Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Reis | Travel > Kompetisies | Competitions

Riel innie Noord-Kaap


Mara Kellerman - 2008-10-20

"Hierdie agterstervoorom georganiseerdheid kan ek mos nie verdra nie," laat ant Maria luidrugtig hoor van waar sy meerkatregop op die toer-yskassie in ons minibus gaan sit vir die soektog. Khuboes se drie of wat stofstrate is skielik stadsgroot - Tokkie is weg. By elke huis of vier hop ant Maria uit en roep dat 'n stofwolk opslaan: "Is Tokkie hier? Waar is daai Tokkie? Ons moet dans vanaand." Dan's dit weer terug op die yskassie met 'n vrome: "Ry maar vorentoe, meneer."

Dis so twee huise vanaf ons beginpunt dat Tokkie druipstert om 'n huishoek verskyn met gestrykte lapbroek en onderbaadjie oor die arm. "Laat die musiek begin! Ek het 'n dansmaat gevind!" weerklink kleintyd se Aspoestertjie-voorlesing oor die radio in my kop, maar vanaand gaan die riel gedans word. Die geleentheid? Ek, skoonsus en broer vergesel 'n klompie ingevliegdes op 'n fotografietoer Noord-Kaap langs Namibië toe, en het bespreek vir 'n kultuuraand in die matjieshutte van Khuboes, tradisionele ete en dans ingesluit.

Tokkie gevind, bondel al wat nuuskierige dorpenaar is driedubbel die bussie in op pad na die kampplek. Dáár is die bokbredie en stampmielies reeds op die vuur en askoek word uitgerol. Uitlandse fotograwe wat die laaste soetpiek-lig op die berge vasvang, kyk verbaas op van agter hul driepote na die mensdom wat uit dié taxi peul.

En toe begin die kuier. Oom Jan tokkel die kitaar en Tokkie dans voor, maar kort voor lank begin die vryvloei van bokswyn in die blikbekers inskop. Tobie, wat op die diamantveld werk, fluister in my oor dat hy my wil leer Nama praat, maar die dorp se girls waarsku tersluiks hy's nie te vertrou nie. Toe gryp oom Jan my en ek skuifel voort terwyl hy kapokhaantjie om my. "Jy's goed - leer julle dié dans op skool?" vra Vasuda op Amerikaanse Engels toe ek moeg op 'n boomstomp neersak. "Ja, ons moet," antwoord ek met 'n giggel, "dis immers ons volksdans."