Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Musiek | Music > Rubrieke | Columns > Theunis Engelbrecht: Sound Bites

Geestesgesondheid in die rondheid


Theunis Engelbrecht - 2008-10-15

Klik op die CD-omslae om dit te bestel by kalahari.net

CD van die maand:

Brian Wilson
That Lucky Old Sun



Brian Wilson (66) was in die 1960’s die baasbrein agter die Beach Boys – nie net het hy die meeste van die groep se liedjies gesing nie, maar hy was ook die produksieleier en het die verwerkings gedoen waardeur die groep se kenmerkende, eiesoortige klank geskep is.

Kort na dié groep se kultusalbum Pet Sounds in 1966 het hy begin werk aan ‘n opus met die naam Smile (wat hy beskryf het as ‘n “tienersimfonie aan God”). Dié album is uiteindelik eers byna 40 jaar later - in 2004 - as ‘n solo-album uitgereik en het ook kultusstatus bereik.

Die grootste deel van Wilson se lewensverhaal in die 40 jaar vandat hy aan Smile begin werk het en dit uiteindelik uitgereik is, lees soos ‘n riller. Hy het in 1967 opgehou werk aan die projek toe die ander lede van die Beach Boys weerstand daarteen getoon het. Kort daarna is sy eerste kind in 1968 gebore en het Wilson ernstige probleme met sy geestesgesondheid ondervind. Rondom die begin van die 1970’s het hy drie jaar lank in sy slaapkamer deurgebring, hom vergryp aan kokaïen en hom ooreet.

In 1975 het sy familie die hulp van die psigoterapeut Eugene Landy ingeroep en Wilson het weer ‘n bietjie musiek begin maak, maar in 1982 het sy emosionele probleme hom weer ondergekry. Daar is berig dat hy óf skisofrenies óf bipolêr is. Landy se hulp is weer ingeroep, dié keer met groter sukses. Dit het gelei tot die uitstekende solo-album Brian Wilson in 1988.

Intussen het Wilson ‘n neurologiese toestand ontwikkel as newe-effek van al die antipsigotiese medikasie wat hy toegedien is. ‘n Jaar na sy opspraakwekkende terugkeer tot die musiekwêreld het die gerugte geloop dat hy ‘n beroerte gehad het; ander wou dit hê dat hy ‘n volslae zombie geword het weens te veel dwelms.

Daarna was hy lank stil, totdat die albums I Just Wasn’t Made for These Times en Orange Crane Art in 1995 uitgereik is, en Imagination in 1998, Getting It Over My Head in 2004 en What I Really Want for Christmas in 2005.

Soos reeds genoem, was die uiteindelike voltooiing en uitreiking van Smile groot nuus in die musiekwêreld in 2004. En nou, vier jaar later, is daar wéér ‘n solo-album van Wilson: That Lucky Old Sun.

Die musiek laat jou dadelik aan die Beach Boys dink en die album kan op een vlak beskryf word as ‘n nostalgiese herbesoek aan die sonskynstrand-onskuld in die Kalifornië en Los Angeles van die 1960’s. Om dit alles interessanter te maak, is daar ‘n skreiende ondertoon: daardie sorgelose sonskyndae is verby, die wêreld het die afgelope 40 jaar baie verander en Wilson self stap aan 70 toe. Met dit in gedagte is dit egter opmerklik dat Wilson nie ‘n klomp treurgat-liedjies geskryf het oor die verlies van sy jeug en van ‘n era toe daar meer optimisme in die wêreld was nie. Die luisteraar moet self daardie konneksie maak.

Wilson bewys weer eens dat hy meesterlik is wanneer dit kom by die skryf van melodieë. Die verwerkings is ook die werk van ‘n genie. Nie net die kenmerkende harmonieë is ‘n bewys daarvan nie, maar ook die instrumentasie en hoe die snitte in mekaar vloei.

Die album loop oor van positiewe energie. Die liedjies is aansteeklik en ver verhewe bo die soort popliedjies wat vandag geproduseer word. Dis beter as enigiets wat die Beach Boys ooit gedoen het. Dit is ook musiek wat jou goed laat voel en die gemoedere aansienlik lig. In die lig van sy agtergrond is dit niks minder nie as ‘n klein mirakel in Wilson se loopbaan. Dit word sterk aanbeveel.

 

John Mellencamp
Life Death Love and Freedom



Dit lyk of dit weer die outoppies is wat deesdae met die beste musiek vorendag kom. Net toe ‘n mens in die 1990’s begin dink het dis klaarpraat met kees, kom John Mellencamp vorendag met ‘n album wat as een van sy bestes beskou kan word. Dit is toe te skryf aan ‘n kombinasie van faktore: goeie liedjies, deurleefde vertolkings en die bydrae van die produksieleier, die legendariese T-Bone Burnett. En dit skaars ‘n jaar na sy vorige sterk album, Freedom’s Road! Dis asof daar nuwe lewe in die man geblaas is (al sing hy op die nuwe CD baie oor die dood).

Die musiek op Life Death Love and Freedom is nie so rockerig soos sy vorige werk nie, maar het ‘n meer folkerige, gedempte, country-blues-gevoel. Die meer gestroopte klank dra juis by tot ‘n groter intensiteit. Dis sielvolle musiek – so sielvol as wat jy kan kry.

Dit is ‘n stewige album met veertien liedjies en talle hoogtepunte: van “Longest Days”, “Troubled Land”, “John Cockers” en “Without a Shot” tot “Jena”, “Mean”, “County Fair” en “A Brand New Song”.


The Verve
Forth




Soos gewoonlik is daar tans weer ‘n kakhuis vol rockalbums om van te kies. Die gunsteling hier by Sound Bites is die Britse groep The Verve se Forth, hul eerste album in 11 jaar wat volg op 1997 se Urban Hymns, wat die groot treffer “Bitter Sweet Symphony” opgelewer het. Die groep is in 1989 gestig en het al twee keer opgebreek, en verlede jaar is aangekondig dat hulle weer herenig het. Weens al die opbrekery is Forth maar net die groep se vierde album sedert hul debuut in 1993, A Storm in Heaven.

Aan die begin is die groep se musiek gebrandmerk as neopsigedelies, maar na hul debuut het hulle meer in die rigting van kitaargedrewe alternatiewe rock begin beweeg. Dit was daarom dalk goed dat die groep vir so lank opgebreek het, want op Forth klink hulle meer of hulle ‘n eie identiteit het. Daar is mense wat sê The Verve klink na ‘n mengsel van U2 en Oasis. Dit is helaas waar, maar gelukkig is dit nie steurend nie en wonder ‘n mens by tye of jy selfs nie The Verve verkies bo U2 en Oasis nie. Die klank beweeg nou meer in die rigting van epiese stadionrock, maar in die tekstuur het daar nog psigedeliese elemente behoue gebly.

“Love is Noise” en “Valium Skies” is die snitte wat die eerste sterkste indruk maak, maar met elke aandagtige herluister klim die musiek behoorlik onder jou vel in. Richard Ashcroft se sang en die kitaarspel is oudergewoonte uit die boek. Een van die interessantste nuwe rockalbums.


Kings of Leon
Only By The Night



Op grond van die geesdriftige reaksie daarop in die buitelandse media het ‘n mens verwag dat Kings of Leon se vierde album ook een van die jongste rock-uitreikings sal wees wat kop en skouers bo die res uittroon. Al is dit nie ‘n vrot album nie, is dit nie ‘n grootse en onvergeetlike stuk werk waarvan ‘n mens nie genoeg kan kry nie. Trouens, dit voel na ‘n antiklimaks.

Die derde snit, “Sex on Fire”, is die snit wat tans die meeste op radio en TV gehoor word, maar is helaas nie die sterkste snit op die album nie en is ietwat van ‘n insinking na die sterk eerste twee snitte, “Closer” en “Crawl” (een van die hoogtepunte op die album).

Only By The Night is ‘n meer introspektiewe album as Kings of Leon se vorige werk en klankgewys beweeg hulle ook, nes The Verve, weg van hulle vorige indierock-klank. Die aanslag is sagter, maar nie minder intens nie. Met die eerste deurluister vind ‘n mens dit moeilik om te verstaan hoekom daar mense is wat meen Only By The Night is een van die beste albums van die jaar. En na die eerste deurluister is daar ook nie veel waarheen jy weer wil terugkeer nie.

Op grond van al die hype vooraf het ek baie meer verwag. Wat weer eens bewys: ‘n mens moet jou nooit steur aan enige hype oor enige kunstenaar nie. Dié album is net vir die mees toegewyde aanhangers van die groep.


Metallica
Death Magnetic



In die eerste resensie van dié album in ’n Amerikaanse musiektydskrif het Brian Hiatt geskryf Death Magnetic “is die musikale ekwivalent van Rusland se inval in Georgië – ‘n skielike daad van aggressie deur ‘n slapende reus”.

Ek het lanklaas in my lewe sulke oordrewe stront gelees. Ek het nog altyd baie van Metallica gehou, maar dis vir my asof hulle nou voorspelbaar begin raak en met dieselfde resep voortploeter. ‘n Mens raak ook moeg vir die rou angs wat bykans deurlopend voortkom en gou afgesaag raak. Die onsamehangende liriek van “The End of the Line” verklap iets hiervan: “Need more and more tainted misery. Bleed battle scars. Chemical affinity. Reign legacy, innocence corrode, stain, rot away, catatonic overload, choke asphyxia, snuff reality, scorch, kill the light, reaper, butchery, asylum overtime.” Ander liedjies waarin ‘n mens ook tot vervelens toe gebombardeer word hiermee, is “Broken, Beat & Scarred”, “All Nightmare Long” en “Suicide & Redemption”.

As ‘n mens dit regkry om verby die lirieke te kan luister, is Metallica se swaar kitaarklanke en rifs steeds baie solied en lekker om na te luister. Tog is vorige albums soos Metallica, Load, Reload en Garage Inc beter as dié een en sal ek eerder weer daarna luister as ek die dag lus is vir ‘n Metallica-fix.


Flobots
Fight With Tools



As jy van hip-hop en rap hou, is hierdie album waarskynlik die beste keuse onder die nuwe uitreikings. Om dié groep van Denver, Colorado se musiek net as hip-hop te beskryf, is misleidend. Daarvoor is hulle gans te eksperimenteel en vernuwend. ‘n Mens kan dit eerder beskryf as ‘n mengsel van hip-hop en alternatiewe rock, en daarbenewens het die groep ook stryk- en blaasinstrumente ingespan wat hulle klank nog meer besonders en vars maak as dié van die meeste hip-hop-groepe.

Die politieke en sosiale kommentaar op Fight With Tools is ook van die kragtigste en mees meedoënlose in onlangse musiek. Reeds op die eerste snit, “There’s a War Going on For Your Mind”, kom dit baie sterk deur en dis die moeite werd om hier aan te haal: "There's a war going on for your mind. Media mavens mount surgical strikes from trapper keeper collages and online magazine racks. Cover girl cutouts throw up pop-up ads infecting victims with silicone shrapnel. Worldwide passenger pigeons deploy paratroopers. Now it's raining pornography, lovers take shelter. Post-production debutantes pursue you in nascar chariots, they construct ransom letters from biblical passages and bleed mascara into holy water supplies. There's a war going on for your mind. Industry insiders slang test tube babies to corporate crackheads. They flash logos and blast ghettos. Their embroidered neckties say stop snitchin'. Conscious rappers and whistleblowers get stitches made of acupuncture needles and marionette strings. There is a war going on for your mind. Professional wrestlers and vice-presidents want you to believe them. The desert sky is their blue screen. They superimpose explosions. They shout at you: ‘Pay no attention to the men behind the barbed curtain nor the craters beneath the draped flags. Those hoods are there for your protection and meteors these days are the size of corpses.' There's a war going on for your mind. We are the insurgents.”

Die lirieke word deurgaans gerap en kom amper soos ‘n tsoenami op ‘n mens af. Dit is revolusionêr, dit is intens en dis genoeg om selfs ‘n dooie perd wakker te skop. Fight With Tools is ‘n balbreker van ‘n album en een van die beter onlangse uitreikings.


Gavin Rossdale
Wanderlust



Rossdale was die sanger en kitaarspeler van die groep Bush en Wanderlust is sy solodebuut. ‘n Slegte album is dit nie, maar daar is niks wat ‘n mens werklik aangryp nie. Drie snitte staan uit: “Future World”, “This is Happiness” en “Another Night in the Hills”. Na die soliede rock van Bush maak Rossdale nou ‘n meer afgewaterde soort poprock. Uiteindelik is dit ‘n frustrerende album: dit is tussen die boom en die bas, nóg vis nóg vlees. Nietemin is dit duidelik dat die man talent het en kan musiek maak. Dit is jammer dat hy sy talent nie optimaal benut het vir sy solodebuut nie, want hy het wel ‘n goeie stem waarna ‘n mens graag sal wil luister, mits die materiaal reg daaraan kan laat geskied.


Black Kids
Partie Traumatic



Dié Amerikaanse indie-rockgroep se debuut het die treffer “I’m Not Gonna Teach Yor Boyfriend How To Dance With You” opgelewer. Die titelsnit is ook werklik uitstaande – en dis omtrent dit. Die groep word getipeer as ‘n indie- en alternatiewe rockgroep, maar hul musiek is eintlik maar niks meer nie as gemiddelde, doodgewone rock wat meestal aan die vervelige grens. Dis een van daardie albums wat net enkele hoogtepunte bevat en dit is dus waarskynlik ‘n beter idee om self te gaan luister van watter snitte jy hou en dit te download eerder as om die hele album aan te skaf.


Morten Harket
Letter from Egypt



Morten Harket is die sanger van A-ha en sy kenmerkende mooi stem het nou al weliswaar ‘n bietjie yler begin word. Die materiaal is pap, suf en sentimenteel. Net twee snitte staan uit: “A name is a name” (wat mens nogal aan George Michael laat dink), en die beste snit op die album: “The One You Are”. Andersins is dit verbeeldinglose popmusiek, hoofsaaklik ballades, wat geen verrassings bied nie.

Mamma Mia
The Soundtrack




Hierdie is die klankbaan van die gelyknamige fliek. ‘n Mens is skepties as jy dit in die CD-speler glip: niemand kan Abba tog beter as Abba self doen nie, so wat is die punt?

Dit is egter nie vrot nie, hoor. Van die weergawes hier is selfs meer groovy as die oorspronklikes, soos “Voules-Vouz” en “Lay All Your Love On Me”. Meryl Streep se weergawe van “The Winner Takes it All” is ook selfs nog beter as die oorspronklike. Dit is jammer Pierce Brosnan sing so min, want hy het glad nie ‘n slegte stem nie (soos gehoor kan word op sy duet met Streep van “SOS”). Daar word dus wel hier ‘n bietjie nuwe lewe in Abba se musiek geblaas. Heel interessant.

Jessika
Shout


Jessika is ‘n nuweling op die Suid-Afrikaanse poptoneel met ‘n fantastiese voorkoms en ‘n baie goeie stem. Dit is duidelik dat sy ‘n natuurlike musiektalent het en dus geen aangeplakte foefies nodig het nie. Die twee uitstaande snitte is “Stand Up” en “Addicted”. Met die poptoneel wat so oorlaai is, hoop ‘n mens net haar stem word gehoor en dat dié album nie ongemerk verbygaan onder die stapels en stapels nuwe pop-CD’s nie.


David Sanborn
Here & Gone



Die bekende saksofoonspeler David Sanborn takel ou blues- en jazz-gunstelinge op hierdie album, soos “St Louis Blues”, “Basin Street Blues” en “Please Send me Someone to Love”. Sanborn is ‘n gerespekteerde jazz-musikant en die produksiewerk op hierdie album is heel stewig. Tog voel ‘n mens dis veel beter om na die ou, oorspronklike weergawes te luister.