Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Vintage@LitNet

Laat sestigers: Herinnering aan die groottantes


Celesté Fritze - 2008-10-13

(vir Ta-Anna Kilian (née van Rooyen), Ta-Dien Dreyer (née van Rooyen) en Ta-Mart Rossouw (née van Rooyen))

Noudat al die kinders daar bo is - oupa Cor van Rooyen; Ta-Mart van Rooyen-Rossouw oompie Hannes van Rooyen; Ta-Dien van Rooyen-Dreyer; Ta-Anna van Rooyen-Kilian - noudat julle ma, ouma Magriet van Rooyen-Harris, julle almal kom haal het, noudat julle teruggestap het deur die tonnel na waar julle ander geliefdes wag, moenie besorg staan oor ons wriemel en wurg in ons boeie nie. Moenie terugkyk hoe ons dobber in die see van ons smart, hoe ons op en neer dein, hoe ons spook om by mekaar te bly nie. In die golwe van ons hartseer veg ons elkeen om redding.

Ons kyk nou na die klein witkop Rita vir stories. Maar sal sy tog onthou waar Ta-Anna se draai op Rondekoppe was? Sal sy weer vertel van die aand toe Ta-Mart se kraanvoël in die elektriese drade verstrengel geraak het en Paulpietersburg vir 'n paar uur, uit blote respek, in donkerte gehul was? Sal sy weer vertel hoe oom Kwink eenkeer vir Ta-Anna onder 'n laken op die buitetoilet se dak ingewag het en sy gillend die nag ingestorm het? Sal ma Rita weer vertel hoe sý, die klein witkop, op vyfjarige ouderdom Ta-Anna se step-in uit die wasgoedmandjie gehaal en aangetrek het net om oom Kwink vir ewig te probeer verwilder, en Ta-Anna haar twee taai klappe gegee het vir haar moeite?

Gaan die klein witkop onthou om ons te vertel van jul pieknieks met die rottangstoele bo-op die plaasvragmotors gelaai, die sweempie gemmer in jul taaipitperskekonfyt, die boerbrode, die vars plaasbotter, die meelsakkies met biltong, die oondgebakte hoenders, die melksnysels? Ons mis jul oorlogstories, dié oor die joiners wat uiteindelik in Pongolabos vasgekeer is, die skandelike verraaier onder die distrik se mense. Wie gaan onthou van die kêrels wat op spogperde kom kuier het, en wie ken nog die gejaagde hoefslae van kapkarre wat slegte nuus bring?

In die huise van my tantes was daar plek vir elkeen, selfs die eienaardiges. My tantes se kombuise was knus kuierplekke met genoeg stoele en tafels en oop vensters, gevul met die reuk van skaaplewer en uie wat braai, die geur van mieliebrood wat opstoom uit konfytblikkies op 'n koolstoof, die geruislose geklets van die amakoti, en die vonkgeklap soos vuur met mieliestronke gestook word. Hadidakuikens het in en uit Ta-Mart se kombuis geloop en stukkies vleis van die tafel af gebedel na Sikloon Demoina hulle in '84 uit hul skuilings geskud het.

My tantes, ons harte smag na jul spense waar vet skaapribbetjies, varkboude, sult en skaapkoppe in die koelte van die safe rus, wagtend op 'n volgende aanval deur 'n skare honger neefs en niggies. Die glasbekers met room en warm melk; die blikkies met kaiings wat eenkant op 'n stoofplaat staan en so gereeld onder kinderhandjies deurgeloop het. Die skote Engelse sout om die gestelle weer op dreef te kry; vinnig afgesluk ná beloftes van 'n laatmiddag-swem in die plaasdam.

Smeer maar weer varkvet op my brood, Ta-Mart, lekker dik met baie sout en peper; ek kyk solank hoe mooi Ta-Anna lyk in haar blou-en-wit plooitjiesrok en navy skoene. Ek wil sien hoe glinster haar hare in die strale van die olielamp waar sy sit en naaldwerk doen. Ek wil weer die steke probeer tel soos die naalde deur Ta-Dien se breiwerk flits. Ons wil weer saam met julle tande tel om die houtstoof in Oosstraat se kombuis. Ons wil weer ril van opwinding as ons nou en dan per ongeluk iets hoor wat nie vir ons onskuldige oortjies bedoel was nie.

Laat ons weer luister hoe die paling amper die intombazana se vinger afgebyt het met die visvangekspedisie, die simpel ding - julle het dan vir haar gesê visvang is gevaarlik. Kom ons kruip weer weg agter die groot varings op die stoepe van ons jeug; dan lê ons tjoepstil en kyk hoe die mak jakkals die vrouens se roksome uitryg; kom ons luister hoe Ina se kraai vloekend oor die gewyde Sondagstiltes kras; kom ons gooi ons nartjieskille weer na daardie windvoël van 'n werfhaan.

Tantes, ons tantes, ons mis die haartjies in jul moesies, jul sagte, ronde lywe en die blommetjieslap van jul huisrokkies. Ons mis julle voorskote en kerkhoede, julle fleurige nagmaalrokke, jul spierwit sakdoekies. Ons mis die geur van 4711, suikerklontjies en Wintergreen.

En hoe kan ons die ooms vergeet? Ta-Anna se mooie oom Kwink deftig in sy dorpspak, en sy voorliefde vir poetoepap; oom Frank van Ta-Mart in sy bokshandskoene, systappies aan't oefen - wat kamtag vergeet hy't jou die lug in opgegooi en moet jou nog weer vang; en Ta-Dien se kleinboer oom Vaas, kaalvoet met sy herderstaf en Moses-baard, reg aan die einde. Die een wie se moordenaar nog vry buite rondloop.

Ta-Anna, ek wens ons kon jou uitlê, en jou kis in die voorkamer instoot - ons sou die spieëls toegooi, kerse brand, en die begrafnisgordyne uithang sodat almal weet die huis rou - sodat mense met roubande aan kan instap en jou vir laas op die voorkop soen. Hulle sal weldra jou laggie hoor weerklink in die stoepkamer van jou moeder se huis. Maar die huis van jou moeder het nou ander inwoners. En daar is witgeverfde tralies voor die stoep.

My volk speel weer rugby vandag. Ons moet immers aangaan met die sleur van ons lewe, ons moet vorentoe kyk, ons moet onthou om normaal te leef. Al huil ons oë, al krimp ons harte ineen, ons moet ferm staan teen die pyn van agterbly.