Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Vintage@LitNet

60's: Wiskundige leopard crawl


Hannes Steyn - 2008-10-23

Ons matriek-outjies van die laat sestigs het die vooruitsig van Militêre Diensplig met gemengde gevoelens hanteer. Ek, byvoorbeeld, het dag na dag aan maniere gedink oor hoe om medies ongeskik verklaar te word. Stories het die rondte gedoen van hoe jy uit jou comfort zone gepluk gaan word: voor dagbreek opstaan; verskreeud rondjaag heeldag; ure lange fullpack drill; oopte-geslapery tussen muskiete en oorkruipers; Angola-terries om elke draai; maande weg van die huis. Die gedagtes hieraan het my koue rillings gegee en ek het bekommerd moontlikhede oordink oor hoe om die naderende onheil te duck-'n-dive.

Dit was nou ek, maar dan was daar diegene aan die ander kant van die skaal. Vat nou maar vir Triple-Jay Jonk. Glo'n brief aan die Weermagkantoor geskryf om seker te maak dat hulle sy helmet-grootte wel in voorraad het en dat hulle vir hom 'n geweer moet opsysit met 'n nommer wat maklik onthoubaar is.

Maar dit kom nie naby Salla Labuschagne se dinge nie.

Dit was in die wiskundeklas hier kort voor die rekordeksamen. Juffrou Sm... (nee wat, laat ek eerder nie haar naam noem nie, want hier begin my bek klaar kwyl) was besig om iets te verduidelik, maar al ons ouens se aandag was eerder gesentreer op haar eina-mini. Blikskottel, maar sy het darem bene gehad wat ... wat eerder op 'n Scope-binneblad hoort. Skynbaar onbewus van die rede vir ons onvermoë om die formule te verstaan, nooi sy ons toe vorentoe en ons skaar gretig rondom haar lessenaar. Die naaste wat ek aan haar lyf kon kom, was by die hoek van die lessenaar en ek probeer maar konsentreer.

Halfpad deur die verduideliking is ek die ongelukkige een wie se oog sy vang en sy vra my toe 'n vraag. Ek was redelik seker van my antwoord, maar toe ek my mond oopmaak, vang my oog 'n beweging hier skuins langs my. Ek het al begin praat, maar nuuskierigheid kry die oorhand en ek verbreek oogkontak met haar en loer vinnig afwaarts.

Dit was Salla - seker besig om sy leopard crawl te oefen vir volgende jaar se diensplig. Maar wat de hel het die klein spieëltjie in sy uitgestrekte hand daarmee te doen gehad? wonder ek nou nog.