Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Kos & Wyn | Food & Wine > LitNet Virtuele Wyngemeenskap > Wynnuus

Van Ryn vanjaar beste ter wêreld x 2


Johann H Crafford - 2008-10-28

Die Van Ryn's-distilleerdery naby Stellenbosch is tydens twee belangrike toonkaste vir die globale spiritualieë-broederskap as die skepper van die beste brandewyn in die wêreld aangewys.

Eers het Van Ryn's vroeër vanjaar by die International Wine & Spirits Competition (IWSC) in Londen die titel Beste Brandewyn ter Wêreld met sy 20 Year Old Collector's Reserve verower, en nou het hy die International Spirits Challenge (ICS) se brandewyntrofee vir sy 12 Year Old Distiller's Reserve ingepalm.

Dié seëvierende potketelbrandewyn is gekies uit talle brandewyne wat orals ter wêreld buite Cognac gemaak word. Die ooreenstemmende trofee vir konjak is gewen deur Frapin Multimilesime Cognac Grande Champagne - voorwaar goeie geselskap.

Boonop het die ISC-beoordelaars 'n goue medalje aan Van Ryn's se 10 Year Old Vintage-brandewyn toegeken nadat dit 'n klompie maande gelede ook tydens die IWSC met goud vereer is.

Van Ryn's se 12 Year Old vaar strykdeur puik, want hy is al twee maal tevore tydens die IWSC as die beste brandewyn ter wêreld aangewys.

Al vier brandewyne in Van Ryn's se Collection Reserve-reeks, met inbegrip van die 15 Year Old Fine Cask Reserve, kry gereeld die hoogste punte by dié twee kompetisies en ook by kleiner Europese kompetisies.

Johan Venter, wat die brandewyne in Van Ryn's se reeks maak, sê hy probeer die lat elke jaar lig. "Natuurlik streef ons 'n konsekwente styl na, maar ons probeer om elke weergawe van elke versnit te verbeter wanneer ons dit maak. Selfs die kleinste graadverskil kan die geur en smaak beter laat pas en 'n ryker kompleksiteit, ronder en sagter karakter en talmender nasmaak meebring."

Verlede jaar het Venter die Distilleerder van die Jaar-trofee van die IWSC na Suid-Afrika teruggebring.

Van Ryn's Collection Reserve-brandewyne is te koop by die distilleerdery op die walle van die Eersterivier in die Vlottenberg-vallei naby Stellenbosch. Gekeurde spesialiste orals in die land hou dit ook aan.

Foto: Johan Venter