Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Vintage@LitNet

1994


Hannelee Doubell - 2008-10-20

Dit was 1994. Die verkiesing - die eerste demokratiese verkiesing - was op hande. ‘n Boer is naby Mafikeng doodgeskiet langs sy Mercedes - die gevegsvoertuig waarmee die groep mans na Bophuthatswana wou opruk. Koelbloedig tereggestel.

Mense het blikkieskos gekoop. Ek het nooit van blikkieskos gehou nie en het maar liewer nie gekoop nie. Ook nie kerse, paraffien of vuurhoutjies nie. Ek het veel eerder my geld op ‘n tiendae-kamp by die Castle Walk-karavaanpark naby Sabie spandeer. Daar was heerlike herfsaande met die soet-muf reuk van verrotte blare en klammigheid. Die opblaasmatras was deurgelê tot op sy bodem en alles was nat na ‘n nag se goeie Laeveldse reën. Ons het braaivleisvure probeer stook met onbraaibare denneplanke en saans geswem.

Soos ‘n volstruis met my kop in die sand wou ek nie glo dat die politieke doemprofete reg sou wees nie.

Ek het die geleentheid gekry om iewers in Centurion by ‘n verkiesingslokaal te help en baie artikels gelees oor die moontlike uitslag van die verkiesing. Ek wou glo dat die NP die knoop sou kon deurhaak. De Klerk was immers ‘n man van integriteit. Almal moes dit tog raaksien ...

Die realiteit het my egter soos ‘n glas koue water getref toe ek ‘n nuwe stembrief moes uitreik in die plek van ‘n bedorwe een. "ANC". Groot en duidelik.

Ek het besef dat enige rooskleurige hoop op die behoud van ‘n wit regering regtig daarmee heen was. Die getalle was teen "ons". Ek sou eers heelwat later besef dat ons voorvadersondes ook teen "ons" was. Op 27 April 1994 is ek skielik van enige illusie oor die toekoms tot nugterheid geruk. Die ANC sou wen, ver wen.

Mnr Buthelezi het op die laaste nipper besluit om aan die verkiesing deel te neem. Buthelezi-plakkers is inderhaas gedruk en aan die verkiesingslokale gestuur. Enige stembrief sonder ‘n Buthelezi sou ongeldig wees.

As konsensieuse amper-dertigjarige het ek gesorg dat ek soveel moontlik Buthelezi's plak. Dit het my laat dink aan my kinderdae toe ons vir sakgeld nuusbriewe help uitstuur het. Teen twintig sent vir 200 briewe kon jy kon maklik R2 sakgeld op ‘n Saterdag maak - mits die voorafgeadresseerde koeverte nie opraak nie. Want al was daar nog nuusbriewe, was die op koeverte ‘n teken dat die werk klaar was en die inkomstebron dus uitgeput.

Die Buthelezi-plakkers het opgeraak. Meer mense het ingestroom. Ek was gestres. "Hoe nou gemaak?" Almal wat sou kon stem, sou bedorwe stembriewe hê.

Die verkiesingskommissie by Gallagher Estate, waar ‘n sirkus uit eie reg volgens die media aan die gang was, het die verkiesing met nog ‘n dag verleng. As Buthelezi-plakkers op was, moes stembriewe sonder die plakkers aanvaar word. Kiesers kon dit wel inskryf. Onthou ek reg?

Die uitslag van die verkiesing was ‘n onderhandelde ooreenkoms. Almal het die omvang en getalle van die nuutgevonde vryheidsgolf onderskat. ‘n Tsoenami van vryheid. Oorweldigend weens sy krag ... sy omvang ... sy verlossing. Ook vir my as wit Suid-Afrikaanse vrou.

Wie sou kon raai dat hierdie wit vrou haar kinders twee aande voor die presidensiële inhuldiging deur die strate van Pretoria sou neem om aan hulle die vlaggies te wys? Die nuwe seskleur (sjoe, maar ‘n Boere-omie het my darem verkwalik toe ek later so daarna verwys ...) het feestelik-vrolik teen ‘n menigte lamppale en vlagpale gehang. Dit was reënboogmooi. "Magic." My jong kinders was in vervoering. Pretoria was pragtig en opwindend. Sou daar tóg ‘n toekoms wees?

Ek was bevoorreg om met die inhuldiging van die presidensiële driemanskap, daardie betrokke Mei-oggend, te help met die ontvang van buitelandse hooggeplaastes. Koue hande en voete kon nie die wonderlike ervaring koud maak nie. Ek onthou veral mnr Matthews Phosa se groot postuur en vriendelike, oop gesig. Groot bokkie-oë. Die Afrikaans wat hy gepraat het. Ek sou eers later hoor dat hierdie eertydse provinsiale leier van Mpumalanga ‘n bekroonde Afrikaanse digter was. Genugtig!

*

Ek kyk vandag met nostalgie terug na die wondertyd in 1994. Die versoenende vergewensgesindheid van oudpresident Mandela. Die waagmoed van De Klerk, wat net eenvoudig moes doen wat hy geweet het reg was. Al het dit ook uiteindelik tot politieke selfmoord gelei.

Maar was dit waarlik politieke selfmoord? Moes die saad nie eers sterf voordat die koringkorrel kon ontkiem nie? Moes die "karma" van die verlede nie doelbewus verbreek word deur ‘n bewuste besluit nie?

Elke dag in die nuwe Suid-Afrika was tot dusver nie ewe maklik nie. Soms voel ek behoorlik hoe daar teen my as wit Suid-Afrikaner gediskrimineer word. Ek kom soms steeds geestelik bebloed uit verkeerd-hanteerde situasies. Ek mis dit om in my moedertaal te werk. Soms mis ek "my" kultuur by die werk. Nogtans sou ek nie die verryking in my lewe deur met ons ewe-broeders en -susters van donkerder pigment te assosieer, wou misloop nie.