Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Rubrieke | Columns > Afrikaans > Fanus Rautenbach: Umfaanus

Hoe meer haas


Fanus Rautenbach - 2008-10-29

Eers was daar robbe, toe noem hulle dit Robbeneiland. Ek het selfs ’n versie daaroor geskryf, wat so begin:

Sewe robbe bobber om die baai;
Hoeveel daar was kan mens net raai.
Maar nou’t ek nie lus om oor ’n rob te tob nie
En wie beweer die katte kies nie die hasepad ok nie?

En daar was ’n duisternis katte. Hulle verwyder die katte, maar die kat kom weer. Hulle raak uiteindelik van die katte ontslae, maar toe kom die hase, en daar is koerante wat skryf dat Jan van Riebeeck reeds in 1658 daar ’n klompie hase daar losgelaat het, en nadat die katte verwyder is, het die hase in hul miljuisende daar aangeteel, en daar moes ’n plan gemaak word: die jagters het aangebied om die hase te skiet, maar die groenes was haas onkeerbaar van ontsteltenis, want mens maak nie die mooi goedjies dood nie. Dis haas ondenkbaar.

Daarna los hulle die honde, maar die hase is te vinnig en die haas word net aan die stert beet gekry – en almal sing: "Hasie, hoekom is jou stert so kort?” Toe is dit ’n kwessie van hoe meer haas hoe minder hond!

Hoe moet ons dan van die hase ontslae raak? Daar is haas nie ’n plan waaraan hulle nie gedink het nie.

“Dit moet sonder geweld gedoen word!” het die teerhartigstes voorgestel; "soos inspuitings.”
 
Maar iemand het inderhaas bereken dat dit R45 000 vir die inspuitstof sou kos. En jy kan darem baie kos vir die arm mense met soveel geld koop. Dis haas ondenkbaar om so baie geld en kos te mors.

Toe skryf ’n leser, ’n entrepreneur, aan Umfaanus om hierdie voorstel te maak: “Kry die jagters om die hase te skiet. Nee, ons eet nie die vleis nie, dis te wreed, en hoewel haasvleis agter die oor lekker is, om van ‘beeshaas’ nie eens te praat nie, stel ek voor dat ons net die pelse gebruik om pelsjasse te maak en dan gebruik ons daardie geld, waarvoor ons die haaspelse verkoop, om vir die arme arm mense wat nie kos het nie, boeliebief te koop. ("Agter die oor lekker" kom uit Dine van Zyl se kookboek Agter die lekker aan! en dit verwys na die lekkerste deel van ’n gebakte skaapkop, naamlik "agter die oor".)

En wat noem ons die pelse wat van haasvel gemaak word? Di-i-i-s reg! Nie Haas Das nie, maar Haas-jas!

Dit sal sommer uit die staanspoor ’n sukses wees.

Nou waar sou dit nou weer vandaan kom – "uit die staanspoor"? Ek haas my om te verduidelik dat ek wel weet. Kyk, hulle beweer mos dat Piet Retief nie juis onder die Engelse juk wou wegtrek nie, maar dat hy ’n wamaker van naam was en dat hy die Trek uitgedink aangemoedig het sodat hy sy waens kon verkoop! Die Grensboere het begin trek en Piet Retief het gesorg dat hy altyd waens in voorraad gehad het. Hy het die waens sommer so onder die bome staan gemaak. Soms het so ’n wa lank in sy spore gestaan. Die man wat dan die wa koop, bring sy trekdiere en laai die wa met sy negosie, en as die woord kom, dan trek hulle met ywer sommer so uit die staanspoor uit en al die Boere was begeesterd en doelgerig – uit die staanspoor uit.

Maar kom ons praat eers bietjie Curriebeker-eindstryd. Nou wil ek sommer uit die staanspoor kla oor Rapport wat na die wenners, die Sharks, verwys as “Goue Haaie!” Goue Leeus, ja, maar nie Goue Haaie nie!

Ek haas my om te beweer dat ek ’n beter koerantkop vir die eindstryd gehad het: HAAI - JOU KATVIS!