Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Gay > Fiksie | Fiction

Met nadruk


Danie Botha - 2008-10-28

Ter ere van Adult World

Dit is goed om nie te dikwels na die sekswinkel te kom nie. Dis opmerklik hoe suksesvol ʼn mens ná ʼn afwesigheid is. Kry sommer dadelik iemand. Nie die gewag nie. Nie die manne wat bo op die loopvlak verby jou hokkie loop nie. Of net staan en staan sonder om in te steek by gloriegat.

Waarby kom dit? Jy lyk dalk nie soos ʼn ou wat elke liewe dag daar uithang nie? Vars, nuut, soos ʼn beginner? Jy voel self asof dinge nuut is. Wat's die beste tyd? Pappas se etenstye? Vrydagmiddag?

Vandag het Jakes eers heelwat besigheid gedoen met die lang man by die toonbank. Manscent-poppers, ʼn rubberpielring wat "vir seker" jou selfvertroue verhoog, en toe beveel die ou ʼn oerwonder uit die verre streke van Afrika aan: pille vir enorme koerasie. Gewaarborg. Die ander ou goedjies ... hulle hou dit nie eens aan nie.

Toegang vir die "video lounge" (sê dit op Engels en rek-draai die klank; dit gee jou die kommin gevoel van die plek) is duurder as tevore, maar hy koop ʼn kaartjie.

Eers gaan pis in die toilet op hierdie verdieping. Orals daar onder in die gange en kamers is kennisgewings dat jy dit fokweet nie dáár moet doen nie.

Sedert hy laas hier was - ses maande? - is die bak verbeter. Maar dis steeds net een vertrek.

Jakes maak nie die deur agter hom toe nie; hy pis mos maar net. Toe hy uitkom, wag ʼn ou met ʼn bruin Jeep-jekker om sy plek in te neem.

Jakes begin kyk deur die rakke met DVD's vir gays. Seker ʼn minuut later sien hy Jeep loop nou tussen dieselfde rakke deur, maar stuur duidelik op die lounge-deur af. Dis feitlik net ʼn stuk van sy bolyf wat uitsteek. Kan in sy veertigs wees, dalk vroeë vyftigs. Rooi vlamme op sy gesig en die wit streep van hoed dra op sy voorkop. Loop effens styf vooroor, staar as ‘t ware voor hom uit. Langeraat sien hom vassteek voor die deur en laat dit vir hom oopklik.

Jakes besluit om liefs later sy voorraad porno aan te vul en gaan dadelik ook die ritueel by die doolhof-ingang deur.

Af met die trappe, waar daar nog ligte brand. Waar's die dag met die kragonderbreking? Die versigtig trap, ʼn ou net-net voor jou. Jy stamp teen sy boude.

Ná die afdaling: altyd die gitnag-donkerte, altyd rigting-bedonnerd. Maar geleidelik raak dit skemeriger, kan hy die kennisgewing langs een van drie "sitkamers" lees: Gay. Die een vir she-males lewer nie meer vermaak nie.

Die klanke van gayseks meng met dié van hetero en bi in die gange. Die musiek, die gekreun, die geskree, die bevele, aanmoediging, ingenomenheid, bevrediging.

Suck that dick!
Take it, take it!
Ah, baby, baby ...
You like that stiff black cock up your white pussy?

Jeff Stryker, bobaas praatjiesmaker, sou gesê het: "You like my big dick ... Don't you?" Geen teenspraak verwag nie.

Jakes stap op die ry hokkies af, kry ʼn oop deur. Hy grendel dit toe, weet dat die een op die loopvlak voor en bo hom kan hoor en sien daar't nou ʼn mond en hande beskikbaar geraak.

Die gat is nog oop.

Jakes trek sy broek af sodat hy hom kan gereed kry vir saamspeel. Kan dalk self in die proses laat waai. Haal die verpakking van die poppers af. Hou nou sy gesig teen die opening. Sit dit ʼn moontlike maat af as hy jou gesig kan sien en hy hou nie van wat hy sien nie? Dis mos eintlik die lekkerte, dat jy nie weet wie op aarde help jou uit nie. Maar fok, party buk af, loer in, besluit of jou ouderdom en kleur reg is. Deesdae gebruik hulle hul selfone as flitse. Sal hy net ʼn paar vingers laat sien om die boonste ou te verseker hy's gereed vir hom? En die poppers vashou om te wys wat hy mag deel?

Die loopvlak kraak.

Dis Jeep. Hy gaan staan, sy gestewelde voete weg van mekaar. Sekondes lank roerloos. Dan skuif hy agteruit tot teen die sitbank teen die swart muur. Gaan nie sit nie; leun net daarteen. Kruis sy voete. Jakes kan nie sy gesig sien nie. Kyk reguit na sy mandjie. Die hande raak nie daaraan nie.

Kort nadat Jakes twee vingers oor die onderkant van die gat gesteek het, kom Jeep weer orent. Bly staan. Minder as ʼn minuut.

Jeep kom na die gat toe!

Sy onderlyf is donker, vul die gloriegat. Hy druk dit nie dadelik vas daarteen nie.

ʼn Groot hand kom deur. Jakes lek daaraan. Die dik vingers ruik na nikotien voor dit by sy mond ingaan en daarin rondborsel.

Jeep trek sy hand terug. Hy draai effens skuins. Jakes kan die gevroetel by die gulp sien. Weer sluit hy die lig uit wanneer hy hom terugdraai.

Nou is dit die slap piel teen Jakes se mond. Hy neem dit in. Baie gou verander die formaat. Jakes hoef nie lank te werk voor hy die bitterige smaak kry nie. Hy voel selde die gespuit; raak gewoonlik net bewus dat ʼn vloeistof meng met sy speeksel.

Die nasorg: Versigtig lek hy aan die pisopening. Weet sy mond is warm en beskermend. Laat dit oor aan die ander om te besluit wanneer om hom te onttrek.

Stadig doen Jeep dit. Daar val lig op die klamheid terwyl hy na die toiletrol reik en ʼn stuk afrol. Hy droog hom af. Die ritssluiter hardloop.

Jakes maak sy mond leeg op ʼn papiersakdoek.

Toe kom die hand weer deur die gloriegat. Dit soek en kry Jakes se regterhand.

Dit druk sy hand.

Dankie. Totsiens.

Die klem verstewig.

Dit was vrek lekker.

Nog ʼn druk.

Jy't baie vir my beteken.

Weer.

Jy móét my glo.

Hy moes dadelik gemaak het dat hy wegkom.

Jakes het bo en op straat gaan kyk. Hy't die pornokopery uitgelos.