Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Vintage@LitNet

Laat sestigers: Die Belydenis


Celesté Fritze - 2008-10-13

Die kinders het reeds 'n kringetjie om die kryt getrek toe sy daar aankom. Koos Oortjies is besig om ou Meneer se beeste uit die malvabedding voor die meisieskoshuis te verjaag, en die gebulk en gemaal veroorsaak 'n rooi stofwolk wat soos 'n voorbode oor die speelterrein hang. Suzan is laat en Juffrou lui die klok hard, verergd. Terwyl die kinders gil en jou, boor die kind met haar groottoon al dieper in die rooigrond. Die snikheet stof meng met die sweet op haar voorkop. Juffrou het die seuns twee toue om vier houtpaaltjies laat span en die kind beveel om deur te klim, in die linkerhoek te hou. Weer word die klok gelui.

Uiteindelik kom Suzan aangewip, vuiste gebal, blonde poniesterte hoog teen die kop vasgebind. Helpers met wit TOD-handdoeke aan elke elmboog. 'n Paar treetjies agter hulle, Hennie Wessels steunend met die kis Pine Nut wat al van nagmaal-Sondag oorstaan. Suzan se pa het 'n lekkergoedfabriek en 'n blink Cadillac.

Die kind sluk, haar keel kurk toe. Juffrou sit die skoollied in, en die droewige treksang weerklink op teen die kranse van Mariepskop:

Hier aan die voet van Dra-aa-aa-kensberg,
Waar ons baie vê-ê-ê-ê-êr kan sien ...

Die rooikop juffrou beduie die twee moet mekaar met die hand groet en dan een in elke hoek gaan staan sodat hulle hul nonsens kan uitbaklei. Suzan groet stroperig, sis onderlangs: "Jou pa ry 'n rooi aasvoëlbus, rooi aasvoëlbus, rooi aasvoëlbus ..." Die pienk slangtong swiep-swiep oor koggelende lippe. Die kinders dreunsing: "Magdalena se pa ry 'n rooi aasvoëlbus, rooi aasvoëlbus ..." Juffrou Nienaber skel hulle stil. Sy wil hê die seningkind moet die blonde pes se bek toe klap, maar die sening lyk nie of sy fut het nie.

Magdalena staar gefassineerd na die sproete op Suzan se neus. Sy bid soos haar ma haar geleer het: "Heer, laat U wil geskied." Maar sy sien dit gaan nie help nie, die gespuis het bloed geruik. "Here, kan Ma ons nie net Vrydae met die Volksie kom haal nie? Moet Pa altyd eers Klaserie langs met die agentskapwa? Jy weet tog, Here, hoe ek voel oor Barclays Bank DCO se arend wat oor die rooi enjinkap opstyg. Hoe ek wens hy lig ons met geld en al oor die berg. Here weet, ek haat die Suzan-pop erger as die dood."

Suzan dans-dans na die middel van die kryt. Rooi stofwolkies plof die lug in op. Magdalena sleepvoet nader. Sy't nog nie klaar gebid nie, sy dink aan ma se woorde oor die ander wang draai, sien nie die linkerhaakhou kom nie. Toe dit teen haar regteroor ontplof, ruk haar nek uit haar borskas los. Voor sy in die stof neerslaan, sien sy die berserkte kinders nader beur, voel hoe die gal in haar keel opstoot.

Juffrou Nienaber skree die spul tot orde, buk vinnig vooroor, pluk Magdalena aan die oor. "Jy beter opstaan, dogtertjie, dis jy wat vir Suzan in die eetsaal geklap het. Julle seunsgedrag moet vandag einde kry, magtig, julle's meisiekinders."

Suzan spring ligvoets op en af, vryf met die regterhand oor die linkervuis, spoeg op die linker, vryf met die regter. Die oorwinningsvlam gloei in haar oë. Toe Magdalena orent kom, sien sy die sproetneus op 'n plooi trek. Sy gaan vir die neus, sien hoe Suzan steier, hoe haar kop agteroor ruk en 'n klein druppeltjie bloed op haar bolip vorm, hoe die blou oë eers 'n oomblik in die oogkaste rondrol; weer na 'n paar sekondes veglustig begin skitter. Die tong koggel-koggel.

Wanneer 'n skerp elmboog Magdalena in die krop tref, vou sy dubbel, beland vooroor met haar mond in die stof. Sweet en trane loop in modderstrepe teen haar ken af. Die kinderskaar brul. Magdalena bid: "Here behoed my van die vernedering, help my net. Ek sal stilbly vir die vloeksteen, die ander wang draai, sal sê by die Kinderkrans dis in Jou verlossing dat my oorwinning lê."

Juffrou Nienaber pluk vir Suzan na haar hoek toe terug, help die seningkind op uit die stof. Sy voel die situasie buite beheer raak. Die kinders, aangevuur deur beloftes van Wilson-toffies, trap mekaar om nader aan die geveg te kom. Die houtpaaltjies is reeds plat. Hul lekkergoedsmous is hoog op suiker en adrenalien.

Suzan laat haar buitendien nie gebied nie. Sy storm op Magdalena af, tande ontbloot, poniesterte wuiwend in die wind. Magdalena probeer die aanval systap, maar die smous se helpers pootjie haar teen die toue. Suzan is skielik bo-op haar, en die vuishoue reën. Magdalena bid vir 'n wonderwerk.

Van ver af hoor sy die klok se gelui, juffrou Nienaber se gille, en ou Meneer se bulderende stem oor die luidsprekerstelsel.

"Verwoerd is vermoor. Here, my God, Verwoerd is dood. Nienaber, kry die kinders in die skoolsaal."

Magdalena bly in die stof lê totdat al die gillendes oor die helling die skoolsaal in verdwyn het.

Jare later sleepvoet sy die spreekkamer van dr Suzan Burger-de Jager, kliniese sielkundige, binne. Sy gaan sit in die kom van 'n moderne leerbank terwyl haar oë oor die Japannese kunswerke dwaal.

"Dis ek, Suzan, dis Magdalena. Ek kom my aandeel bely. Ek kom met die waarheid. Jy moet weet ek't gekul. Dis ék wat die ou man daardie middag sy graf in gebid het."