Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Kos & Wyn | Food & Wine > LitNet Virtuele Wyngemeenskap > Wynnuus

Nederburg wen enigste goud vir Suid-Afrika


Johann H Crafford - 2008-10-20

Nederburg se rits bekronings duur voort. Razvan Macici, die keldermeester, en sy span het die enigste goud vir Suid-Afrika by die 2008 International Sweet Wine Challenge in Australië verower, in dieselfde week dat hulle by in die Michelangelo Internasionale Wyntoekennings die meeste Grand d'Or-medaljes van enige deelnemer in hul sak gesteek het.

Vroeër vanjaar is dié wynmakery by die Ou Mutual-Trofeewynskou as die suksesvolste produsent aangewys, en het hy boonop die Lexus WINE Shiraz Challenge gewen.

Die Australiese goue medalje - een van net tien wat wêreldwyd uitgedeel is - was vir die 2007-oesjaar van die Nederburg Noble Late Harvest, wat ook 'n Michelangelo Grand d'Or om sy nek kon hang. Dit bied duidelike bewys van 'n vermoë om strykdeur op enige verhoog te presteer, sê Rudolph du Toit, die globale bemarkingsbestuurder.

"Nederburg se welslae in die Australiese kompetisie, wat in die hart van dié land se edellaatoeswyngebied gehou word, is ʼn belangrike mylpaal. Na ons wete is dit die eerste keer dat ʼn Suid-Afrikaanse wyn ʼn goue medalje in hierdie kompetisie verower het. Dit was ook die enigste bekroonde wyn van buite Australië, en die wyn het skouers geskuur met van die voorste name in edellaatoeswyne soos Lillypilly Estate en De Bortoli Wines."

Du Toit het gesê Nederburg se prestasie by vanjaar se Michelangelo, naamlik vier Grand d'Ors, drie goue en 15 silwermedaljes, is ook blyke van uitnemendheid oor sy hele produkreeks heen, van alledaagse tot spesiale fynproewerswyne.