Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Reis | Travel > Kompetisies | Competitions

Noordkaap-blues


Johann de Jager - 2008-10-29

'n Storie oor waan en glorie uit die laat 1980's, vroeë 1990's

Maar, uit blougrond kom daar diamante, nie net die beteutering van gemoeds-"blues" in hierdie grintharde wêreld nie. Dit is skitterdiamante, ontdek Loffie in die streekstaal, die idiolek en idioom wat die mense oral langs die pad van Hopetown af, Ghaapse plato oor na Griekwastad se kant toe gebruik. Hy het 'n skryfkursus aangebied op Orania, en daarna besluit om 'n draai in die bo-noorde van die Kaapprovinsie te maak op pad terug huis toe, Sabie toe, waar daar baie groen is, en léwe! Want hiér kom ek seker nooit weer nie, dink hy. Laat ek nou ten ene male maar gaan kyk.

Hoogmiddag is die kontras tussen hierdie kontrei en sy tuisdorp, doer onder die reën-eskarp, akuut, maar met die bewende bloupers lint van die Ghaapse platorand soos 'n seintuur laatmiddag dwars voor hom oor die soms oker, soms wasgeel oneindigheid en wydsheid gespan, het 'n stilte in hom kom lê wat hy nie geken het nie. Geen reëngeseëndheid, mistieke miswolke soos die sluierdans van mooi jong vroue, of groen oordadigheid van die Laeveld kon ooit so iets bring nie. Wat is dit?

Loffie het op 'n wit hoogtetjie stilgehou. Die laatmiddagtyd hier is 'n sonwoedende dag se filter, dan sien mens hierdie wêreld reg, voel hy aan. In ligjaarvertes lê lae van klapperys-bloue en -pienke in strata gestapel, dynserig bo omwerwelende horisonlyne. Namiddag is duidelik filter én prisma.

Hy kyk en kyk. En dan praat mense van aurora en noorderligte by die pole, dink hy.

'n Eselkarretjie kom aan. "Naand, seur. En hoe ganit?" Karretjiemense, tref dit Loffie. Ja, dis mos hulle wêreld hier.

Die gesels kom maklik. Hoe ver is Griekwastad? Hy wil vanaand daar slaap. Waar slaap hulle? Hy vra.

Nee, net waar die son hulle laat staan, kom die antwoord. "Daar's onse motel daar. Onder 'n boom, as daar een is; daar's gewoonlik ook brandhout. Want hierie wêreld is oral ons s'n. Ons stel nie grondeise in nie, seur; die aarde hier het óns opgeëis, al lankal. Soos met 'ons God' ook. Dit betekent nie hy's ons eiegendom nie, nee, ons is syne. Hy sôre vir ons. Ons is skaapskeerders. Daarvan leef ons, omdat jy vra ja, en karretjie-faktotums buite die skeerseisoen. Hier's my troffels en goete."

En Griekwastad lê, asof verskonend om nie in die pad te wees nie, vlak neffens hom, bruin soos 'n verfrommelde papierkardoes wat padkos-eters argeloos by die venster uitgegooi het. Hy stop vir verversings. "Griekwastad Kafee" staan op die uithangbord. Aaa, hier moet ek darem daardie Griekwa Onse Vader van Hans du Plessis vir myself voorlees, dink Loffie, en maak die boekie op die stuurwielring oop.

Maar tok-tok tik iets aan sy venster. Dis 'n Griekwatjie, seker so vyftien jaar opgeskote. Loffie draai oop en groet. Die seun groet ook en glimlag breed. "Kan ek nie dalk vir my lanie 'n gadiggie opsê nie?" vra hy. Loffie voel in sy sak vir 'n muntjie - waaroor anders gaan dit dan? Hy wys tog na die oop digbundeltjie voor hom op die hoeter-ring. "Jy's by die regte man, ou seun; kyk - wat is dit dié?"

So met die ja-sê het nog twee van die seun se maters nadergestaan. Hulle kyk almal waar Loffie wys. "Mar my mattag, dis mos ok 'n gediggie daai!" kraai die een sy pret uit. En saam tower die drie 'n opelug-kabaret daar op die sypaadjie oop.

Dit was darem 'n paar rand vir die opsêers werd, maar eintlik baie meer vir die eenman- gehoor. Waarom is daar nie oral in die land so 'n liefde vir Afrikaans, en veral poësie, nie? wonder Loffie. Maak onderwys sonder spesifieke opvoeding nie die saad en liefde vir poësie op skool reeds dood nie? Dalk hoort poësie glad nie by 'n taal nie. Dit is tog 'n dissipline op sy eentjie, soos wiskunde ook, en behoort wel ook so as keusevak in alle tale aangebied te word, maar nie as gedwonge onderafdeling daarvan nie. "Jong, maar julle het seker 'n goeie Afrikaanse onderwyser?" sê-vra hy.

"Die beste, my lanie," kom dit in 'n koor.

"En wat is julle name?" Loffie wys na die drie.

"O, hy's Gert Nel, en hy's Henry Booysen en ek is Petrus Page, my lanie."

Hulle het vir seker nie 'n Dead Poets Society hier nodig nie, dink Loffie, want hulle is een, 'n lewende sel daarvan. Die woorde van die gedig kom terug. "O, maar dis pragtig," komplimenteer Loffie; "maar sê my, waar kom die gedig dan vandaan wat julle so opsê? Ek ken dit nie. Wie is die digter?"

Hulle kyk toe so onderlangs na mekaar, deel stampe in die ribbes uit en skaterlag, voor hulle weer saam antwoord: "Ons dink dis FW de Klerk!"

Agterna breek dit toe eers na Loffie deur, as die woorde nog 'n keer terugkom:

Geweeg, geweeg,
te lig bevind!
Was wig se teenwig
toe net wind ...

Toe hy vir die drie waai, sê Loffie hardop: "En ek het gedink dat ek nooit weer sal wil terugkom na dié wêld toe nie."