Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Kos & Wyn | Food & Wine > LitNet Virtuele Wyngemeenskap > Wynnuus

Die Swartland lap sy wyn- en ander geheime uit


Johann H Crafford - 2008-10-20

Laaaank gelede, toe ek nog ‘n motorskrywer was, het die skakelhoof van ‘n bekende Japanse motorvervaardiger eendag gesê: "As Rondom Lelik (die skuilnaam vir die skakelhoof van ‘n bekende Duitse motorvervaardiger!) jou maan toe vat vir ‘n bekendstelling, vat ek jou Mars toe."

En so het ons as motorskrywers gewoond geraak aan beter en beter ... en beter. En elke keer as ons gereken het dis nou die beste, was daar iets beter om die draai.

Ook maar goed, want die tjekkie aan die einde van die maand was maar klein!

Die afgelope paar jaar het ek dieselfde in die wynbedryf begin gewoond raak. Nes jy dink dis die beste, wag iets beter om die draai!

Toe ek en kollega Sonja Badenhorst dus die uitnodiging van Swartland-Wynkelder kry vir ‘n wegbreek in die middel van die week na ‘n "onbekende" bestemming, het ek vermoed ons gaan verras word. Sonja natuurlik nie, want sy weet toe nog nie hoe die wynmense kan uithaal en wys nie! En ek praat nie net van wyn en kos nie.

En daar daag ons en ‘n paar ander wynskryfkollegas toe die Woensdagmiddag by Swartland-Wynkelder op, en na ‘n heerlike vonkelwyn laai ons ons bagasie agterin fô-baai-fô's (dis toe ook die eerste aanduiding dat iets spesiaals op ons wag!) en daar gaan ons!

‘n Katspoeg of drie anderkant Malmesbury draai ons regs en toe ons ons oë uitvee, toe's ons binne ‘n kloof en teen die bulte uit tot byna daar waar aarde en hemel paaie kruis.

En sonder 'n fô-baai-fô sou dit maar gelol het om daar uit te kom, daar waar ‘n ruim boma (met mure en groot vensters) op ons gewag het, asook kos vir Afrika en die lekkerste nektar wat Swartland-Wynkelder al so ver en wyd bekend gemaak het. Maar daai uitsigte op die Swartland, so ver as Moorreesburg in die weste en Wellington en Paarl in die noordooste, was iets asemrowends.

Kyk, nie een van ons het geweet die Swartland kan só mooi wees nie. Golwende heuwels en damme glinsterend met water, en wingerde so ver jy kan sien, en wat ‘n lappieskombers vorm wat jou oë vasgevang hou.

En daar staan ons klompie toe, net onderkant die hemel, en afkyk op God se ongelooflike skepping, ‘n wonderlike wyntjie in die hand en elke dan en wan ietsie anders smaakvol vir die kouspiere! En daai wyntjie verander elke nou en dan van geur en later ook van kleur, en dit gaan geil!

Daar was Idelia en Indalo, Swartland-reserwe en pleinweg Swartland. En so tussendeur het my smaakkliere hul hart verloor op ‘n gehoute chenin blanc en later die aand ‘n shiraz/cabernet sauvignon-versnit wat ek later eers uitgevind het nie plaaslik beskikbaar is nie. Vir wat, wil ek nou graag weet, kry die uitlanders dan nou die voorreg?

Nouja, heelwat later daai aand, na ‘n ete uit die boeke en ‘n sosiale samesyn wat vir niks terugstaan nie, is ons na ons slaapplekke geneem, ook daar tussen die koppe, en die volgende oggend, met ‘n koffietjie in die hand, het ons ons weer eens verstaar aan die skoonheid van die omgewing.

En net daar en dan het ek besluit ek gaan in die afsienbare toekoms ‘n wynreisartikel oor hierdie asemrowende omgewing kom doen en ander mense ook van hierdie versteekte vallei kom vertel, en van alles wat hier te sien, te ervaar en te doen is.

Maar so ietsie oor ons gasheer vir hierdie wonderlike ervaring. Swartland-Wynkelder se naam is afgelei van die inheemse plantegroei, of renosterbos, wat sekere tye van die jaar aan die gebied so ‘n donker of swart voorkoms gee. Jan van Riebeeck het hierna as "het Zwarte Land" verwys.

Die kelder is in 1948 deur 15 boere gestig en teen 1950 het 48 boere jaarliks sowat 2 500 ton druiwe gelewer.

Die vrugbare grond en matige klimaat van die streek is perfek om gehalte-druiwe te kweek en die natuurlike, onbesproeide boswingerdstokke lewer kleiner druiwebessies met hoogs gekonsentreerde kleur en geur.

Vandag verwerk Swartland-Wynkelder jaarliks sowat 20 000 ton druiwe wat van byna 60 plase af kom. Die kelder hanteer elke aspek van die produksieproses om algehele beheer oor en deurlopende gehalte van hul produkte te verseker.

Foto 1: ‘n Asemrowende uitsig op die Swartland. Nie gedink die Swartland kan so mooi wees nie, nè!
Foto 2: ‘n Voorsmakie van wat die aand op ons gewag het. Dit het by puik begin en daarvandaan net al hoe beter geword!
Foto 3: Die manne aan die roer van sake by Swartland-Wynkelder - Jannie Vermeulen (besturende direkteur), Andries Blake (keldermeester) en Chris Whelpton (bemarkingsbestuurder).

As jy meer wil uitvind oor Swartland-Wynkelder klik hier.