Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Reis | Travel > Artikels | Features

Slanghoek bied ontvlugting van die stadsgewoel


Johann H Crafford - 2008-10-23

Ek dreig al lank om in die natuurskone Breedekloof te gaan kuier, en toe ek eendag in die koerant lees van die Slanghoek-bergoord (023-3443138) in daai einste kloof, besluit ek van praat kom tog net niks. Dis dade wat tot iets lei, en onlangs vat ek en vroulief toe mos die pad.

Met die N1 langs is ons tot by die afdraai na Rawsonville (R101). Hier is ons regs en volg toe die pad tot waar die aanwysings ons links laat draai, Slanghoek toe. En so ‘n hand vol kilometer verder vind ons toe die oord reg langs die pad, aan die voet van die Slanghoekberge, so bietjie meer as ‘n uur se ry van Kaapstad af. Dis nou nadat ons verby die Dam Fine Café, Goudini Spa en ‘n spul wynmakerye gery het.

Die Slanghoek-bergoord bied gerieflike akkommodasie in agt chalets, van ‘n tweebed (waarin ons die naweek gebly het) tot ‘n sesbed, en die tariewe wissel van R480 tot R760 per nag. Dan is daar twee luukse dubbelkamers in die hoofgebou (teen R200 per persoon per nag) en 13 en suite-safaritente vir twee (R420 per nag) of vier mense (R470 per nag). En dis nie sommer súlke tente nie!

Verder is daar 14 staanplekke vir woonwaens of tente op gras teen die Slanghoekrivier. Die area is met elektrisiteit toegerus en die tarief is R50 per persoon per nag met ‘n minimum van R200 per staanplek.

Die oord het twee swembaddens, waarvan een verhit word, ‘n springmat en speelparkie vir die jongelinge, ‘n lekker staproete wat ook vir bergfietsryers ‘n lekker uitdaging sal bied, konferensie- en onthaalgeriewe, ‘n lapa en ‘n klipkerkie. En daar's ‘n klein winkeltjie vir die vergeetagtiges.

‘n Putt-putt-baan is in aanbou en inligting oor ander buitemuurse aktiwiteite in die omgewing, soos stap- en bergfietsroetes, is by die inligtingskantoor beskikbaar. Fietsryers sal die teerpad verby die oord ook baie geniet. Dis stil en die natuurskoon is absoluut ongelooflik.

Ons chalet het alles gehad wat mens vir ‘n heerlike, ontspanne wegbreek benodig. Ons het net eet- en drinkgoed saamgevat, en heelwat rooikrans- en wingerdstompies, want ek hou van vuurmaak! Daar's ook ‘n TV met 9 kanale.

En baie belangrik, hier's reëls wat streng toegepas word. Geen dagbesoekers, geen musiek en geen diere om jou sielerus te bederf nie. En as jy oortree, is jy uit by die hek. Geen waarskuwings, geen terugbetalings. En dis soos dit hoort.

Daardie Vrydagaand het ek biefstuk buite op die kole gegooi, terwyl ‘n vuurtjie ook knoesig in die binnebraai geknetter het, en na ‘n heerlike nagrus in absolute stilte het ek die Saterdagoggend die kort staproete (sowat 20 minute in ‘n rigting) tot bo-op die koppie teenaan die oord aangedurf. Die uitsigte van daar bo maak die stap (of bergfietsrit) dubbel en dwars die moeite werd.

As jy moeg word van kosmaak, is daar altyd die Bergsig Bistro op die bekende Bergsig-wynlandgoed (023-3551603), waar ons die Saterdagmiddag ‘n heerlike tapas-ete geniet het, en die Opstal Restaurant (023-3443001), waar ons die Sondagmiddag ons naweek afgesluit het. Die restaurant is op die ewe bekende Opstal-landgoed geleë. Dan is daar ook die bistro op Jason's Hill en die Dam Fine Café, albei ‘n paar kilometer se ry van die oord af.

Daai Sondagmiddag, na ‘n heerlike ontspanne naweek weg van die stadsgewoel, is ons toe op vroulief se versoek oor Bainskloof terug huis toe.

Die Slanghoek-bergoord kan ek beslis aanbeveel. Dit bied alles vir ‘n heerlike wegbreek van die alledaagse, en die hele omgewing is ‘n rykdom van ervarings en avonture. En alles omring van die mooiste natuurskoon denkbaar.

Foto 1: Subaru se manjifieke Tribeca word omring deur chalets (links) en tente (agter en regs) in die Slanghoek-bergoord.

Foto 2: Die asemrowende vallei vorm die perfekte agtergrond vir die bergoord tussen die bome.

Foto 3: Pa en dogter geniet die swembad by Slanghoek.