Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Kos & Wyn | Food & Wine > LitNet Virtuele Wyngemeenskap > Wynnuus

Drostdy-Hof seëvier by Value Wine Awards in Kanada


Johann H Crafford - 2008-10-20

Drostdy-Hof, die gewilde reeks toeganklike wyne afkomstig van die skilderagtige Tulbagh-vallei, het uitgeblink by die internasionale Value Wine Awards in Kanada met twee wyne wat met Killer Value-status bekroon is as topgehaltewyne onder $15.

Die 2007-oesjare van sowel die Drostdy-Hof Chardonnay as die Drostdy-Hof Merlot is uit meer as 1 000 wyne afkomstig van 14 lande uitgesonder in die prysklas onder $25, die prys waarteen 97 persent van alle wynverkope in Kanada geskied. Die kompetisie word jaarliks in Calgary, Alberta, gereël deur Wine Access, een van die hoog aangeskrewe Kanadese wyn-en-voedsel-publikasies.

Die wyne is tydens ‘n blinde proe deur ‘n paneel beoordelaars bestaande uit voorste wynskrywers, deskundiges in die bedryf en die paneel kenners van Wine Access self beoordeel.

Afgesien van hierdie toekennings is die Drostdy-Hof Merlot 2007 ook onlangs deur die Toronto Star gekies as ‘n "Summer Sipper" wat sy geld werd is in die $10-prysklas en is dit met ‘n indrukwekkende 88 punte beloon. Hierdie grootkaliber-, vrugtige Merlot met sy rokerige aromas aangevul deur
swartkersie-, leer- en sederhoutgeure en smaaklike geure van ryp swartkersies, speserye en ryp somerpruime op die tong, word deur die Toronto Star aanbeveel as die perfekte pasmaat vir geroosterde vleis en wors - Suid-Afrikaners se bobaas braaikos!

Die Drostdy-Hof Chardonnay 2007 is fluweelsagte wyn met goedsaamgestelde vrugte- en houtgeure wat eenvoudig oorloop van sitrus- en ryp tropiese vrugtegeure. Hierdie Chardonnay is baie veelsydig en kan op sy eie of saam met vis, witvleis en slaaie bedien word.