Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Fiksie | Fiction > Afrikaans > Gepubliseerde skrywers

Oom Kosie huil op 'n Sondag


Danie Botha - 2008-10-29

Êrens ná 1956 in die Boland

Dit was ’n gewoonte: elke tweede, derde Sondagoggend halfnege gaan ons kinders saam met Pa op Boplaas toe. So twee kilometer stap ons, met die stormwatersloot met al die braambosse regs.

Kon dit wees dat ons so vroeg opgegaan het dat oom Kosie en tant Wiesie nog kon inry dorp toe met die grys Ford-bakkie vir kerk? Dat ons self later kom aantrek het en na die kerk met die Oog van God gegaan het? Ek twyfel. Want hoe rustig het Pa en oom Kosie teen die groot, netjiese sementmure van die varkhokke lang stories gestaan en praat.

Staan ons aanstons huis se kant toe, stap ons tussen tant Wiesie se geskuurde ware weerskante van die paadjie. Waarom het sy panne, kastrolle en roomafskeieronderdele so laat blink op stompe en ’n klip in die son?

Dan was die geselserye in die kombuis langs die kombuistafel wat voortdurend gedek was. As ontbyt verby is, maak tant Wiesie reg vir middagete, dan vir aandete en daarna ontbyt.

Een oggend was oom Kosie-hulle sekerlik op pad kerk toe. Want oom Kosie het in hulle slaapkamer ingeklim in die sinkbad wat tant Wiesie vol warm water gedra het.

Ek onthou nie die vyf-en-veertigjarige kaal man nie. Dria was seker by tant Wiesie. Ek was meer geïnteresseerd in die geraamde prentjies van die lig op Jesus in Getsemane en die rooi en bruin portretjies van geboue en kamele in Egipteland. Ek en Pa het op die bedrand gesit.

Oom Kosie praat dralerig. Hy's stadig met dinge. Die storie wil dit hê hy was al amper agt en dertig, toe't tant Wiesie (32) hom een aand in haar kamer by Oupa-hulle in die groothuis gevra om te trou. Sy is weer haastig. "Wat klaar is, is klaar." Het seker gesien dinge gaan lol as Oupa weer trou, dié keer met die dorpenaarsvrou, weduwee van die Duitser. Omdat hulle so laat in hulle lewens getrou het, het hulle nie kinders nie. Daarom het hulle eers vir oorlede Stevie van oom Jan-hulle bederf, hom tussen hulle voor in die bakkie laat sit dorp toe, en nou vir my.

Oom Kosie maak mens aan die lag as hý lag. Gewoonlik so kortliks, behalwe wanneer hy drank agter die blad het. Dan begin hy laag en sag, dan harder en harder, en die lag maak so twee keer ’n draai, hy snak na hoë note. Met elke aanhef lag ons van voor af saam.

Maar vanoggend praat oom Kosie nog van Barnie Green wat jou so maklik kan inloop met die voermeel en van oom Gert Oberholzer se kleintjie wat vir die soveelste maal Kaap toe moet gaan om onder die mes te kom. En die volgende oomblik huil oom Kosie. Sulke kort intrekhuiltjies.

Pa sit net vorentoe, sê nie iets nie.

Oom Kosie druk en druk die waslap. "Ek verlang na my mômie ..."

Nog net een kreuntjie, toe is alles verby.

Was dit broer Braam met sy genealogiese navorsing wat later jare meer uitgevind het oor oom Kosie se ma, tant Elize, vrou van oom Hans? Sy was al lankal dood toe oom Kosie nog oor haar gehuil het.

Wanneer sy ’n vreemde perdekar sien indraai by die hek onderkant die garsland, sit sy haar swart kappie op en begin hardloop. Die mond val oop om asem te kry. Verby die kleinhuisie, die hoenderhok, agter die perdestal hardloop sy. Dan begin die veldpad oor die rant. Wanneer sy anderkant afgaan, tussen plate tjienkerientjees en gousblomme deur, is sy nog nie gerus nie. Eers wanneer sy by die ysterhoutbosse en die wildeals kom langs die spruit, begin sy stap.

Lank dwaal sy met die rivier op, tussen die suikerbosse, totdat sy dink die kuiergaste behoort al vort te wees. Dan stap sy huis toe, kop geboë. Sy kyk aanhoudend op die grond.

Sy versamel te graag. Krale, dosies, bottels. Hans bring vleis van die plaaswinkel. Sy móét dit bêre. Sy moet die vleis hou vir later, later.

As Hans en Kosie etenstyd van die boorde kom, is daar darem brood en koffie. Maar sy is weg. Weer in die veld.

Dae later haal sy die vleis uit die klerekas, nog toegedraai.

Op ’n dag sal sy die blindings voor elke venster grendel en net sit. Soms eers die een hand, dan die ander uiters stadig oplig en haar gesig met albei vashou. Oom Hans het haar seker so aangetref? Was niemand getuie van uitbarstings, van skellery wat oor die werf weerklink in die laatmiddag nie?

Oom Hans het baie maal vir Kosie geslaan. Een keer met ’n stuk doringdraad toe hy nog klein was en nie wou ophou skree agter sy ma aan nie. Oom Hans het hom eers gevloek, maar hy wou nie luister nie.

Hans en Elize is op Wolseley getroud sonder dat hulle mekaar baie lank geken het. Die middag het hulle met die trein vertrek Touwsrivier toe, waar hulle in die spoorweghotel sou slaap en die volgende dag gehaal word om op Wolwekop te gaan kuier vir ’n week.

Toe daar al liggies op die plase begin wys, voel Elize hoe waai die roet in haar gesig. Haar buuste word vuil. Sy sien Hans kyk vir haar. Sy bring albei hande na haar gesig. Sy skud haar kop. Ingedruk tussen haar en die venster is die mandjie padkos. Daar's onder andere ryp koejawels in. Sy gryp twee, vlieg op en druk die geurige vlesigheid in Hans se gesig. Sy smeer dit aan en aan.

Dis wat oom Kosie se mômie gedoen het.