Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Kos & Wyn | Food & Wine > LitNet Virtuele Wyngemeenskap > Wynnuus

Monis se muskadel is goud in die mond


Johann H Crafford - 2008-10-20

Monis, een van die oudste en mees gerespekteerde name in gefortifiseerde wyne in Suid-Afrika, het hom weer eens bewys as een van die voorste muskadel-produsente in die wêreld. Die 2001-oesjaar het nie net ‘n goue medalje by die 2008 Muscats du Monde in Frankryk verower nie, maar is ook uitgesonder as een van die top 10.

Monis is die enigste Suid-Afrikaanse produsent wat ‘n goue medalje by dié toonaangewende kompetisie ingepalm het. Die houtverouderde Monis Vintage Muscadel 2001 is een van slegs 19 uit die 197 wyne van oor die wêreld wat ingeskryf is vir hierdie kompetisie wat goud ingepalm het.

Om goud huis toe te bring, is nie ‘n nuutjie vir passievolle keldermeester Dirkie Christowitz nie. Sy vorige oesjaar, die Monis Vintage Muscadel 2000, het immers ook ‘n goue medalje by verlede jaar se Muscats du Monde gewen en op eie bodem presteer met ‘n Veritas-dubbelgoue medalje, asook ‘n platinum-toekenning deur die Suid-Afrikaanse Muskadel-vereniging.

Die Monis Vintage Muscadel 2001 is ‘n volsoet muskadel wat gemaak is van rooi muskadel-druiwe afkomstig van die Breëriviervallei. Vyf jaar se veroudering in ou 500 liter Franse-eikehoutvaatjies verleen aan dié muskadel sy kompleksiteit en ryk kleur. Dit het ‘n warm topaaskleur met ‘n rooi skynsel en ‘n baie komplekse neus met sterk muskaat-, rosyntjie-, Kerskoek-, kaneel-, marsepein- en subtiele sitrusgeure.

"In die mond het dié goedgebalanseerde muskadel ‘n delikate houtagtigheid met ‘n fluweelsagte, ryk weelderigheid wat eindig in ‘n lang, talmende nasmaak waaraan ‘n mens sommer gou geheg kan raak," sê Christowitz. "Die wyn beloof om met elke slukkie meer geure aan jou te openbaar."

Christowitz stel voor dat die Monis Vintage Muscadel 2001 regdeur die jaar yskoud op gebreekte ys bedien word. Die bekroonde muskadel sal in 2009 vrygestel word.