Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Opvoeding | Education > Skole | Schools > Artikels

Suurlemoen! ’n soete leeservaring


Gerda Odendaal - 2008-10-15

Titel: Suurlemoen!
Outeur: Jaco Jacobs
Uitgewer: LAPA
Formaat: Sagteband
Aantal bladsye: 159
ISBN: 9780799342352

Die spreekwoord lui: "If life keeps handing you lemons, make lemonade." En Suurlemoen! bied voorwaar liters vol soet-suur limonade-leesgenot.

Tiaan en Zane is twee sestienjariges wat daarvan droom om hul eie band te hê. Die droom vorder egter nie verder as net hulle twee met 'n kitaar en 'n baskitaar nie. Totdat Zane besluit om die Mozartbeeldjie in die musiekklas met lipstick te besmeer ... Wanneer hulle uitgevang word, is dit die musiekonderwyser, meneer Marx, wat voorstel dat hulle oudisies hou om 'n vocalist en drummer vir hulle band te kry. Maar as niemand vir die oudisies opdaag nie, is dit weer eens Zane se lawwe idee om die skoolorkes se oefening te hijack in ʼn poging om lede vir hul band te werf.

En so word Liezl, die mooiste meisie in die skool, met die diep en heserige stem, en Bongi, die nuwe meisie met ritme in haar lyf, deel van Tiaan en Zane se band: saam vorm hulle die band Suurlemoen!.

Die vier vriende is aanvanklik baie opgewonde om aan Rumoer, 'n rock-kompetisie vir skolebands, deel te neem. Maar soos die agterblad van die roman reeds verklap, is daar 'n paar basiese reëls wanneer jy jou eerste band begin:

1. Besluit vooraf watter soort musiek julle wil maak.
2. Neem jou tyd om lede vir jou band te kies.
3. Moenie op iemand in jou eie band verlief raak nie.

En hulle het al die reëls oortree.

'n Liefdesdriehoek dreig om die band tot ondergang te bring. In 'n poging om die vrede tussen die bandlede te herstel, waag Tiaan 'n stunt wat hom in die moeilikheid laat beland. Dit is meneer Marx, wat deur geheime in sy eie verlede gedryf word, wat uiteindelik die situasie red. Maar is hierdie stunt genoeg om Suurlemoen! betyds vir die Rumoer-kompetisie te herenig?

Suurlemoen! is 'n eietydse roman met al die bestanddele wat dit 'n onvergeetlike leeservaring maak: liefde, vriendskap en rockmusiek. Dit is pleinweg 'n lekker storie waarby elke tiener aanklank sal vind. Anders as die voorgeskrewe boeke waardeur ons almal op skool moes wroeg, probeer Jacobs nie om een of ander sedelessie aan sy lesers op te dring nie. Dit gaan bloot om 'n cool storielyn wat tieners aan die lees moet kry. (So tussen hakies: ek het al meer as een getuienis gehoor van oorblufte moeders wat hoog en laag sweer dat Boetie wat nog nooit in sy lewe 'n boek klaar gelees het nie, hiérdie roman binne een dag kafgedraf het.) 'n Verdere faktor wat bydra tot die geslaagdheid van hierdie roman, is die geloofwaardigheid van die verhaalgebeure. Met jeugbands wat deesdae volop is, is die idee van 'n band soos Suurlemoen! glad nie vergesog nie. Ook die Rumoer-kompetisie eggo werklike kompetisies soos JIP en MK se Rockspaaider-kompetisie vir skolebands. Die storie is dus realisties en relevant.

Suurlemoen! is in lekker loslit Afrikaanse tienertaal geskryf. Maar anders as in voorgangers soos Daar's vis in die punch is die tienertaal in hierdie roman baie meer geloofwaardig en eg. Engelse woorde soos band, nice en gigs word sonder aanhalingstekens of kursivering geskryf, wat bydra tot die egtheid van die spreektaal wat in die roman gebesig word. Voordat die taalpuriste egter van hulle literêre high chairs afval, is dit nodig om by te voeg dat die sleng-woordgebruik glad nie die gehalte van die roman kelder nie. (Die roman is terloops ook vol mooi "groot" woorde soos telepatiese, inhibisies en selfs postmodernisme en bevat ook 'n spel-lessie wanneer Tiaan vir Zane daarop wys dat oudiesies verkeerd gespel is.) Hoofstukke is gemiddeld drie tot vier bladsye lank en is dus lekker kort vir tieners wat 'n hoofstukkie of twee tussen al die sport en skoolwerk deur wil lees. Die kort hoofstukke versnel boonop ook die pas van die verhaalgebeure, wat maak dat 'n mens nie die boek wil neersit nie.

In 'n onderhoud met Jacobs sê hy dat sy uitgewer wou hê dat hy 'n tienerboek moes skryf wat "iets anders" is. En "anders" is Suurlemoen! beslis. Die aantrekkingskrag van die roman is juis geleë in die feit dat die storie op 'n vernuwende manier aangebied word. In plaas van blote grys blokke teks is die roman propvol tekeninge, foto's en ander notas wat skynbaar in Tiaan se eie handskrif neergekrabbel is. Hierdie grafiese elemente, tesame met die eerstepersoon-vertelperspektief, gee aan die roman die skyn van dagboekinskrywings. 'n Voorbeeld hiervan is die geel Post-Its wat telkens in die roman opduik waarop Tiaan notas aan homself rig, soos die een op bladsy 31: "Nota aan self: Dis gevaarlik om party girls te onderskat." Dit is asof die leser hierdeur 'n intieme kykie in veral Tiaan se gedagtes kry. Selfs Tiaan se mislukte pogings om 'n song vir die band te skryf, word (half) doodgekrap in die roman weergegee. In die visuele era waarin die jeug van vandag grootword, dra die interaktiewe benadering wat in Suurlemoen! aan die orde is, beslis by tot die sukses van die roman. Die jongmense van vandag is boonop ook die realiteitstelevisie-generasie, en daarom is die dagboekformaat waarin Suurlemoen! geskryf is, so effektief. Dit veroorsaak dat die leser hom of haar meer deel voel van die karakters in Suurlemoen!, en meer spesifiek Tiaan, se wedervaringe.

Só baie ouer mense kla al vir jare dat die kinders van die elektroniese era nie meer wil lees nie, maar in dieselfde asem word jeugliteratuur as "lae" literatuur en jeugboekskrywers as kamma-skrywers afgemaak. Jeugboeke het vir diegene blykbaar kwaliteit slegs indien dit een of ander "mooi boodskappie" of lewensles oordra. Dit is egter verblydend om te sien hoe jeugboekskrywers uit die nate van die korset van literêre verkramping bars om aan jong lesers boeke te gee waarvan hulle hou. Jacobs self noem in 'n onderhoud dat jy 'n storie vermoor wanneer jy dit skryf om iemand daarmee op te voed. Verby is die dae dat die jeugboekmark deur 60-plussers gemonopoliseer is. Jongmense soek lekkerleesstories oor onderwerpe wat hulle interesseer, en basta met die res. Dan sal hierdie einste jong lesers dalk in latere jare baie meer gewillig wees om die hand aan 'n klassieke Brink, Van Heerden of Leroux te slaan.

Jaco Jacobs is duidelik geen groentjie as dit kom by kinder- en jeugboeke skryf nie. Hy het reeds op laerskool aan skryfkompetisies deelgeneem en het op hoërskool beide die Bloemfonteinse Skrywersvereniging se jaarlikse kompetisie en die ATKV se skryfwedstryd gewen. Hy het ook die Poortprys vir prosa en poësie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang. In 2001 het sy eerste jeugboek, Troetelgedrog, by LAPA-Uitgewers verskyn en sedertdien het daar al meer as dertig kinder- en jeugboeke vir kinders van wisselende ouderdomme uit sy pen verskyn. Hy het ook al verskeie pryse vir sy vernuf as jeugboekskrywer ingepalm. Hy is onder andere al met die Alba Bouwer-prys, die CP Hoogenhout-medalje, die Maskew Miller Longman-letterkundeprys vir jeugromans en verskeie kere met ATKV-Kinderboektoekennings bekroon.

Suurlemoen! is die 25ste boek op Jaco Jacobs se kerfstok. Hierdie jeugroman is onlangs deur die Suid-Afrikaanse been van IBBY (International Board on Books for Young People) aangewys as ereboek in die kategorie Afrikaans. IBBY wys elke drie jaar in verskillende kategorieë boeke aan wat 'n spesiale bydrae tot die onlangse Suid-Afrikaanse literatuur vir kinders en jongmense gemaak het. Suurlemoen! se gewildheid spreek ook uit die feit dat hierdie jeugroman reeds sy tweede druk binne minder as ʼn jaar beleef het.

Suurlemoen! is ʼn moet vir enigiemand wat al ooit daarvan gedroom het om in 'n band te wees, wat al ooit verlief was, of wat 'n fan is van tuinkabouters. Beter as in die bandlede se eie woorde kan ek dit self nie stel nie: Suurlemoen! sal jou kiewe laat saamtrek van lekkerkry!