Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Gepubliseerde skrywers

Stompie


Henning Janse van Vuuren - 2008-10-30

Ek maak eers ‘n U-draai en parkeer dan aan die oorkant van die straat. Eerste Straat 57 lê byna teen die treinspoor. Die straat is stil, behalwe vir die bruin, brandmaer brakkie wat op ‘n jakkalsdraffie koers kry spoor se kant toe. Die mense hier praat van die "verkeerde kant". Ek klap die bakkie se deur toe en merk dan tog ‘n fladdering in die kantgordyn by 59.

Vir ‘n oomblik staan ek stil, soos ek altyd maak, om ‘n gevoel vir die plek te kry. Die draad aan die spoorwegkant is verrinneweer, vol gate en plek-plek met minagting platgetrap. Al die spoorweghuise loop soos die rooi blokkieshuisies uit ‘n Monopoly-boks oorkant uitgepak. In die verte draf basterbrak nou teen die heuweltjie op, snuif aan die spoor, kyk een maal om en slaan ‘n onbekende rigting in.

By 57 roer iets. Ek sit my pet op, vat een maal aan die kolf van my pistool en stap op die silwer-grys hekkie af. Op die stoep, tussen die twee pilare, merk ek die logge figuur van mevrou Buys. Die hek se knip is af en word met ‘n stuk bloudraad aan die stutpaal vasgeprakseer. In my regterhand hou ek die dossier van Hendrik Johannes Buys vas. Daar is geen verdagte nie, my besoek is bloot roetine op instruksie van die kaptein. Ek kry nie die draad losgedraai met my linkerhand nie en verskuif die lêer onder my arm in. Die verdomde draad skraap my palm en onmiddellik wel fyn druppeltjies bloed deur die vel. Bliksems! Wetters! Onder die skadu van die stoep staan mevrou Buys uitdrukkingloos. Ek buk en sit die bruin dossier op die grond om beide hande te kan gebruik. Die swart gedierte verskyn vanuit nêrens en hardloop met ‘n siddering teen die hekkie vas, sy voorpote bo-oor, terwyl die warm, stank-asem oorweldigend met die oorverdowende geblaf vermeng en my soos ‘n vloedgolf byna van my voete ruk. Ek gryp instinktief na die pistool aan my sy, maar die bloudraad hou wonderbaarlik.

Mevrou Buys hou die petalje eers roerloos dop voor sy in een beweging van die stoep waggel, klippe uit ‘n blombak langs die pilaar skep en dit kragtig in die rigting van die hond slinger. "Rex! Rex! Agtertoe! Agtertoe!" Sy stoomroller nader en die hond gee ‘n ent pad, grommend, sy tande nog dreigende ivoorsabels oor sy onderlip. "Meisie, Meisie!" roep sy dan binnetoe, na wat meer na ‘n bevel klink. Op die stoep verskyn ‘n jong vrou. Haar roesbruin hare hang los oor haar slanke skouers en in haar hand hou sy ‘n slapbandstorieboek vas.

Sy kyk eers na mevrou Buys, wat nou sowat twee meter - hande op die sye - voor my staan, na die knorrende hond - hare rysend oor sy hele rug - en dan na my en die polisiebakkie voor in die straat.

Ek tel die dossier op, my hand bewerig. Poot. Ek kyk na beide. Nie ‘n sweempie bewys dat iemand iets gesê het nie.

"Meisie, vat daai hond agtertoe. Sit hom weer aan sy ketting. Gee vir hom ‘n been," blaf sy kortaf. "Voertsek, agtertoe, voertsek!" Die hond gebied teësinnig en dan wend sy haar tot my: "Stompie het net so gesukkel met die hek, konstabel." Sy stap nader en draai die draad sonder inspanning van die paal los.

"Inspekteur," korrigeer ek.

"Wat?" vra sy. Voor ek kan antwoord, stap ‘n ouerige man langsaan by 59 van die stoep af. Sy stop en staan. Ek loop by die erfie, veels te klein vir so reusehond, in en druk die lendelam hekkie weer in plek. Met haar oë stip op die ou man gerig, maak ek die knip van my pistool los.

"Piet?"

Hy loop langsaam, soos ‘n reier soekend na vis, na die kraan, waar hy ‘n tuinslang onhandig optel en oopdraai, sy oë voor op die grond, dan effentjies gelig. Loerend, uit die hoeke, nooit direk nie.

"Daar is waterbeperkings, Piet. Ek sal die municipality bel. Nuuskierige ou vreksel!" Sy lig ‘n dreigende arm sidderend in sy rigting. "Los hom," sê sy; "los hom. Kom op. Kom sit hier op die stoep dat Meisie vir ons tee maak."

"Meisie! Meisie! Tee!" bulder sy. Piet het ondertussen tog besluit om hom uit die voete te maak. Sy kreun op ‘n plastiekstoel neer. Ek trek die tafeltjie nader sodat ek die verklaring kan neem.

"Mevrou, ja, ek is jammer oor Hendrik se ..."

"Sorry, jy het nie dalk vir my ‘n sigaret nie?" onderbreek sy, haar oë vraend.

"Um, nee, ek rook nie." Sy vervolg onmiddellik: "Snaaks, al julle poeliesmanne rook mos. Wat sal die polisie in elk geval nou hier kom soek? Hy het selfmoord gepleeg. Almal kon dit sien. Dit is waar Meisie hom gekry het, aan sy pelmet het hy hom opgehang, snaaks dat julle hier is. Dink julle dalk hy is vermoor? Deur wie nogal? Wie sou my kind so wil vermoor?" Sy verskuif die stoel.

"Ek moet ‘n verklaring neem. Die Vervolgingsgesag, aanklaers, hulle moet besluit. Ons moet eers verklarings ..."

"Meisie, ‘n sigaret! Sigaret! Waar bly sy tog met daai tee? Wat?" Haar oë rol ‘n oomblik deur die tuintjie. "Ja, ou Stompie. Eintlik Hendrik Johannes Buys, nè. Presies op sy drie-en-twintigste verjaarsdag is hy dood nè. Op die kop. Aai tog, die kind van my darem. Wat ouers nie alles moet deurgaan vir hulle kinders nie." Sy vryf bewend met beide hande oor haar bobene.

Dit is ‘n oomblik stil daar op die Terracotta-stoepie met sy rooigeverfde pilare en wit plastiek-tuinstel. Ek maak die dossier oop en begin op ‘n skoon vel. Ek, die ondergetekende, ja ... Catharina Esther Buys, verklaar hiermee onder eed as volg ...

Meisie se voetval op die beton onderbreek my skrywery. Sy het nou ‘n stywe jean aan met ‘n T-hemp en ligte grimering. Die uiterlike uiterstes tussen die twee vroue is byna pynlik. Sy is baie mooi, maar die lewe hier het reeds sy spore gelos. Sy plaas vir elkeen ‘n koppie tee neer, met ‘n onbekende pakkie sigarette en vuurhoutjies, en steek vir haarself een op.

"Is dit oor Hendrik?" wil sy weet.

"Ja, toe. Gaan jy nou maar in. Ek en die konstabel is hier besig," word vir haar geknor. "Het jy al vir Rex kos gegee? Dit is seker al amper vieruur."

Ek kyk op my horlosie; dit is net so na drie. "Ek wil net jou verklaring ook kry voor ek ry. Dankie vir die tee."

"Vir wat wil jy met haar praat? Ek was mos hier, ek kan jou alles vertel. Sy is nog baie jonk, wat weet sy nou?" Weer skuur die handpalms wringend oor haar reuse-bobene.

Blote roetine, onthou ek kaptein Molomo se woorde.

"Goed, vertel my, Mevrou." Ek tel weer die pen op. Die tee het reeds suiker en melk in. Ek vermoed dit is iets soos Joko of Vyf Rose. Dis sleg.

"Wel, jy ken seker die storie met Stompie? Hoe my kind sy twee hande verloor het?" Sy hou haar hande voor haar in die lug. Ek het wel in die nadoodse verslag opgemerk dat die patoloog aandui dat die oorledene se twee hande by die polse geskei was, maar dat dit reeds jare terug moes gebeur het. "Hy het mos lankal terug agter hierdie blerrie meisiekind aangefoeter hier oor die treinspoor en toe gebeur die ongeluk. Trein se wiele oor al twee sy arms, morsaf. Dit was net ‘n godswonder dat die kind bly leef het." Sy kyk my verbaas aan. "Skryf jy nie?"

"Um, ja, dit is eintlik nie heeltemal relevant nie, maar kom ek maak tog ‘n paar notas." Ek notuleer kripties.

"Sê net vir my, Mevrou, um, is dit sy suster dié? Meisie?" wil ek weet.

"Nee, kyk, ek is mos vroeër getroud gewees met Hendrik, of Stompie, soos wat ek - of almal - hom toe later genoem het, se pa, nè. Die man het op die Spoorweg gewerk, maar hy is lankal terug ook dood. Jy sien, en dis toe wat ek jare later met Meisie se pa getroud is. Maar, hy was net ‘n sleg bliksem wat net hier wou sit en nie werk nie. Hoe kan ‘n man vir sy vrou kyk as hy net wil sit en suip by die huis. Nou, sy naam was Gerrit Vermaak. Meisie is eintlik Maria Klara Vermaak. Fancy naam wat sweet boggherol werd is." Sy trek haar gesig afkeurend. "Hendrik was myne, my eie. Toe kom die simpele meisiekind en foeter met sy kop." Sy tuur vir ‘n oomblik dwarsdeur my, tot ek haar realiteit weer binnesyfer.

"Maar, anyway, Stompie het gesond geword na daai storie. ‘n Jaar later, seker toe hy so twintig, nee, dit was nader aan sy twenty-first ... man, ons het toe ‘n lekker party hier gehad ... het hy werk by die bakkery gekry." Mevrou Buys druk die stompie oordadig in die koper-asbakkie dood. "Hy was so opgewonde om sy ma te kom vertel, hy het soos ‘n blerrie vrot vel hier gegly en geval. Daar het hy gelê." Sy beduie vlugtig met haar regterarm tuin se kant toe. Maar ek weet haar arm kan nie verder terugdraai nie, sy wil hier by die trappies wys. "Ek sweer, hy moes ... Meisie ..! Meisie..! Grampa's! Bring vir my twee Grampa's! ... Waaaar was ek? Hel, ek het nou ‘n hoofpyn, jy sal nie glo nie. Die kind van my kry toe werk om deeg te knie daar by die bakkery met daai twee stompies van hom."

Binne hoor ek voetstappe en ‘n kraan wat loop.

"Ek was so trots, darem kon hy toe vir sy ma kyk. Jy weet die ou spoorwegpensioentjie maak nie al die gate toe nie. Maar toe loop die storie dat Stompie deeg knie by die bakkery, en dat iets fout is met die brood, en dat mense siektes sal optel. My niggie Frieda het my self kom vertel van al hierdie goeters wat mense loop en rondvertel, skinnerstories, vieslike liegstories. Ek sweer voor die Here, ek maak die een vrek wat daai stories beginne het. Nou, dit was nie lank nie, toe moet ou Frik hom laat gaan, want hy verkoop nie meer nie, jy sien. En daar sit ek weer, waar ek was. Meisie! Meisie! Fok! Ug ... ek is jammer, dit is net hierdie hoofpyn. Die Grampa!"

Meisie verskyn weer op die stoep met ‘n glas water en die twee hoofpynpoeiers. Sy dra nou hoëhakskoene, swaar grimering en oordadige oorbelle. "Ek moet amper gaan werk," sê sy.

"Miskien kan ek jou sommer gaan aflaai," stel ek voor (ek het geen voertuie hier gesien nie), "maar ek moet eers met jou gesels." Sy loer onwillig in die rigting van die vangwa.

Sy haal ‘n selfoon uit haar sak. "OK." Sy verdwyn weer die huis in. Ek merk hoe mevrou Buys my pal dophou.

"Mevrou, goed, ek het nou hier hoe hy sy werk verloor. En toe?" Ek sluk vinnig die laaste tee.

"Jy sien, en toe sit hy net hier by die huis, met hierdie klein flerrie hier in my huis. En hulle gebruik drugs, crack, of cat of coke of iets ongoddeliks."

"Waar kom die geld daarvoor vandaan?" vra ek die roetine-vraag.

Sy loer vlugtig na my, asof sy dalk haar mond verbygepraat het, asof sy vergeet het om my eers op te som en nou wil bepaal wat die gevolge kan wees. "Wel, sy is ‘n stripper. Sy sê ‘n danseres, maar ek dink sy is niks anders as ‘n klein hoer nie. En sy het my klein Hendrik van my weggelei, soos die Bybel waarsku." Haar oë blits vinnig vloer toe en weer op. Vir ‘n oomblik verbeel ek my ek sien wel trane in haar oë, maar dink tog dit was net verbeelding. "Maar Catharina Buys verduur geen onreg nie, jy gaan nie drugs onder haar dak gebruik nie!" Sy swaai met haar wysvinger driftig deur die lug. "Hulle sit toe heeltyd daar en konkel allerhande plannetjies, die twee. My eie kind. Maar ek weet dit was sy, sy het hom vol dinge gepraat!" Sy wring haar hande ingedagte.

"Wag nou net, Mevrou, wanneer was dit nou?" wil ek weet.

"Skaars nou die dag, ‘n dag voor sy dood!" roep sy verontwaardig.

"Wat het gebeur?" Ek skribbel koorsagtig agterna om by te hou.

"Ek ruik toe hulle is weer daar besig en bars by haar kamer in - met drugs nou, nè. Ek mág mos, dit is my huis. Maar, eers het ek gehoor hulle het planne om weg te gaan, my so hier te los!" Dit lyk vir die eerste keer of sy werklik wil huil. "Nouja, die volgende dag ... toe is hy weg ... dood. Eergister."

"Weet jy dalk wat is ‘n slungel?"

Nie ek óf mevrou Buys het haar verskyning in die kosyn opgemerk, of weet hoe lank sy reeds daar staan nie. ‘n Slungel? Ek kyk na die breë figuur van Catharina Esther Buys, haar blokkige kop wat tot op haar skouers voortduur, die ingesonke oë wat uitdrukkingloos voor haar uit tuur, die plomp skouers wat afrol tot waar heupe moontlik kon wees en haar sitvlak nou op ‘n onbekende manier weliswaar op die plastiekstoel bo die aarde bly hang. Dan vang ek uit die hoek van my oog ‘n waaiende handjie van die buurman, Piet. Hy beduie krampagtig dat ek hom moet sien. Aan die manier hoe sy hand en kop nouliks bo die muurtjie uitsteek, neem ek aan dat dit vertroulik moet geskied, en vestig ek dadelik weer my aandag op Meisie.

"Ek het dit in hierdie boek gelees," sê sy, "... maar, ek het nie gedink jy sal weet nie." Met ‘n argelose handgebaar in my rigting verdwyn sy stil.

"Um, ja. Mevrou, ja. Hoe het u toe bewus geraak van Hendrik se dood?"

Wat meen sy sy het gedínk ek sal nie weet wat ‘n slungel is nie? Ek krap onbewustelik met die pen ‘n inkstreep teen my voorkop.

"Wat? O. Sy het my kom sê. Jy sien, ek was heeldag uit. Eers laatmiddag het ek hier aangekom. Ek het vir haar gesê loop roep die kind uit sy kamer laat hy kan kom eet."

Ek skryf motories. Wat de hel is ‘n slungel?

"Sy het gesê die lyk hang daar aan ‘n pelmet, toe bel ons die Poo ... Polisie. Die kamer is nou oop vir rent."

Oop vir rent. Ek kyk op van die vel papier voor my en vlugtig in haar oë. Niks. Ek vryf oor my ken. "Mevrou, met alle respek, jy kom nie vreeslik hartseer voor nie."

Sy kyk my verdwaas aan. "Meneer, die lewe is hard. Hy behandel vir my nog altyd hard. As jy wil survive, help dit nie jy sit en tjank oor alles nie."

Voor in die straat ry ‘n gelerige ou Toyota met getinte vensters verby. Die twee swart mans sit diep in die sitplekke, die slaprandhoede laag oor hul oë getrek. Die voertuig beweeg teen ‘n slakkepas en versnel effens net na die huis. As jy wil survive. Ek weet nie regtig hoe om te reageer nie en kondig my vertrek aan. By nommer 59 gly Piet soos ‘n skim agter ‘n pilaar uit en die deuropening van sy woning binne.

"Nog net een ding, Mevrou," wil ek weet voor ek by die trappies afstap. "Hoe kan ‘n mens sonder vingers ‘n tou knoop?"

Sy haal haar skouers vir my op.

Meisie kom met ‘n klein, blink handsakkie en haar boek te voorskyn. Sonder om te groet stap sy heupswaaiend die erf uit, oor die pad en klim by die passasierskant in.

"Ek hoef seker nie agterin te sit nie," lag sy skalks.

"Nog nie." Sy gee my ‘n vuil kyk en ek weet haar speelsheid sal net so vinnig op ‘n tirade uitloop.

"Laai my op die hoeke van Kerk en Voortrekker af. Een van my vriendinne sal my daar kry," gebied sy kortaf.

Op die treinspoor staan die brak vir ons en kyk. Ek draai die aansitter.

"Luister ... Wat wil jy hê moet ek jou noem? Maria? Klara? Meisie?" Ek kyk vinnig in haar rigting.

"Wat jy wil," antwoord sy ongeërg.

Op die hoek merk ek ‘n kafee, bakkery en ‘n paar ander winkels. "Is dit die bakkery waar Hendrik gewerk het?"

Sy knik instemmend.

Ek kry ‘n ingewing en hou dadelik voor die plek stil. "Ek is nou hier, gee my ‘n minuut." Sonder om te wag op haar reaksie, trek ek die sleutel uit die aansitter en stap die bakkery binne. Die reuk van varsgebakte brood vul my neus en ek vergeet momenteel van die bisarre "selfmoord" van Hendrik Johannes Buys.

"Is hier ‘n Frik?" wil ek weet.

Die man agter die vertoonkas spring oorbluf op toe hy die uniform gewaar. "Ja, ek is. Eintlik Manny. Hier noem hulle my Frik. Long story." Dit lyk of hy tot verhaal kom.

Ek stel my voor. "Wat kan jy my vertel van Stompie? Hendrik Johannes Buys?" Ek hou sy gesigsuitdrukking fyn dop. Die eerste reaksie is gewoonlik ‘n goeie aanduiding van wat mense dink.

"OK, ek het hom gehad hier agter, om die deeg te knie. Ek het eers gedink hy is ‘n orraait ou. Maar toe het hy ... uh, ok, ek het hom gevang waar hy my till hier empty. Ek het CCTV. Ek het gefire die bastard, hy was met drugs involved. Ek het als op CCTV, jy kan check hoe haal hy met daai twee stompies die geld uit, selfs die coins het hy gevat. Ek het hom gefire - hy het my gesê hy is jammer, hy skuld die drug dealers, Nigerians."

Ek kan sommer sien Manny se bloed kook nou nog. Terwyl hy passievol verduidelik haal ek ‘n varsgebakte bruinbrood en twee pasteie vanaf die rak. Die kasregister gly oop. "Nou sê bietjie vir my, Manny, hoe kry hy die geld uit daai klein laaitjies met twee stompies?"

"Swear to God, I'll show you!" Dit lyk of hy hom vir my vererg.

"Dankie, ons sal dalk weer later gesels."

Buite staan Meisie en rook. Toe sy my sien nader kom, trap sy die stompie met mening die grond in. Ek gee vir haar ‘n pastei en ons ry ‘n blok verder, waar ek onder ‘n boom stilhou. Ek haal my notaboek uit.

"Hoe het Hendrik sy hande verloor?" vra ek saaklik.

Sy grinnik. "Ja wel, hy het vir my vertel tannie Cathy het hom eendag voor die trein ingestamp ..." - sy glimlag fyntjies vir my - "... maar oom Piet, wat langsaan bly, het my vertel sy ma het hom eendag gevang draadtrek met een van my panties, en toe ... ent ... oe ... en toe ..." Sy lag nou byna onbeheerst. "Sorry, sorry ..." Sy hou haar hand afwerend na my uit, stukkies pastei dreig om uit haar mond te val, "maar, sorry. Nee, seker is dit nie snaaks nie." Sy vee die lagtrane uit die hoeke van haar oë. "Jy het ‘n penstreep ... wag." Sy buig vooroor en vryf met haar duim oor my voorkop. Ek laat haar begaan, maar voel tog hoe my hart werktuiglik sy pas opgewonde versnel. Haar hele wese spreek van seksualiteit. Dit is haar wapen, haar paspoort na plekke waar sy andersins nie sou kon nie. Fladderende ooglede, die flikkering van haar puntige tong, ‘n sensuele veeg en subtiele skud van die hare, die effense vertoon van haar slanke nek en uitlokkende laggie - alles die magiese krag van seksualiteit. Dit alles flits in minder as ‘n sekond deur my verstand. Haar gesig is byna teen myne en ek weet dit kan my loopbaan skaad, hier in sig van die publiek in ‘n vangwa. "Dit is goed om vriende in die polisie te hê, ons kan vir mekaar baie beteken ..." Sy laat haar vinger sensueel van my voorkop oor my neus gly.
Ek maak selfbewus keel skoon. In ‘n vlietende oomblik het ek die prooi geword, sy die kat en ek die muis.

"Jy het gesê, wat nou weer? Um, ja. OK, gaan aan." Die pen gly byna uit my hand.

Sy sit terug in haar stoel, hap aan die pastei en vertel ongesteurd verder: "Ja, wel. Sy ma het altyd loop en dreig sy sal sy hande afkap as sy hom vang draadtrek. En sy haat my, die ou bitch. Maar oom Piet en hy was nogals close, jy weet wat ek meen. Oom Piet het gesê Hendrik het hom gesê hy wou gaan selfmoord pleeg en voor die trein inspring. Maar toe die trein kom en hy spring, toe gly hy. Wel en toe val hy te kort, met net sy hande ... ha ha ... ha! ha!"

Ek kyk haar geamuseerd aan en sy hou die lagbui - wat weer dreig om haar te oorweldig - in.

Mmm. "En wat het hier by die werk gebeur? Die bakkery? Wat is die storie?"

"Wel, tannie Frieda, tannie Cathy se niggie, het vir my vertel sy koop nie langer daar brood nie want ..." - sy huiwer ‘n oomblik - "... dis disgusting. Maar, partykeer het Hendrik by tannie Cathy uit die kamer gekom." Sy kyk my met ‘n "Kry jy dit?" aan. Ek staar haar verdwaas aan. "Man, tannie Frieda het gesê sy gaan nie brood eet wat hy met daai stompies geknie het nie ... want dan is hulle in die deeg en dan is hulle in haar vet ..." Sy rol haar oë soos ‘n oupa uil en dan dring dit stadig tot my deur. My oë gaan rus op die warm brood in die bruin papiersak tussen ons. Sy merk die ongeloof in my oë en glimlag wrang voor sy die laaste hap uit die pastei neem. "Ons moet ry," sê sy, "Mandy wag seker al."

"Sê vir my, wie het op sy lyk afgekom?" Ek hou haar stip dop.

"Dit was ek," sê sy sonder om te weifel. "Tannie Cathy het so aangehou. 'Gaan roep hom nou! Gaan roep hom nou!' Gewoonlik mag ek nie naby haar ou precious little seuntjie se kamer kom nie, maar toe is dit net: 'Gaan roep hom nou!' Aanmekaar!" Dit lyk of sy die waarheid praat.

"En hoe sou Hendrik self ‘n tou kan knoop om homself mee op te hang?"

"Man, Hendrik was cunning, hoor. Hy het mos meth gedoen - dis nou off die record. Hy het alles self gedoen." Sy draai haar kop dan vinnig weg. "Eintlik was hy nie ‘n bad ou nie, net ‘n bietjie screwed up, maar nie ‘n bad ou nie." Sy vee verergd ‘n traan af wat oor haar wang biggel en kyk my skielik in die oë. "Verder weet ek nie eintlik iets nie."

Ek hou my kaartjie na haar uit. "Gee my tog ‘n lui as jy wel iets onthou."

Op die hoek van Voortrekker- en Kerkstraat hou ek op die randsteen stil. Meisie maak gereed om uit te klim. "Klara," sê ek huiwerig, "gaan julle nou hotel toe?"

Sy lag uitdagend. "Ek gaan waar ek wil," tart sy. "Ek wil nie vir jou sê hoe om te leef ..." Sy knip my sin kort: "Moenie!" en klap die deur in my gesig toe.

By die stasie gooi ek die dossier op my lessenaar neer. Die bruin omslag is grondbevlek, die hoeke effens gevou; op die hoek lê ‘n blerts droë tee en hier en daar is klein vetspatseltjies wat waarskynlik oorblyfsels van die pastei is. Dis ‘n gemors.

Kaptein Molomo se swaar voetstappe dawer nader en hy verskyn kort daarna in die deuropening. Hy is ‘n man van min woorde. "Vir wat vat jy so lank?" wil hy weet, maar daar plooi ‘n glimlag om sy mondhoeke voor hy verder die gang af dreun.

Ek vou die dossier oop en skommel deur die foto's van die toneel. Daar is bewys van hoë vlakke dwelms in sy bloedstroom. Op sy arms is hordes naaldprikke; dit lyk of ‘n swerm muskiete die mannetjie toegetakel het. Hy hang met sy rug teen die gordyn, die tou styf oor die kapstok, broek op die knieë. Die stoel half dwars onder sy voet. Daar is ‘n polis, maar dit betaal nie uit in die geval van selfmoord nie. Ek wonder wat die ou reier te sê gaan hê.

Maar ek kan my nie meer langer beteuel nie; ek moet onmiddellik weet!

Ek stap na die kabinet oorkant my lessenaar, waar ek twee hoofpynpille uit die plastiekhouertjie haal en ‘n verklarende woordeboek van die rak af trek.

Ek bel my vrou by die huis. ‘n Slungel, sê ek vir haar, is ‘n lang, maer persoon, of ‘n lomperd.

Sy giggel. "Kom huis toe, dan wys ek vir jou wat maak ek met ‘n slungel," terg sy ondeund.

In die agtergrond hoor ek hoe die drukkoker soos ‘n stoomtrein afblaas.

Ek haat treine, mymer ek, en klap die woordeboek onnodig hard toe.