Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Reis | Travel > Kompetisies | Competitions

Windhoek


Daniel Hugo - 2008-10-28

Windhoek, Namibië is Daniel Hugo se Jerusalem én sy Rome: die heilige stad waar hy met die Sestigers se verbysterende woorde kennis gemaak het nog vóór hy sy eie hand aan die digkuns gewaag het. Foto’s: Andreas Vogt.

Rondom Windhoek lê daar berge: die Auasberg, die Erosberg en die Khomas-hoogland. Windhoek self is soos Rome gebou op heuwels. Byna al die strate het dus ’n helling, ook John Meinertstraat 118 in Windhoek-Wes waar sewe Hugo-kinders in ’n pastorie grootgeword het.

Hellings is ideaal vir lewenslustige seuns oneindig gefassineer deur wiele. Vandat ons drie oudste broers ’n hamer en ’n saag kon vashou, het ons kaskarre gebou. Om afvalhout by bouwerwe te kry, was maklik genoeg. Die grootste gesukkel was om gepaste wiele te vind vir daardie lewensgevaarlike houtgevaartes. Gelukkig was daar gedurig kleuters in die huis in die gedaante van ’n jonger broer en susters. Ek weet van meer as een stootkarretjie wat “afgeskryf” moes word sodat ons sy wiele kon gebruik.

Uit radeloosheid het my pa op ’n keer groot wiellaers by ’n Volkswagen-garage gekry. Die staallaers sonder enige band rondom maak ’n helse lawaai op ’n geteerde afdraande. Dit laat die kaskar ook so vibreer dat die bestuurder se tande klapper en hy dubbel begin sien.

Die laasgenoemde effek het natuurlik die ongeluksrisiko heelwat verhoog, veral aangesien die helling voor ons huis in ’n T-aansluiting met ’n stopstraat geëindig het. Die feit dat die bure by ons ouers oor die lawaai gaan kla het, het waarskynlik ’n paar Hugo-seuns en hul maats se lewens gered.

Met ons fietse het ons naweke uitgery – heuwel op en heuwel af – om in die veld te gaan slaap. Die beste slaapplek was die skoon, wit sand van die droë rivierlope. Net ná die reëntyd kon jy vars water vind as jy diep genoeg in die sand grawe. Dan het ons soos ware San ons dors uit ’n gorra geles. En doringhout was daar in oorvloed om koffiewater te kook en wors te braai.

Eintlik was die lekkerste deel van so ’n uitstappie die vuurmaak. Daar is niks so gerusstellend soos ’n selfgemaakte vuurtjie nie – al is die nag ook hoe eindeloos. Jy sit verlate by jou petieterige vuurtjie op ’n koue en donker planeet terwyl die stervure amper hoorbaar bokant jou kop knetter. Jy voel tegelyk eensaam én een met die heelal. Inderwaarheid slaan die gloed van die stadsligte ’n paar kilometer verder agter die hoogste heuwel uit.

Ons oornagtings in die veld rondom die stad het ’n nuwe dringendheid gekry toe ons die Duitse wetenskaplike Henno Martin se oorlewingsboek Vlug in die Namib in die skoolbiblioteek ontdek het. Daarin word vertel hoe Martin en sy vriend gedurende die Tweede Wêreldoorlog in die loop van die Kuisebrivier gaan wegkruip het om te voorkom dat hulle geïnterneer word. Dié verhaal het ons oortuig dat avontuur binne ons bereik is! As twee Windhoekers sulke opwindende dinge ’n skrale 20 jaar tevore kon beleef, hoekom nie ons ook nie?

Die grootste avontuur wat ons te beurt geval het, was die keer wat ’n rooikat (of was dit ’n muishond?) ons wors gesteel het. Toe ons dit die volgende oggend ontdek, het ons maar dadelik opgepak. Tot my ma se konsternasie was ons betyds vir middagete by die huis.

Dit was ook in die veld in ’n tentjie waarop die reën drup wanneer ek op my gelukkigste was. Daardie tikkende druppels en die sagte, soet reuk van die nat grond is die beste susmiddel op aarde. Dan het die benaming “moederaarde” volledig sin. Dit het ook gesorg dat ek die volgende reël van G.A. Watermeyer in my graad 10-jaar dadelik kon eien as mooi én eg: soet deur die lang nag sing die reën. Kort daarna het ek self my hand aan natuurgediggies gewaag.

Dit was die wonder van Windhoek in die 1960’s: ’n stad in die veld waar dit veilig genoeg was dat ons snags met oop deure kon slaap en tienerseuns op hul fietse vir ’n naweek lank die natuur kon invaar.

Hoe vaag die grens tussen die stad en die veld selfs nog in die vroeë sewentigerjare was, blyk duidelik uit ’n gedig van Piet van Rooyen. Hy was ook ’n digtende domineeseun wat in dieselfde tyd as ek in Windhoek op skool was – hy in Windhoek-hoërskool en ek in Hoërskool Jan Möhr.

In 1973, ons eerste jaar op universiteit, verskyn Piet se digbundel Draak op die erf met ’n gedig wat vertel hoe drie koedoes op ’n dag in Fritschestraat (in die destydse nuwe woonbuurt Pionierspark) afgehardloop gekom het:

die dorpsmense het op hulle
stoepe gaan staan en gekyk
na die drie koedoes in hul vlug
maar Anthony Bart het sy geweer
gevat en op die voorste een gemik
dit was drie-uur in die middag
toe die voorste koei swik
sy’t die bos gehaal blêrend in
haar nood
maar om drie-dertig was die
koedoekoei dood.

Piet praat hier van die “dorpsmense”. In ons oë egter was Windhoek nie net ’n stad nie, maar ’n egte kosmopolitiese stad. Daarvoor het die groot Duitse gemeenskap gesorg. En dié gemeenskap het heelwat oorsese besoekers gelok.

Met kosmopolities het ons dus eintlik “Europees” bedoel. Die toeriste uit Duitsland was onmiddellik herkenbaar aan hul voorkoms. Die mans het sandale met wit sokkies gedra en die vroue het nie hul beenhare geskeer nie. (Dié “growwe” vroulike verskynsels het my ontluikende seksualiteit ’n knou gegee.)

Die taalonderrig wat ek op skool in Duits gekry het, was veel beter as dié in Engels. In matriek kon ek behoorlik Duits praat, maar skaars drie sinne Engels. (G’n wonder nie: ons Engelse onderwysers het almal Afrikaans gepraat in die klas!) Ons het Duitssprekende skoolmaats gehad, maar nie één Engelssprekende nie. Op straat het jy selde Engels gehoor – wel Afrikaans, Duits, Nama, Damara, Herero en Ovambo.

Dat Engels ná die onafhanklikheidswording van Namibië tot die enigste amptelike taal uitgeroep is, sou ’n mens ’n grap kon noem. Maar ons weet dat politici nêrens ter wêreld aanspraak maak op ’n humorsin nie. Vandag nog is Afrikaans die lingua franca van hierdie veeltalige Namibiese samelewing.

John Meinertstraat neem ’n mens bo-oor ’n steil bult reguit na die middestad. Waar dit aansluit by Onafhanklikheidsweg – Kaiser Strasse destyds – staan die koedoe-standbeeld. Hierdie lewensgrootte beeld van ’n plankdun dier is in die vroeë 1960’s opgerig toe die ganse koedoebevolking van Namibië byna deur ’n epidemie uitgewis is. Dit verklaar waarskynlik waarom daardie koedoe so maer is.

Vra vir enige Windhoeker om jou na ’n plek in die stad te beduie en hy begin sy aanwysings by die koedoe. Die koedoe-standbeeld is die ware sentrum van die stad; nie die veel indrukwekkender ruiterstandbeeld, die Tintenpalast, die Christus Kirche of die Alte Feste-museum nie.

My gunstelinggebou was die stadsbiblioteek. Wat die gebou aan uiterlike skoonheid te kort gekom het, is voor vergoed deur die wonders wat daar binne bewaar is: die verbysterende boeke van die formidabele Sestigers.

Ek het hul gedigte en verhale verslind sonder dat ek veel verstaan het. Maar ek is oorrompel deur die energie van hul taalgebruik, deur die eksotiese plekke en eksentrieke karakters wat hulle opgeroep het. Daar was ook ’n ruim, sondeurdrenkte leessaal met tydskrifte en koerante in drie tale.

Dié skatkamer was natuurlik “slegs vir blankes”. Daarom het my ma eiehandig ’n biblioteek vir Khomasdal opgerig in die saal van die NG Sendingkerk waar my pa die predikant was.

Sy het dié biblioteek met skenkings van tweedehandse boeke in stand gehou totdat die stadsbiblioteek op ’n dag vir almal oopgestel is.

Ongelukkig het daardie luukse leessaal sedertdien onder ekonomiese druk gesneuwel. En daar word skaars nog Afrikaanse boeke aangekoop.

Die heuwels en rantjies van Windhoek bestaan deels uit mika-klip wat ’n fyn stof afgee – veral in Augustusmaand as die droë westewind so droewig waai. Dit het my ernstige hooikoors gegee wat groot dele van my jeug onaangenaam gemaak het. Ek het dae lank in ’n beswyming van antihistamien gedwaal.

By tye moes ek selfs in die bed bly. My kamervenster het na die suide uitgekyk op die geplooide Auasberg. In die sagte skuinslig van die ondergaande son het die grou bergmassa pragtige blou en pers kleure gekry. Dit was op so ’n aand dat die muse my besoek het. Met betraande, rooi oë het ek tussen niese deur hierdie twee versreëls geskryf:

Die aandson kleur die berge pers
en in my styg hierdie vers …

En net daar het die muse my weer verlaat. Tot vandag toe pla daardie ongeskrewe vers my.

Een van my pa se geliefkoosde Bybeltekste was Psalm 125 vers 2: “Rondom Jerusalem is berge; so is die Here rondom sy volk van nou af tot in ewigheid.” Elke keer as ek hom op ’n Sondag dié teks hoor aanhaal daar in die kerk op ’n heuwel in Khomasdal het ek opgekyk en die golwende Khomas-hoogland in die verte sien wegdein. In my kop het ek dit dan herskryf: “Rondom Windhoek is daar berge.”

Windhoek is my Jerusalem én my Rome: die heilige stad van my jeug. En tog het ek nooit ’n enkele gedig of psalm vir hom geskryf nie. Miskien moet ek die muse weer naderlok met ’n kursus antihistamien.