Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Kos & Wyn | Food & Wine > LitNet Virtuele Wyngemeenskap > Wynnuus

Two Oceans se lekkerdrinkwyne beïndruk beoordelaars en wynskrywers


Johann H Crafford - 2008-10-28

Wie sê gewilde en sakpaswyne kan nie ook van topgehalte wees nie? Two Oceans, wat pas hoë lof in die befaamde wynkenner Robert Parker se Wine Advocate ontvang het, het nou ook op 'n multinasionale paneel in die VK indruk gemaak. Die handelsmerk het by vanjaar se International Wine & Spirits Competition (IWSC) in Londen, waar dit teen veel duurder wyne te staan gekom het, twee silwermedaljes verower.

Een van die van die silwermedaljewenners, wat ook die hoogste punte in sy klas gekry het, is die 2008 Shiraz Rosé wat pas bekend gestel is. Dis 'n uiters drinkbare droë wyn met 'n alkoholinhoud van 11 persent, 'n lewendige bessiesmaak en vars en fris suur. Die ander is die mediumvol 2007 Shiraz Cabernet Sauvignon, 'n verfrissende, lekkerdrinkversnit van speserye en ryp, sappige vrugte.

Die twee wyne wat in Wine Advocate onderskeidelik 87 en 86 punte gekry het, is die 2007 Shiraz en die 2008 Sauvignon Blanc.

Brad Gold, Two Oceans se handelsmerkbestuurder en die jongste persoon wat hom as 'n Kaapse Wynmeester bekwaam het, sê "gewild" beteken nie sonder verdienste nie. "Two Oceans-wyne is wel fris en onopgesmuk, gemaak in 'n toeganklike styl vir ontspanne alledaagse drinkgenot, maar hulle word nogtans met 'n besonder skerp fokus op detail gemaak.

"Oral ter wêreld verbeter wyngehalte oor die prysspektrum heen, want kultivars word al hoe beter by liggings gepas, en wingerd- en kelderbestuur verbeter gedurig. Two Oceans is 'n globale handelsmerk wat op elke vasteland te koop is. As ons wil hê mense moet ons raaksien en lojale aanhangers word, moet ons ware gehalte teen 'n aanloklike prys bied. Ons maak nie wyne om medaljes te wen nie, maar om mense se smaak te bevredig. Wanneer die wyne wel kritiese erkenning kry, bevestig dit nogtans dat ons ʼn puik standaard handhaaf, en veral nou, waar almal kostebewus is, vind hulle groot byval by wynliefhebbers."

Die plaaslike kleinhandelprys van die wyne in dié reeks is sowat R26.