Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Kos & Wyn | Food & Wine > LitNet Virtuele Wyngemeenskap > Wynnuus

Versnit-triomf vir Kaapse Wyngilde


Johann H Crafford - 2008-10-17

Die Blaauwklippen-versnitkompetisie vier vanjaar sy 25ste bestaansjaar met 'n rekord-aantal inskrywings van 79 wynklubs regoor Suid-Afrika, asook een internasionale deelnemer van die Verenigde Koninkryk - 'n beduidende toename in deelname teenoor verlede jaar se 64 inskrywings.

Dié kompetisie, gestig deur Blaauwklippen-landgoed, is die enigste van sy soort in Suid-Afrika waar amateur wynklubs hul eie wynversnitte kan inskryf vir beoordeling deur professionele wynkundiges. Benewens verskeie pryse, wat Blaauwklippen-wyn en glasware van Vitria insluit, word die wenners se versnitte onder die Blaauwklippen Barouche-etiket gebotteleer en kommersieel verkoop. Om die 25ste bestaansjaar van hierdie kompetisie te herdenk, is die etiket vir vanjaar se wenwyn spesiaal ontwerp deur die bekende Stellenbosch-kunstenaar, Frans Groenewald. Vitria Glassware borg die kompetisie reeds vir die afgelope 25 jaar.

Die Wine Tasters' Guild of South Africa het al die ander klubs uitgestof en die eindronde gewen wat in Stellenbosch plaasgevind het. Hierdie wyngilde bestaan reeds sedert 1928 en vier vanjaar sy 70ste bestaansjaar. Wat dié oorwinning egter spesiaal maak, is die feit dat hulle vir die afgelope 25 jaar elke jaar aan dié kompetisie deelgeneem het.

"Dis die grootste eer vir ons wyngilde om die Blaauwklippen-versnitkompetisie te wen," sê Ken Kynoch van die Wine Tasters' Guild of South Africa. "Hierdie is die derde agtereenvolgende jaar wat ons in die eindronde was en ons versnit-ritueel is 'n hoogtepunt op ons jaarlikse kalender. Ons maak ons versnit op 'n Sondag op en dit gaan gepaard met baie pret en kameraadskap, gevolg deur 'n middagete."

Die Wine Taster's Guild of South Africa het in die finaal te staan gekom teen This Wine, That Food Club van Stellenbosch, The Knysna Wine Tasting Guild en die Engineers Wine Society van Grahamstad.

Die Wine Tasters' Guild of South Africa se wenwyn is 'n versnit van 15 persent cabernet sauvignon, 30 persent merlot, 46 persent shiraz en nege persent zinfandel.

Volgens Rolf Zietvogel, Blaauwklippen se keldermeester en sameroeper van die beoordelaarspaneel, is die doel van die kompetisie steeds dieselfde vandag as wat Walter Finlayson, voorganger en stigter van die kompetisie, reeds 25 jaar gelede in gedagte gehad het.

"Blaauwklippen poog om die Suid-Afrikaanse gemeenskap van wyngeesdriftiges 'n kans te bied om prakties by die proses van wyn betrokke te raak, asook om klubs iets te gee om na uit te sien elke jaar," het hy gesê.

"Die aantal inskrywings en herhaalde inskrywings onderstreep die gewildheid van die kompetisie en die rol daarvan by wynklubs. Ons is verheug in die deelname van jonger mense, en ons doel vir volgende jaar is om die kompetisie na die opkomende mark te neem en hopelik die kuns en pret betrokke in die versnydingsproses aan 'n wyer gehoor bekend te stel."

Foto: Die wenners, Ken Kynoch en Dennis Gowdy