion. Die opname "Freunde, vernehmet die Geschichte" uit Der Postillion von Lonjumeau, gesing deur Helge Roswaenge, is in Mei 1936 opgeneem in Berlyn, en het 'n versamelitem geword, omdat dit glo die hoogste noot bevat wat deur 'n man gesing is, net deuskant falsetto.

(Kyk elpee Helge Roswaenge, Unvergänglich, Unvergessen Folge 18; Electrola EGW 11-8345.)