Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Vermaak | Entertainment > Film > Resensies | Reviews

Jerusalema: Ons eie City of God


Suzette Kotzé-Myburgh - 2008-10-13

Spelers
Rapulana Seiphemo, Shelly Meskin, Ronnie Nyakale, Robert Hobbs, Motlatsi Mahloko, Malusi Skenjana, Kenneth Nkosi, Jeffrey Sekele, Jafta Mamabolo

Regisseur
Ralph Ziman

As 'n mens daaroor nadink, is 'n fliek soos hierdie - 'n blik op binnestedelike misdaad, geweld en korrupsie - lankal 'n voor die hand liggende keuse vir 'n Suid-Afrikaanse regisseur. Noem dit ons eie City of God.

Dis die verhaal van Lucky Kunene, 'n hoërskoolseun uit 'n tipiese arm Soweto-gesin met baie kinders sonder 'n pa. Lucky wil universiteit toe gaan, maar sy aansoek om 'n beurs word afgewys, en sy ma het vanselfsprekend nie geld om vir sy studie te betaal nie. Aan die ander kant is daar die invloed van Nazareth Mbolelo, 'n gewese Umkhonto we Sizwe-man wat 'n groot held in die township is en in die nuwe Suid-Afrika 'n goeie bestaan uit misdaad maak.

Lucky en sy beste vriend, Zakes, beproef kortstondig die optimistiese gedagte dat jy as 'n entrepreneur sukses kan behaal, al moet jy klein begin en hard werk. Maar Nazareth se benadering beloof baie geld, en vinnig - sy sharp suits en slap kar getuig daarvan. Gou is Lucky en Zakes eppie-misdadigers. Hulle promoveer na motorkaping en handwapens. 'n Groot winkeldiefstal loop egter bloedig skeef en die twee oorleef net-net. Nazareth gaan tronk toe en dis die einde van die groep se werkvooruitsigte.

Die tyd skuif vyf jaar aan en Lucky (Rapulana Seiphemo) besit nou sy eie taxi. Hy werk hard en bly in 'n krotterige woonstel in Hillbrow, maar hy maak 'n bestaan. Tot hy die slagoffer word van die nimmereindigende taxigevegte oor roetes en Nazareth weer op die toneel verskyn. Soos die Bybel sê: die tweede dwaling sal erger wees as die eerste, en nou raak Lucky slim - hy gaan "in eiendom in". Op vernuftige wyse begin hy en sy span (onder leiding van Nazareth en die versamelde broederskap van die vroeëre misdaadbende) beheer neem oor die vervalle Hillbrowse woonstelblokke waarin mense in haglike omstandighede woon.

Genoeg gesê oor die storielyn.

Regisseur Ralph Ziman het gesorg vir 'n film wat tref soos 'n vuishou in die maag. Fliekkykers met 'n voorliefde vir gewelddadige aksiefilms en rekenaarspeletjies soos Grand Theft Auto sal nie teleurgesteld wees nie. Die pas is vinnig en die hele tekstuur van die film vergelyk goed met internasionale standaarde. Rapulana Seiphemo, die bekende sepie-akteur, was 'n uitstekende keuse en is onvergeetlik as Lucky.

Máár ... hierdie film het soos 'n klip in my bang, wit, middeljarige, vroulike gemoed kom lê. Dat dit goed gedoen is, ontken ek vir geen oomblik nie, maar na my mening maak die slot daarvan 'n verheerliking van geweld, misdaad en wetteloosheid. 'n Mens word gekonfronteer met 'n meedoënlose bestaan van oorlewing-van-die-sterkste, sonder enige ooglopende moraliteit óf korrektief. Dis hier waar dit soveel verskil van Gavin Hood se Oscar-wenner, Tsotsi. Hoewel laasgenoemde ook oor 'n misdadige leefwyse gaan (met daarmee saam die sielkundige motivering daarvoor, wat empatie by die kyker skep), dra die slot 'n sterk boodskap: die gevolge van jou slegte dade sal jou inhaal. Nie so in Jerusalema nie: die misdaadbaas gaan sit maar net sy bedrywighede in 'n ander stad voort.

Ná vele nadenke moes ek erken dat hierdie film 'n min of meer eerlike - en veral realistiese - blik op die misdaadfenomeen bied, maar dit was nie 'n lekker fliekervaring nie.