Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Kos & Wyn | Food & Wine > LitNet Virtuele Wyngemeenskap > Wynnuus

Renaissance vir Franschhoek se La Bri


Johann H Crafford - 2008-10-28

Robin Hamilton, eienaar, en sy vennoot, Lindy Waterkeyn, beskryf La Bri as "'n klein, stil en baie mooi plek: net om daar te wees, maak dat jy dinge beter wil doen". Die bou van ‘n nuwe boetiekwynkelder van 120 ton en 'n proelokaal, byna verskuil agter volwasse eikebome, het nie hierdie rustigheid versteur nie, maar is die noodsaaklike belegging om inhoud te gee aan die filosofie om dinge beter te doen.

Terwyl die wyse mense in die wynbedryf waarsku teen belegging in sement en bakstene, het Robin reeds drie jaar gelede besluit dat ‘n omvattend verskillende benadering tot wynmaak nodig is om reg te laat geskied aan die potensiële gehalte van die landgoed se druiwe.

En so het die jong wynmaker (en hoofbestuurder) Jocelyn Wilson tot die stryd toegetree en begin beplan aan die nuwe kelder en proelokaal. Sy het ook sommer La Bri se wynreeks gerasionaliseer en die ou verpakking ‘n algehele vernuwing gegee. Die nuwe verpakking gee erkenning aan die simbiotiese verhouding tussen wyn en fynbos, die tuiste van die meeste van die blomme wat nou op La Bri se wyne pryk.

Elke La Bri-wyn het sy eie Kaapse blom op die etiket (met die uitsondering van die Shiraz Viognier, wat heel gepas kruie uitbeeld) as agtergrond vir ‘n wit-op-swart middelstuk met die La Bri-logo en die wynnaam en oesjaar. Elkeen is, op sy eie manier, uitsonderlik mooi, en tog is die tema wat deur al die etikette loop, baie duidelik. Al die Kaapse blomme, behalwe een, is spesifiek aan die Wes-Kaap.

Die Kaapse blomme op die sewe bestaande etikette is in ‘n tuin naby die nuwe proelokaal geplant.

La Bri se sewe kultivars (cabernet sauvignon, cabernet franc, merlot, petit verdot, shiraz, viognier en chardonnay) beslaan sowat 19 van die plaas se 24 hektaar en wissel in ouderdom tussen 3 en 26 jaar. Slegs druiwe wat op die plaas geplant word, word vir La Bri se wyne gebruik. Claude sal binnekort van die ouer wingerdblokke verwyder wat sukkel om topgehalte druiwe te lewer as gevolg van hul ouderdom, asook sommige klein dele wat die rolbladvirus het. Die plan is om hulle met semillon en viognier te vervang.

Die La Bri-wyne bestaan weer uit een reeks, aangesien die Reserve- en Limited Release-reekse verdwyn het. Al die wyne sal nou beskikbaar wees in die pragtige Kaapse blomme-etikette, insluitend die ouer oesjare soos die Affinity 2004 (‘n Bordeaux-versnit). Daar is tans sewe wyne in die reeks (kyk hier onder). Die heerlike rooi versnit moet nog naam kry. Hierdie wyn en die Viognier sal slegs in die proelokaal verkoop word. In 2009 sal ‘n Sauvignon Blanc, wat van ingekoopte druiwe gemaak is, by die reeks gevoeg word. Wanneer druiwegehalte reg is, sal ‘n vlagskip rooi versnit gemaak word, heel waarskynlik in klein hoeveelhede. Die huidige reeks is:

1. Viognier 2008 (R80 - proelokaal alleenlik)
2. Chardonnay 2007 (R62-R68)
3. Merlot 2006 (R70-R75)
4. Affinity 2004 (R75-R80)
5. Cabernet Sauvignon 2006 (R70-R75)
6. Shiraz/Viognier 2007 (R85-R90)
7. Onbekende rooi versnit 2007 (R45 - proelokaal alleenlik).

 

Onderskrifte:
1. Wynmaker Jocelyn Wilson in die nuwe wynkelder op La Bri.
2a. Affinity 2004. 2b. Die Affinity 2004 word gepaar met die Geissorhiza radians (Wynkelk).
3a. Chardonnay 2007. 3b. Die Chardonnay 2007 word gepaar met die Clivia miniata (Clivia).
4a. Cabernet Sauvignon 2006. 4b. Die Cabernet Sauvignon 2006 word gepaar met die Watsonia Alba (Wit Watsonia).
5a. Shiraz Viognier 2007. 5b. Die Shiraz Viognier 2007 word gepaar met kruie.
6a. Merlot 2006. 6b. Die Merlot 2006 word gepaar met die Amaryllis belladonna (Maartlelie).
7a. Viognier 2008. 7b. Die Viognier 2008 word gepaar met die Ixia viridiflora (Groen Ixia).
8. La Bri se eienaar, Robin Hamilton, by Jocelyn Wilson
9. ‘n Naby-lugfoto van La Bri met die nuwe wynkelder
10. ‘n Binnefoto van die nuwe wynkelder op La Bri