Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Opvoeding | Education > Skole | Schools > Artikels

Die verdrinking van Josua van Eden: indrukke van ʼn tiener-leser


Adriaan Louw - 2008-10-28

Die verdrinking van Josua van Eden

deur Carina Diedericks-Hugo
ISBN: 9781415200650
Uitgewer: Umuzi
RRP: R120
Klik hier om meer uit te vind oor die boek

Klik hier om Die verdrinking van Josua van Eden nou by kalahari.net te koop!

 

LitNet se KlasKamer het Adriaan Louw, ʼn tienerleser, gevra om sy indrukke oor Carina Diedericks-Hugo, met ons lesers te deel.


Ek het die eerste keer ʼn Diederick-Hugo-boek sowat ses jaar gelede gelees. Dit was die eerste boek in haar Thomas-reeks, wat uiters gewild is onder laerskoolleerlinge. Ek was absoluut versot op hierdie reeks wat my as laerskoolseun betower het.

Aan die einde van verlede jaar het ek in ʼn boekwinkel in Bellville rondgestap toe my oog ʼn onbekende Thomas-reeks-boek op ʼn afgeleë koffietafel oplet. Dit was die nuutste boek in die reeks: Thomas@aksie.net. Sonder om te huiwer het ek die boek opgetel en gekoop.

Ek het tot by bladsy 10 gevorder toe ek die boek toemaak en in my boekrak wegbêre. Ek het besef dat ek die Thomas-reeks ontgroei het.

Toe ek die pospakkie met Carina se nuwe boek ontvang om te resenseer, was ek skrikkerig ... Maar toe lees ek ʼn aanhaling van Pedro Calderón de la Barca uit "Life is a dream" en my persepsie het onmiddellik verander. Hierdie aanhaling herinner my aan Macbeth se bekende "Tomorrow, and tomorrow, and tomorrow"-monoloog, aangesien albei dieselfde ideologie na vore bring. Dit is om hierdie rede dat De la Barca dit reggekry het om my persepsie te verander, want ek het besef dat hierdie boek veel dieper as enige van Carina se vorige publikasies is.

Die lewe is ʼn droom en drome is drome. Josua het nog altyd gedink dat drome simpel is, maar Titania het hom geleer dat dit definitief nie die geval is nie. "Dit wys vir jou dinge wat jy nie andersins kan sien of ruik of proe of voel nie. En as jy regtig net laat gaan, sal jy sien dat jy ʼn glimp kry."

Die boek handel oor ʼn tienerseun, Josua van Eden, wat op ʼn dag deur weerlig getref is. Toe hy bykom, staan ʼn pragtige meisie, Titania, voor hom. Min weet hy dat sy tydelik by sy ouerhuis gaan intrek en dat daar baie agter haar voorkoms skuil. Hy kom vinnig agter dat sy baie vreemd is en voor hy homself kan keer, speel hy ook die speletjie.

Dit is nie ʼn rekenaarspeletjie of wegkruipertjie nie, maar ʼn rolspel-speletjie waar jý die karakter is. Jy volg instruksies per sms en e-pos. As jy in is, is jy in, maar onthou: jy speel net ʼn speletjie. Vir wat? Jou lewe.

Carina skryf vir kinders en tieners omdat sy dink grootmense is vervelig. Alhoewel haar hele Thomas-reeks oor tieners handel, is dit die heel eerste keer dat haar karakters van vloektaal gebruik maak, maar tog kom hulle nooit as kru voor nie. Ek voel dat dit die verhaal soveel meer realisties maak en dat ons dit met ons eie lewens kan verbind.

Alhoewel Die Verdrinking van Josua van Eden as ʼn spanningsverhaal geklassifiseer word, is dit vir my veel meer. Behalwe die romanse en avonture wat in verskeie hoofstukke opduik, word daar ook gefokus op die sielkundige uitwerking wat sekere gebeure op tieners het. Met persoonlike ondervinding in die jong volwasse sielkunde kan ek getuig dat tieners wél sekere situasies en omstandighede vreemd hanteer, wat tot dramatiese stappe kan lei. Ek het my ook al talle male in soortgelyke situasies bevind en juis daarom vind ek dit ongelooflik akkuraat hoe die karakters reageer, wat die verhaal baie meer oortuigend en realisties maak.

In hierdie verhaal volg die leser Josua se voetspore terwyl hy raaisels ontsyfer om na die volgende vlak te gaan. Dus is beide spanning en avontuur teenwoordig. Bo en behalwe die "Role-playing game" ontdek ons ook saam met Josua en Titanie die kuns, hartseer, verdriet en genot van ware tienerliefde. Die verteller neem ons op ʼn reis deur hulle gedagtes en persepsies en hulle aksies wat daarop volg.

Ons besoek verskeie male Hoërskool Grendel, waar ons ʼn groot verskeidenheid karakters ontmoet. Dit is hiér waar ons die sielkundige uitwerking wat sekere situasies op tieners het, teëkom. Hierdie situasies is van toepassing op alle tieners se lewens, hetsy direk of indirek. Ons kyk na jaloesie, populariteit en selfs depressie, om maar net drie voorbeelde te noem.

Alle tieners wil populêr wees en Coenie is geen uitsondering nie. Ons kyk na sy stryd om sosiaal aanvaar te word. Ons ondersoek Titania se agtergrond en omstandighede en wonder hoekom sy voel dat sy werklik lewe slegs as sy haar polse sny.

Die boek word aanbeveel vir beide tieners en grootmense, maar ek glo dat grootmense die boek nie so baie soos die jeug sal waardeer nie. Let egter wel: ek glo nie vir een oomblik die boek is nie intellektueel genoeg vir grootmense nie; inteendeel, ek self moes ʼn paar keer ʼn sin twee keer oorlees.

Die einde is briljant. Dit rond die boek pragtig af, bring die begin en einde saam en laat ʼn nagedagte.

Die Verdrinking van Josua van Eden het my net weer eens laat besef waaroor die lewe werklik gaan en my uitgedaag om dit te waag om soos ʼn gek te lyk in my soeke na liefde, my droom en die avontuur om voluit te lewe.