Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Boeke | Books > Boekartikels | Articles on books > Afrikaans

Kanker: oorsake, bestuur en behartiging


Riekie Vickers - 2008-10-15

1. Inleiding

Vir talle mense is die woord kanker sinoniem met die dood. Maar soos wat u sal sien, is kanker in party gevalle voorkombaar en, veral wanneer dit vroeg gediagnoseer word, oorwinbaar. Die woord kanker is slegs ʼn generiese term en kan na ʼn wye verskeidenheid toestande verwys. Daar bestaan honderde siektes wat as “kanker” geklassifiseer kan word. Breinkanker verskil byvoorbeeld dramaties van leukemie. Die ooreenkomste tussen kankers is heelwat minder as die verskille. In hierdie taak gaan ek fokus op die ooreenkomste.

 

2. Wat is kanker?

Kanker is ʼn toestand van die selle. Selle is die boustene van weefsel waaruit die hele liggaam bestaan. Selle plant gedurig voort en verdubbel deur ʼn proses wat ons mitose noem. Kwaadaardige selle verdubbel vinniger as die selle rondom hulle. Hulle kan teen die bloedstroom beweeg, van vorm verander en hulle tussen ander selle inwurm. Normaalweg word selle se voortplanting in toom gehou deur die selle rondom hulle wat dieselfde elektrostatiese lading op hulle selmembrane het, die immobiliteit van die selle en die druk van omliggende selle. Kankerselle groei so vinnig dat ʼn gewas vorm wat die funksie van die ander selle beïnvloed. Die belangrikste verskil tussen ʼn kwaadaardige gewas en ʼn onkwaadaardige gewas is dat die selle van kwaadaardige gewasse totaal en  al verskil van hul ouerweefsel. Kankerselle is minder volwasse en gespesialiseerd en meer geprogrammeer om te verdeel as normale selle (Donovan 1981).
 
Daar is egter normale selle in die liggaam wat vinniger verdeel as kankerselle. Een kankersel in weefselkultuur in die bors sal sewe jaar neem om 2 mm in deursnee te word (Donovan 1981).
 
Die eienskap van selle om so spoedig te verdeel is ʼn bate in sekere stadiums van prenatale ontwikkeling, maar ná geboorte kan dit dodelik wees (Donovan 1981).      

 

3. Oorsake

Mense wat kanker ontwikkel, het gewoonlik onkogene – gene wat verantwoordelik is vir kanker. Hierdie gene word oorgeërf van jou ouers. Jy erf gelukkig nie kanker nie, jy erf slegs ʼn predisposisie vir kanker. Omgewingsfaktore kan onkogene aanskakel wat kanker tot gevolg kan hê (Sigelman en Rider 2006).

Daar is ʼn vermoede, maar dit is nog nie bewys nie, dat virusse kankers kan veroorsaak. Deoksiribonukleïnesuur (DNS) beheer selvoortplanting en virusse mag dalk DNS verander. ʼn Virus wat ʼn sel binnedring, kan ʼn infeksie veroorsaak of dit kan die sel transformeer. In infeksies word die gasheer-sel gebruik om nuwe virusse te vervaardig voordat die sel doodgaan. In kwaadaardige transformasies word die virus óf deel van die sel se DNS óf dit verander die DNS. Virusdeeltjies in ʼn sel tydens mitose kan moontlik kwaadaardige transformasies veroorsaak (Donovan 1981).
 
Karsinogene is stowwe wat die DNS van selle kan verander. Benspireen kan moontlik in koffie gevind word. Swaarmetale, soos lood wat in verf, waterpype en stof gevind kan word, is karsinogenies. Preserveermiddels is ook kankerverwekkend. Ander karsinogene sluit in estrogeniese stowwe en asetamied. Dit is egter nie moontlik om jouself teen alle karsinogene te beskerm in ons moderne samelewing nie, omdat dit in te veel stowwe voorkom (Donovan 1981).  
 
Daar bestaan ook faktore wat nie kanker kan veroorsaak nie, maar wat kan bydra tot die ontstaan van kanker. Hierdie faktore sluit groei, ouderdom, stres, voeding en vryradikale in.

Selle wat voortplant, is uiters sensitief vir chemikalieë, karsinogene en bestraling. Hierdie faktore kan die DNS van selle verander. ʼn Ongebore baba tydens die prenatale tydperk se selle verdeel vinniger as wat dit ooit daarna sal verdeel. Weefsel wat herstel ná ʼn ongeluk en selle se reaksie op hormonale stimulasie is voorbeelde van selle wat vinniger groei as gewoonlik (Donovan 1981).
 
Soos wat ʼn mens ouer word, verander jou DNS en dit maak jou selle meer vatbaar vir virusse. Die immuunsisteem verswak en is minder in staat om kwaadaardige selle te beheer (Donovan 1981).
 
Navorsing het getoon dat kankerlyers ʼn sekere profiel het: hulle probeer altyd in beheer bly van hulle emosies en hulle hanteer stressors somaties. Dit veroorsaak hormonale en chemiese veranderinge wat die DNS van selle vatbaar kan maak vir transformasies en die immuunstelsel kan aantas (Donovan 1981).

Voeding speel ook ʼn groot rol by die ontstaan van kanker (Serfontein 2002). Daar is al baie boeke oor die onderwerp geskryf en dieetkundiges kan vir jou ʼn voedsame dieet opstel. Wat gesond en wat ongesond is, is egter voor die hand liggend. ʼn Ongesonde dieet plaas stres op jou liggaam en kan jou immuunstelsel verswak.
 
Sommige studies toon dat vryradikale kan bydra tot die ontwikkeling van kanker as daar nie genoeg antioksidante is om hulle te neutraliseer nie. Vryradikale dra by tot die ontstaan van mutasies (ʼn spontane verandering van gene) (Serfontein 2002; Sigelman en Rider 2006).  

 

4. Voorkoming

Navorsing het getoon dat sekere voedingstowwe, soos sojaproteïen, antioksidante, selenium, groen tee, gekonjugeerde linoleïensuur, ens kankerverwerende eienskappe het (Serfontein 2002).
 
ʼn Gesonde dieet kan egter ʼn ongesonde obsessie word wanneer jy te alle tye volgens spyskaarte eet wat kenners opgestel het. Dit is beter om te eet waarvan jy hou, maar om te onthou om elke dag ʼn wye verskeidenheid voedsels te eet en om minstens vyf vrugte en groente per dag te eet. Die kleur van kos is belangrik: eet daagliks lig- en donkergroen, rooi, oranje, geel en wit voedsel. ʼn Spesifieke voedingstof kom dikwels in voedsels met dieselfde kleur voor. Vermy so ver moontlik vervaardigde en verfynde voedsels.
 
Caltabiano en Sarafino (2002) verskaf belangrike waarskuwingstekens van kanker:

1. ʼn langdurige seer keel
2. verandering in stoelgang- en blaaspatrone
3. sluk- en spysverteringsprobleme
4. veranderinge in ʼn moesie
5. langdurige hoesie of hees keel
6. ontwikkeling van ʼn knop enige plek op die liggaam
7. bloeding of uitskeidings.  

 

5. Die diagnose

Hoe vroeër kanker gediagnoseer word hoe beter. Dit is belangrik om minstens een maal per jaar ʼn deeglike mediese ondersoek te ondergaan. Vroue bo 30 moet elke tien jaar gaan vir ʼn papsmeer en is geregtig op drie gratis papsmere in hul leeftyd (Capegateway 2008). Die insidensie van kanker is hoër vir mense bo 40 as vir jonger mense.
 
Kanker word gediagnoseer deur drie mediese prosedures: bloed- en/of urinetoetse, radiologiese ondersoeke en biopsies (Caltabiano en Sarafino 2002).
 
Bloed- en urinetoetse verraai ongewone vlakke van stowwe in die bloed wat met kanker geassosieer word. Radiologiese ondersoeke stel dokters in staat om die strukture van interne organe te besigtig en só gewasse op te tel. ʼn Biopsie is ʼn klein operasie waar ʼn deeltjie van die verdagte weefsel verwyder word om bestudeer te word.

 

6. Behandeling

Die mees algemene behandelings vir kanker sluit die volgende vier in:

6.1. Chemoterapie

Chemoterapie is medikasie wat vir kankerlyers gegee word. Hierdie medikasie kan deur middel van pille of inspuitings ingeneem word. Die effektiwiteit van chemoterapie verskil van kanker tot kanker. Daar is kankers wat baie sensitief is vir chemoterapie en meer as 70 persent van hierdie gewasse reageer daarop. Chemoterapie kan gewoonlik alleenlik gebruik word om hierdie gewasse uit te wis. Ander kankers, soos borskanker, is minder sensitief vir chemo. Ongeveer 50 persent van hierdie gewasse reageer daarop. Daar is kankers wat ʼn laer reaksiesyfer op chemoterapie het. Sommige kankers is heeltemal bestand daarteen (Sarna 1978).
 
Die probleem met chemoterapie is dat dit normale selle saam met die kankerselle beïnvloed. Daar moet ʼn ewewig gevind word tussen die vernietiging van kankerselle en die beskerming van normale selle. Chemoterapie verwoes selle wat vinnig voortplant. Kankerselle plant baie spoedig voort, maar ongelukkig plant sommige normale selle ook baie vinnig voort. 
 
Die ergste newe-effekte van chemoterapie is die erge naarheid wat ontstaan tydens en ná chemoterapie en die verlies aan hare. Behandeling word soms gestaak omdat pasiënte glo die chemoterapie maak hulle sieker as die kanker self (Sarna 1978). Deur klassieke kondisionering word sommige pasiënte naar vóór die terapie en selfs wanneer hulle net daaraan dink. Hierdie verwagtingnaarheid kan met sistematiese desensitisasie en ontspanningsopleiding beheer word (Caltabiano en Sarafino, 2002). 

6.2 Bestraling

Tot die helfte van alle kankerlyers ondergaan bestraling (Serfontein 2002). Die beta-, alfa- en gammastrale wat gebruik word tydens bestraling is baie soos x-strale wat gebruik word om plate van die liggaam te neem, maar die hoeveelheid bestraling wat tydens elke behandeling gegee word, is baie hoër (Donovan 1981).
 
Bestraling word gebruik om kankerselle te vernietig. Die strale is smaakloos, reukloos en onsigbaar, maar dit kan die selle waarmee dit in kontak kom óf dadelik verwoes óf hulle vermoë om voort te plant, stuit (Donovan 1981).

Die nadeel van bestraling is dat dit normale selle saam met die kankerselle verwoes. Radiosensitiewe selle, soos beenmurgselle, is normale selle wat vinnig voortplant en as hierdie selle in die bestralingsveld is, sal bestraling hulle vernietig. Selle wat stadig voortplant, is radiobestand.
 
In die behandeling van sommige kankers gebruik dokters slegs bestraling, maar met ander kankers word chirurgie, chemo- en/of immunoterapie ook gebruik (Donovan 1981).     

6.3 Immunoterapie

Immunoterapie poog om die immuunstelsel in so mate te versterk dat dit die kanker uitwis. Die terapie kan net op pasiënte met ʼn sterk immuunstelsel toegepas word. Omdat chemoterapie, bestraling en chirurgie die immuunstelsel onder druk plaas, kan immunoterapie nie saam met dié konvensionele behandelings gebruik word nie. Die gewas moet klein wees (Donovan 1981).
 
Daar bestaan drie tipes immunoterapeutiese behandelings: niespesifieke immunoterapie, aktiewe immunoterapie en passiewe of aangenome immunoterapie (Donovan 1981).
 
Niespesifieke immunoterapie behels die gebruik van niespesifieke immunologiese stimulante wat die immuunstelsel versterk om die kankerselle uit te roei.
 
Aktiewe immunoterapie gebruik inentings om die immuunstelsel te stimuleer om spesifieke teenliggaampies te produseer teen die kankerselle.
 
In passiewe immunoterapie spuit hulle die pasiënt in met antiserum (limfosiete) van ʼn kankerlyer wie se kanker in remissie is. In aangenome immunoterapie word die pasiënt ingespuit met limfosiete van ʼn gesonde persoon. 

6.4 Chirurgie

Chirurgie is die beste behandeling vir sommige tipes kankers. Die kankergewas word uitgesny. Wanneer die kanker net op een plek voorkom, is slegs chirurgie voldoende behandeling. Maar wanneer dit versprei het, word kankerklusters chirurgies verwyder en dan word ander behandelings gebruik om die res van die kanker uit te wis. In sommige gevalle word die weefsel rondom die gewas ook verwyder vir ingeval die kanker soontoe versprei het (Caltabiano en Sarafino 2002).

 

7. Behartiging

Wanneer sommige pasiënte gediagnoseer word met kanker, dink hulle dat hulle besig is om te sterf, en hulle word verlam deur vrees. Dit is belangrik dat iemand wat met kanker gediagnoseer is, se hoop behou word. Hopeloosheid lei tot depressie en depressie kan herstel teenwerk.
 
Sielkundiges en beraders kan ʼn belangrike rol speel om kankerpasiënte met die behartiging van die siekte te help.
 
Die meeste kankerlyers toon baie veerkragtigheid. Dit is egter normaal vir pasiënte om soms depressie en angs te ervaar. Om kanker te hanteer is veral moeilik tydens die eerste paar maande of wanneer die kanker nie op behandeling reageer nie. Pasiënte vind dit makliker om kanker te behartig wanneer hulle bejaard is en sosiale ondersteuning het (Caltabiano en Sarafino 2002).
 
Ons sien dat pasiënte wat met kanker gediagnoseer word, dikwels onseker is oor die toekoms en dat hulle die betekenis van die diagnose soek. Hulle voel asof hulle beheer oor hulle lewe verloor het. Hulle wonder of hulle die diagnose met vriende en familie moet deel en of hulle dit liewer geheim moet hou. Kankerpasiënte benodig die ondersteuning van die mense om hulle en dit kan net verkry word deur eerlik te wees (Faulkner en Maguire 1994).
 
Inligting en ondersteuningsgroepe beteken oneindig baie vir pasiënte. Dus is dit van kardinale belang dat hulle by die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) betrokke raak.
 
Dit mag ʼn goeie idee wees om ook met die pasiënt se familie te praat om wanopvattings rakende die toestand uit die weg te ruim en hulle in te lig oor hoe om teenoor die pasiënt op te tree.
 
Psigososiale intervensies kan effektief gebruik word om die pasiënt te leer om by die siekte aan te pas. Sistematiese desensitisasie en ontspanningsopleiding word byvoorbeeld gebruik om chemopasiënte te leer om die naarheid te hanteer. Pasiënte wat erge pyn verduur, kan geleer word om selfhipnose toe te pas (Caltabiano en Sarafino 2002).

Deur die pasiënt se dieet te verander, kan baie voordele geniet word. ʼn Gesonde dieet kan daartoe lei dat die pasiënt se immuunstelsel versterk word en dat chemoterapie en bestraling beter hanteer word. Daar bestaan voedingstowwe wat kankerselle se groei en verspreiding kan stuit, byvoorbeeld omega-3-vetsure, vitamiene C, K en D, melatonien, selenium en koënsiem Q10. Kossoorte wat die groei van kanker bevorder, soos verfynde suiker en dierevette, moet vermy word. Die Gersondieet en die makrobiotiese dieet is voorbeelde van diëte wat geformuleer is om kanker te behandel. Prostaat- en borskanker reageer besonder gunstig op voedingsterapie (Serfontein 2002). 

 

8. Die einde van die kronkelpad

Kanker is nooit maklik nie. Dit is ʼn eensame kronkelpad vol smart en lyding. Die kronkelpad het godgenadiglik altyd ʼn einde. Die pad vurk: die dood of remissie.

Kanker veroorsaak sterftes op direkte en indirekte maniere. Dit kan ʼn belangrike orgaan laat ingee deur te kompeteer met die orgaan vir sy voedingstowwe en bloedvloei (direkte oorsaak van dood). Dit kan indirek doodmaak deur die pasiënt se liggaam te verswak. Die behandeling van kanker verswak die liggaam en kan die pasiënt se eetlus demp. Hierdie faktore beïnvloed die liggaam se vermoë om infeksies te beveg. Meer as 70 persent van kankersterftes vind plaas by mense ouer as 65 (Caltabiano en Sarafino, 2002; Serfontein 2002).
 
Veertig persent van kankerlyers ervaar pyn aan die beginstadium en 70 tot 90 persent ervaar pyn wanneer die siekte in die gevorderde stadium is (Caltabiano en Sarafino, 2002).
 
Meer as die helfte van behandelde kankers gaan in remissie. Die kanse op genesing van kanker verbeter elke jaar met nuwe mediese kennis en tegnieke. Mense raak ook meer bewus van voedingstowwe wat die kanse op kanker kan verlaag en van die voordele van ʼn gesonde leefstyl (Caltabiano en Sarafino 2002).

 

9. Slotsom

Vroeë diagnosering van kanker is noodsaaklik om dit effektief uit te wis. Dus is jaarlikse mediese ondersoeke belangrik. Dit is ook belangrik om die waarskuwingstekens van kanker te ken. Al het jy onkogene, beteken dit nog nie dat jy kanker gaan ontwikkel nie. Omgewingsfaktore bepaal of die onkogene aangeskakel gaan word. Indien iemand wel met die gevreesde siekte gediagnoseer word, is dit goed om by Kansa betrokke te raak.
 
Kanker is ʼn kronkelpad, maar selfs kronkelpaaie eindig.    

 

Bronnelys

Caltabiano, ML en EP Sarafino. 2002. Health psychology: Biopsychosocial interactions. Sydney en Melbourne: Wiley & Sons.        

Capegateway. 2008. Kanker. www.capegateway.gov.za. 31 Maart 2008 geraadpleeg.

Donovan, MI. 1981. Cancer care: A guide for patient education. New York: Appleton-Century-Crofts.

Faulkner, A en P Maguire. 1994. Talking to cancer patients and their relatives. Oxford, New York en Tokio: Oxford University Press.  

Serfontein, W. 2002. Oorwin kanker: ’n Nuwe lewe. Kaapstad: Tafelberg.

Sarna, G. 1978. Principles of chemotherapy. In Skinner en De Kernion 1978.

Sigelman CK en EA Rider. 2006. Life-Span human development (5th Ed). Belmont, CA: Thompson/Wadsworth.

Skinner, DG en JB de Kernion. 1978. Genitourinary cancer. Philadelphia, Londen en Toronto: WB Saunders Company.