Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Vintage@LitNet

Die verdomde coildraad


Llewellyn Abdoll - 2008-10-15

(Memoirs uit my kinderdae)

Saterdag vroegoggend was ek al wakker. Vanaand is die groot aand. Ons gaan dorp se bioskoop toe, kompleet met ‘n wye doek en klank wat uit alle rigtings kom. Nie soos die bioskoop van meester Christie wat hy soms in die skoolsaal wys nie, o nee, vanaand is dit tyd vir die dorp se bioskoop!

Soos gewoonlik kom alles teen ‘n prys. Ons was net na pap en koffie deur Pa opgekommandeer om ons uitstappie later vanaand "te verdien" soos hy dit gestel het. Vee die stoepe, trek onkruid uit, sny gras, vee die garage uit, maak die stal skoon en ‘n hele klomp ander take was ons voorland.

Later was ons al doodmoeg, maar niemand kla nie, want vanaand is bioskoopaand. Later deur die dag hoor ons Ma se stem: "Julle moet nou eers ‘n stukkie kom eet."

"Reg kêrels, ‘n arbeider is sy loon waardig. Kom ons gaan eet eers ‘n stukkie, dan gaan ons weer verder," laat Pa van hom hoor. Nog net die kar moes gewas word, dan sou ons take hopelik klaar wees.

Na ‘n heerlike maaltyd van wors en eiers en natuurlik boontjiesop, want Saterdae was sopdag, het ons ons laaste taak begin. "Blink vryf kêrels, blink vryf, ek wil my gesig in die kar kan sien," moedig Pa ons aan. Pa se taak was om die enjin skoon te spuit, want dit was kamma "grootmenswerk".

Uiteindelik was alles klaar. "Nou moet julle bulletjies gaan regkry, want ons ry nou-nou," sê Pa. "Ek het nog net die finale afronding om te doen." Ons weet natuurlik wat daai finale afronding was: ‘n vinnige sluk uit die bottel wat in die kattebak van die kar weggesteek was!

"All jacks on top, and all tops on jack" beteken ons gaan nou uiteindelik ry. Daar sit die ses Abdolltjies in hul Sondag-beste, gereed om hul avontuur te begin.

Pa swaai die enjin ... Niks gebeur nie ... so dood soos ‘n mossie. "Gert, wat gaan aan?" laat ma weet.

"G'n idee nie, Toekie ... die kar het dan nog vanoggend gestart toe ek dit uit die garage getrek het."

"Swaai hom weer, Pa," laat ek soos ‘n wafferse kenner van agter weet. Geen geluk nie, die kar bly dood. 'n Nare gevoel van teleurstelling stoot in my op. Al die harde werk, die hele dag, en nou dit?

"Kêrels, klim uit en kyk of ons hom nie aan die brand kan stoot nie." Op en af, op en af, ons tonge hang naderhand op die grond, maar die kar bly morsdood, gevrek.

Die tyd stap intussen ook aan, en dit beteken ons gaan nie betyds vir die bioskoop wees nie.

"Kom ons vra vir Floors of hy ons nie met die trekker kan tou en probeer om die kar só aan die gang te kry nie." Hoop begin opflikker. Die trekker voor die kar, op en af sleep hulle hom, sonder sukses. Intussen het dit al halfagt geword. George is omtrent vyf en veertig minute weg, ons sal nooit betyds wees nie. Die teleurstelling stoot bitter in my keel op. Al ons harde werk verniet. Die lewe is darem nie regverdig nie. Hoekom kan Pa dan nie die verdomde kar aan die gang kry nie?

"Ek gaan nou vir ‘n laaste keer in die enjin krap om te sien of ek nie die fout kan kry nie," laat Pa weet in ‘n poging om ons te troos. Dit gaan tog in elk geval nie baat nie, die prent het alreeds begin, dink ek, nog steeds so bitter soos gal.
Einde ten laaste skree Pa dan van onder die enjinkap: "Ek het die fout gekry! Toe ek vanmiddag die enjin skoongemaak het, moes ek per ongeluk die coildraad uitgetrek het!" skree hy opgewonde. Die tyd? Op die kop nege-uur! Wat baat dit tog nou? Ons aand was in elk geval geruïneer.