Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Leefstyl | Lifestyle > Kos & Wyn | Food & Wine > LitNet Virtuele Wyngemeenskap > Wyndagboek

Wyn, kos, pret en plesier in die Helderberg


Johann H Crafford - 2008-10-09

Terwyl die winter en lente mekaar aan die keel beet het oor wie nou eintlik hierdie tyd van die jaar die septer moet swaai, het die wynmakers van die Helderberg besluit ‘n makietie wag nie noodwendig vir ideale weer nie, en van Vrydag 10 Oktober tot Sondag 12 Oktober gaan die biesies bewe soos die Rola Motors Voet van die Helderberg-fees die winterkoue gaan verdryf.


Oor hierdie drie dae word mense genooi om enigeen van die 20 deelnemende wynmakerye langs die R44 tussen Stellenbosch en Somerset-Wes te besoek en fees te vier.

Die program vir die fees sluit ‘n voetslaan, ‘n ysterperdresies, die Jesse Jordan Band, ‘n gholfdag en vele meer in. Besoek gerus www.thewesterncape.co.za vir meer inligting oor waar wat aangebied word en waar en vir wat bespreek moet word.

En dis nie net die wynmakers wat gaan uithaal en wys met hul skitterende wyne nie - die eetplekke het hul vere reg geskud en daar wag ‘n sensoriese ervaring op diegene met ‘n smaak vir die uitmuntende.

Vir diegene wat sommer ‘n naweek daarvan wil maak, bied oud-Springbok Hempies du Toit iets spesiaals aan op sy plaas Annandale. "Mense kan hul tweemantente bring en hier op die plaas kom opslaan. Tweemantente, nie markiestente nie! Ons het toiletgeriewe gereël sodat mense die hele naweek kan fees vier. Maar hulle moet net eers bel om ‘n staanplekkie te ‘bespreek'," sê Hempies. Die nommer is (021) 881-3560. En daar gaan glo ook musiek wees!

O ja, en wees gerus tog op die uitkyk vir die "Os-innie-Bos". Dit klink na iets waaroor ‘n mens kan huis toe skryf! Miskien selfs móét huis toe skryf.

Foto 1: By die Guardian Peak-restaurant gaan jy nie net kos en wyn kry wat jou mond sal laat water nie, maar daai uitsigte sal jou wil laat wortel skiet.

Foto 2: By Hempies du Toit op Annandale kan jy enigiets verwag, selfs ‘n mede-Springbok soos Dawie Snyman (regs).