Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Kos & Wyn | Food & Wine > LitNet Virtuele Wyngemeenskap > Wynforum

Waarde gee deurslag in uitvoermarkte


Johann H Crafford - 2008-11-07

Daardie Suid-Afrikaanse produsente wat die beste waarde bied, sal ook die meeste baat by die huidige onsekerheid in internasionale markte en die beduidende verswakking van die rand.

Só glo Jacques Jordaan, bemarkingshoof van die Du Toitskloof-wynmakery in die Breedekloof. Die kelder se uitvoer het die afgelope twee jaar meer as tienvoudig toegeneem en maak nou meer as 30 persent van sy totale bottelwynverkope uit.

"Hoewel die waarde van alle geldeenhede weens die ekonomiese krisis gedaal het, het die rand verder teruggesak as die geldeenhede van die ander groot wynuitvoerlande van die Nuwe Wêreld. Terwyl die rand op huidige vlakke bly, sal Suid-Afrikaanse produsente dus ʼn prysvoordeel geniet.

"ʼn Mens moet egter ook in gedagte hou dat die huidige krisis die besteebare inkomste van verbruikers in uitvoermarkte grootliks verlaag het. Dit het hulle nie net versigtiger gemaak oor hoe hulle geld bestee nie, maar noodgedwonge ook meer prysbewus. Dit is daarom die produsente wat die beste waarde bied wat die beste sal vaar.

"Dit is nodig om hier by verbruikers te onderskei tussen tevrede wees met wyne van ʼn swakker gehalte en om meer veeleisend te wees in terme van die waarde wat jou geld koop. Laasgenoemde is wat aan die gebeur is in al die vernaamste markte waarin ons bedrywig is. Ek glo meer nog as in die verlede dat Suid-Afrikaanse produsente die tyd moet gebruik om hul handelsmerke voluit te bou in stede daarvan om hulle te verlaat op grootmaatuitvoer om op kort termyn die maksimum-voordeel uit die swakker rand te probeer haal," het Jordaan gesê.

"Ons moet aanvaar dat die prysvoordeel wat ons nou geniet, van betreklik korte duur gaan wees. Die swakker rand gaan mettertyd plaaslike produsente se insetkoste beduidend verhoog. Daarby is dit naïef om te meen dat wynprodusente in ander lande agteroor sal sit en niks sal doen nie. Ons moet verwag dat hulle pryse sal verlaag om voor die nuwe oes soveel moontlik van hul bestaande voorraad te skuif. Ons sal dus die bietjie tyd tot ons beskikking tot die uiterste toe moet benut om ʼn sterker vastrapplek vir ons handelsmerke te kry."

Jordaan, wat as lid van die Suid-Afrikaanse Diplomatieke Diens tien jaar in die VSA deurgebring het, het gesê Du Toitskloof se uitvoer groei tans teen ʼn vinniger tempo as ooit in die verlede. "Ons wyne vind toenemende aanvaarding in markte so uiteenlopend as dié van Brasilië, Kenia, Korea en Rusland. Die feit dat ons die afgelope vyf jaar drie keer aangewys is as die Suid-Afrikaanse kelder wat die beste waarde bied, dien vir ons as ʼn geweldig sterk bemarkingsboodskap in die markte wat ons bedien," het hy gesê.