Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Vintage@LitNet

Oom Twigs


Yuri - 2008-10-15

Mense uit Marabastad en Eersterust het hom as oom Twigs geken. Nooit op sy voornaam genoem nie. Nie eens op sy van (Beukes) nie.

Wanneer jy aan hom dink, onthou jy die saggeaarde jintelman. 'n Kerkman, gesinsman en baie hulpvaardig. Ek het hom eers leer ken as laerskoolkind, wanneer ek na hom moes gaan om vir Ma of Ouma 'n afspraak te gaan maak by hom.

Oom Twigs was 'n sonderlinge mens. Een van die ware pioniers van die taxibedryf. Die manne wat met Chevvies, Valiants, Chryslers en dies meer rondgery het met 'n groot teken agterop: Second Class Taxi - For Non-Europeans Only.

Mense moes vooraf afsprake maak. Gewoonlik was dit stad toe of HF Verwoerd-hospitaal. Daardie dae het taxibestuurders soos jintelmans opgetree en was hul goedgemanierd. Nie minibussies wat sommer op die kant van die straat ry nie. Of op enige plek stop nie. Of 'n bestuurder wat op motoriste vloek nie.

Oom Twigs was uit 'n geslag sonderlinge mense. Wat deur die Tweede Wêreldoorlog is, Smuts sien val het, apartheid se vordering dopgehou het en die pyn van gedwonge verskuiwing gevoel het toe hy saam met talle van Marabastad na Eersterust verskuif is.

Soms, wanneer ek die laelakke sien wat deesdae taxi's bestuur, wonder ek of mense soos oom Twigs tot sulke laagtes sou gedaal het. Wanneer jy na oom Twigs se voorbeeldigheid kyk, en die manier waarop hy mense behandel het, wonder jy van waar vandag se geslag taxiboewe kom.

Boewe. Niks meer nie. En daarteen weeg jy die jintelmanne soos oom Twigs op. Dan besef jy dat die taxibedryf uit behoefte ontstaan het waar mense vir mekaar eer gehad het. Vandag is dit een van die slegste bedrywe in die land.

Dan wonder jy hoe die nagedagtenis van oom Twigs nog behoue kan bly.