Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Kos & Wyn | Food & Wine > LitNet Virtuele Wyngemeenskap > Wynnuus

Eerste Dalla Cia cabernet sauvignon pure genot in 'n glas


2008-10-28

Dalla Cia, ‘n geliefde en gerespekteerde familie in die Kaapse wynland wat bekend is vir hulle puik wyne en grappa, het so pas hul eerste cabernet sauvignon bekendgestel - 'n klassieke rooiwyn met net soveel gulheid en karakter as sy groothartige skepper.

"Ons speel al vir 'n wyle met die idee om 'n cabernet sauvignon te maak met 'n klassieke styl en goeie verouderingspotensiaal, maar met sagter tanniene en 'n fluweelsagte struktuur," sê passievolle wynmaker Giorgio Dalla Cia.

"'n Wyn wat vandag geniet kan word vir onder 'n R100, 'n segment in die mark waar ons beslis groei verwag," voeg hy by.

Hierdie goedgestruktureerde, volronde 2005 Cabernet Sauvignon is vir 18 maande in 70 persent nuwe en 30 persent tweedevul Franse eikehoutvaatjies verouder, wat verseker dat die wyn die mond vul.

"'n Boeket van bloubessies en sigaardoos met ‘n speseryagtige ondertoon" is hoe Giorgio dié weelderige wyn met sy aanloklike lang nasmaak beskryf.

Giorgio, wat wyn en grappa saam met sy seun George onder die Dalla Cia-naam maak, glo daarin om wyne met hul eie persoonlikheid te maak met agting vir die terroir en die inherente karakter eie aan die druifsoort soos dit die eg Franse tradisie betaam.

"Wyne word gevorm uit respek vir die kwaliteit van die druif en die terroir, vermeng met jou eie unieke persoonlikheid," sê Giorgio.

Besoek die Dalla Cia-distilleerdery in Laer Dorpstraat by die Bosman-kruising in Stellenbosch en proe hul wyne en grappa by die proelokaal langs die Pane e Vino Kos- & Wynkroeg, wat deur Elena Dalla Cia, George se vrou, bestuur word.

Vir meer besonderhede, skakel die distilleerdery by (021) 888 4120, Pane e Vino by (021) 883 8312, of besoek www.dallacia.com.