Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Reis | Travel > Kompetisies | Competitions

Pofadder se Frikkie met die rooibaadjie


Swerwer - 2008-10-22

Die goud wat in die Noord-Kaap versteek is, is nie ondergronds nie; dit lê vasgevang in stories, stories wat die essensie en humor van dié droë gedeelte van ons land weerspieël. Die humor van die Noord-Kaap is naas die mense en hul stories sy grootste skat.

Een só ’n storie is ’n paar jaar gelede om ’n kampvuur aan my vertel ...

Op Pofadder het tannie Botha in een van die ouer huisies aan die onderkant van die kerk gewoon. Weduwee al vir tien jaar. Oorkant die straat het oom Daantjie gewoon. Wewenaar van vyf jaar.

Oom Daantjie was tannie Botha se vriend en sommige kerkmense het geskinner: “Meer as dit”. Veral laat saans wanneer Pofadder se straatligte ná 10  afgeskakel was.

Tant Botha het elke dag, vyfuur smiddae, haar tuin natgegooi. Dis wanneer die hitte draagliker was en die sandgrond nie meer so dorstig aan elke druppel vog gesuig het nie. Sesuur het sy haar spannetjie kapokhennetjies en die een kapokhaantjie, Frikkie, hok toe aangekeer en die kombers voor die hok afgerol vir die koue nagte van die Noord-Kaap. Soos oom Daantjie vertel en geglo het: “In die dag skroei die son en in die nag ys die maan.”

Een middag staan tant Botha weer en tuin natlei, maar daardie dag was die skouertjies kromgetrek met ’n tjalie in samesyn met die gemoed daarom gedrapeer. ’n Patetiese figuur teen die mirragson.

Met ’n aanblik van hierdie prentjie het oom Daantjie ook nie op hom laat wag nie en in sy haas om by tant Botha te kom, trap hy amper in een van die tante se netjies beddings, die een met die petunias. Sy kyk op met waterige blou oë en hy sien hier is moeilikheid, groot moeilikheid.

“Wat’s fout?”

“Dis Frikkie,” sug-snik sy. Dankbaar vir die barmhartige oor.

En so ontvou die storie hom uit haar relaas.

Die vorige aand het sy soos gewoonlik al die werfkapokkies aangejaag hok toe, maar in haar haas om reg te maak vir oom Daantjie se ligte-af besoek het sy vir Frikkie gemis. En vanoggend vind sy Frikkie voor die hennehok, stokstyf en yskoud. As eerbetoon en uit ootmoed met die afgestorwe Frikkie het sy al sy vere gepluk en in ’n kussinkie gestop, ter herinnering aan haar eens geveerde vriend. Sy naakte liggaampie het sy op die komposhoop geplaas sodat sy dood lewe aan ander organismes kon skenk.

“Dis vreeslik,” het oom Botha met skor stem geantwoord.

“Nee, dis 't einde niet,” en tante Botha vertel verder.

Toe die oggendsonnetjie warm begin bak, het sy ’n geskarrel op die werf gehoor en met dié dat sy deur die kombuisvenster loer, het ’n vreeslike gesig haar begroet. Frikkie! Sonder ’n draad vere! Frikkie was nie dood nie, net verkluim, en die warmte van die son en die broeiende komposhoop het die ys in sy are vervang met lewe. Tant Botha het onmiddellik vir Frikkie ’n rooi baadjie en geel broekie gebrei en hom aangetrek, en daar was hy weer die haan van die werf!

“Nou vir wat die lang gesig?” “Ek kry vir Frikkie so jammer”, en weer eens sug-snik sy.

“Hoekom?”

Tante Botha beduie na die hennetjies wat om die hoek geskarrel kom. Kekkelend loer hulle om na Frikkie, wat in sy rooi baadjie en geel broekie ’n kortkop agter hulle aangehink kom op een been – terwyl hy verwoed probeer om die geel broekie met sy ander pootjie uit te trek.