Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Reis | Travel > Artikels | Features

Kratzenstein by weersiens


Johann de Jager - 2008-11-10

(Weersiens was ook al 20 jaar gelede in 1988)

Hier lê 'n dynserige blou lug, yl, asof uit 'n waterverfkwassie ingevloei, oor Kratzenstein, waar die sending se klok vandag, na jare, in weersiens, voortlui; soos gewis op alle Sondae sedert my vertrek, bengelend die lui-loom vreedsaamheid van gees waar optoggangers in sektegewaad ry op eselsrûe en eselskarretjies, te voet loop, hul fietse stoot wanneer hul die stoet inhaal onderweg na die klokgelui; integreer, saam hosanna sing op die stofpad, soos 'n sonwarm okergeel pastelstreep, dik onder die blouseltinte ingesmeer. Dit is die dag van die Here, nie slegs 'n uur vir Hom op Sondag nie.

En by 'n tweestam, digte skaduboom - manhoogte kaalgevreet deur bok en bees - sit 'n appel- en lietsjieverkoper. Die vrugte is goedkoop, maar drinkwater skink sy gratis uit 'n tros kalbasse wat in makramé-grastoue toegevleg langs haar aan 'n tak in diep groen koelte hang. Glimlaggend skink sy die helder evangeliemetafoor oor in kleiner, van bo na onder deurgesnyde helftes drinkkalbassies soos die syfer agt, wat ook as boepenslepels diens kan doen, die groter konkaaf, om die lewende vog te ontvang, en die kleiner halfrond kop, net 'n lekker vatknop in die vuis, om as handvatsel te dien.

Ek neem 'n foto, koop lietsjies vir die pad, en sê die verkoopster moet maar die kleingeld vir haar vat, en die dankofferkoevertjie asseblief vir die kerkmense gaan gee ...