Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Nuwe skryfwerk | New writing > Artikels | Features > Afrikaans

Deelnemers aan Versindaba 2008 deel hul indrukke


2008-10-09

LitNet het deelnemers aan Versindaba 2008 genader vir hul kommentaar op dié geleentheid wat op 5 en 6 September op Stellenbosch gehou is. Lees die reaksies van Joan Hambidge, Vader Bonaventure Hinwood, Ilse van Staden, Charl-Pierre Naude, Helena Conradie, Rosa Smit, Marius Crous, Carina Stander, Jasper van Zyl en Peter Snyders.

 


Joan Hambidge oor Versindaba 2008

 

 

Digters is soos skoonheidskoninginne: in kompetisie, die naels altyd uit vir mekaar. (Behalwe: ek hou van almal.) Die Versindaba is 'n toonvenster vir die Afrikaanse digkuns en dis altyd goed om 'n digter sy/haar eie gedigte te hoor lees, omdat dit interpretasies ontsluit. Terloops, moenie aankondig jy gaan nou die gehoor skok nie; dóén dit net.

Vir my gevoel was daar mindere en selfs onsekere aanbiedinge. Ek het hierdie digters se bydraes eerder vermy.

En die musiek en liriek? Wonderlik was die "Klipwerk"-toonsetting van Niel van der Watt, maar 'n gedoemtjieke op 'n vals kitaar of bydraes waar die Japannese tromspeler op die orreltjie saamspeel, oordonder die gedig. Praatverse wen aan kuns- of musiekbydraes, maar uiteindelik is dit die gedig wat bly staan. (Nes deug.)

'n Absolute hoogtepunt vir my was Daniel Hugo se nuwe verse. 'n Knap tegniese gedig voorgelees deur 'n digter wat kan lees. En natuurlik: Johann de Lange se verse ... (voorgedra deur die uwe).

Carina Stander, Melt Myburgh, Ronelda S Kamfer, onder andere, se gedigte het met my gepraat.

Soos Marlene van Niekerk opgemerk het: Wat is ʼn poësie-aand sonder ʼn roosmarynbos? Dalk is dit beter om by so ʼn geleentheid eerder te fokus op digters wat opstuur (hulself veral en nie die digkuns nie) en diegene vermy wat loodswaar dig oor ontslape hondjies of "cutsepooh-cutsepooh" dig.

Maar wat?

Wie is ek nou om te praat?

Ek ties al klaar my hare vir volgende jaar se Versindaba!

1 Eerste nag

Jy sit oorkant my
op my rusbank
(jou man opsetlik tuis gelaat)
met 'n whisky-on-the-rocks
in jou fyn versorgde hand.
Jou leerskoene
netjies uitgeskop
na 'n lang dag van slimwees
raadgee as Mevrou Straight and Narrow.

Ek sit net-net oorkant jou
in 'n leunstoel
(my girlfriend ten slotte agtergelaat)
met 'n glas Allesverloren Shiraz
in my opgeklemde hand.
My Bronx-leerskoene
tik van afwagting,
jagsheid vir Mevrou Straight and Narrow.

Ek hoor nie wat jy sê
nie. Horende doof
skuifel ek nader
en proe jou pedantiese tong
oor goeie beleggings en raad aan kliënte
in my leergierige mond
en in een rondomtalievaart
is jy eerste op die mat
ek hoor jou lag
en iets mompel van rofstoeiers
toe ek jou 32 AA Wonderbra afruk
en jou blommetjies-panty (van Woolies, ek meen)
koorsig skeur.

Wat wou jy sê van beleggings?
mompel ek, betrek by 'n andersoortige investering
van spel, verleiding, oorrompeling ...
Jou woordelose onsekerheid geloënstraf
deur jou volgehoue vuilspel.
Ons beweeg selfs buite die kryt
van toelaatbaarheid (vir 'n eerste nag dan)
toe jy meedoënloos
verbete
gesaghebbend
jou wil op
my afdruk
en onverpoosd
oor my onversadigbare klit
beweeg
met jou pligsgetroue tong.

My vingers tel
'n orgasme af
en jou tong trek 'n grafiek
van hartstog
oor my hele lyf.

(Uit: Koesnaatjies vir die proe, Genugtig!)

 

Vader Bonaventure Hinwood

Ek weet glad nie hoe dit in die praktyk uitgevoer kan word nie, maar van die digters wat voorgelees het, se voordrag het nie hul gedigte tot hulle volle reg laat kom nie, en sou by ʼn repetisie met ʼn regisseur baat gevind het. Dit is ʼn feit dat ʼn mens wat goed kan dig, nie noodwendig weet hoe om sy/haar stem betekenisvol te gebruik nie. Ek kan aan vier moontlike oplossings dink:

1. Die digters wat sal voorlees, moet hulle ʼn dag voor die tyd beskikbaar stel om te repeteer. Dit mag egter vir mense ongerieflik en tydrowend wees en sal duur uitwerk.

2. Die gedigte word op skrif beskikbaar gestel sodat mense in die gehoor self kan lees indien die gedigte nie duidelik en betekenisvol aangebied word nie. Dit sal ook die onkoste opstoot, veral omdat mens nie vooraf weet wat die bywoning sal wees nie.

3. Deelnemers word versoek om by die huis met ʼn gepaste persoon te repeteer. Dit lyk na die maklikste oplossing, maar kan nie maklik gekontroleer word nie.

4. ʼn Gedig word onmiddellik nadat die skrywer dit gelees het, deur ʼn tweede stem voorgedra. Hierdie praktyk, wat ons die afgelope 42 jaar in Pretoria se digtersbyeenkomste besig, kan baie leersaam wees, veral as die tweede persoon iemand van die teenoorgestelde geslag is. Die nadeel is dat dit die verrigtinge ietwat sal vertraag as dit inderdaad nadelig sal wees.

Ek wil ook voorstel dat die program so gereël word dat elkeen 15 minute gegun word. Met die inleiding en die opstap na die verhoog sal elkeen dan ʼn volle tien minute kry om gedigte voor te dra. Veral vir mense wat oor ʼn verskeidenheid temas skryf, sal so ʼn reëling die geleentheid bied om ʼn meer volledige oorsig van die omvang van sy/haar werk te gee.

Hierdie soort geleentheid beskou ek as heel nuttig, veral in ʼn groot land soos Suid-Afrika. Die digters van verskillende streke kry maar min kans om met mekaar se werk as digters kennis te maak. Veral digters wat geïsoleerd skryf, kan deur ʼn Versindaba uitvind wat die heersende tendense is en hoe ander digters tans skryf. Selfs in Pretoria, waar van die digters dikwels byeenkom, kan deelnemende digters maklik die slagoffers van die siening van ʼn geslote kring word.

Ek stem saam dat jonger opkomende digters ingesluit word. Dit stel hulle aan ʼn breë spektrum digkuns bloot.

Om meer mense te lok sou ek ʼn jaargety kies wat vir binnelanders meer aanloklik is. Sommige mense uit die noorde huiwer om dit tussen Mei- en Novembermaand in Wes-Kaapland te waag. Ons voorouers het nie sonder grondige redes getrek nie.

Dit was vir my ʼn voorreg om Joan Hambidge van aangesig tot aangesig te kon spreek, en om Marlise Joubert na 40 jaar weer ʼn slag te sien.

Woordeboek
vir Donald Riekert

kieme van sy skeppingswoorde
saai die Woord weer geil in jou
om bok en boom en horison
teen rooidag of teen skemeraand
met siende oë te herken
en weerligskerp op velle wit
weerspieëlend swart te ets
dat ons deur alledaagse tekens
die geel en blou en karmosyn
die lywe, rotse, koringare
die liefdesroerings binne-in
helder oopgevlek deur jou
opnuut opwindend mag ontdek

 

 

Ilse van Staden

In my tuisdorp hou ons elke paar maande 'n Poetry Crawl. Dit is 'n aand van kuier met kos en poësie, deur 'n klompie mense wat nie deur hulle letterkundige kennis of vernuf onderskei word nie, maar deur hulle liefde vir gedigte (ander mense s'n) - om dit te lees en te hoor en daaroor opgewonde te raak soos oor kinders wat presteer. Vir my is die Versindaba die grootboetie hiervan.

Aan die een kant is dit natuurlik wonderlik om op dié manier blootstelling te kry vir jou eie nuwe werk. Mens woon so 'n geleentheid egter nie net by as skrywer nie, maar ook as leser of aanhoorder. Die aanhoor van en interaksie met ander digters en hulle werk maak daarvan iets besonders, 'n partytjie, al dwing dit jou ook maar weer tot nederigheid.

Die taamlik informele aard van die Versindaba is 'n pluspunt, asook die verskeidenheid - voorlesings, voordrag, toonsettings, besprekings en dies meer. Die kombinasie van poësie en musiek het goed gewerk, maar was soms bietjie gefragmenteer en hakkelrig.

Om meer mense te lok? Wat van 'n "lokfilm" (lokval?) buite die lokaal: iemand professioneel wat 'n vers of twee voorlees, iets soos 'n straatpredikant? Of dalk iets visueel - na 'n ruk raak mens so woordvol dat jy begin lafenis soek in die stilte van jou ander sintuie. Maar moenie dat dit nog 'n Woordfees word nie - die Versindaba is uniek soos dit nou is.


Charl-Pierre Naude

Hoe het jy Versindaba 2008 ervaar?

Goed gereël, gemoedelik en professioneel gelyktydig. Mooi.

Het jy enige konstruktiewe kritiek of voorstelle ter verbetering van dié geleentheid?

Ek het een: die HB Thom-teater doen effens Stalinisties voor. Mens moet seker nie ʼn gegewe perd in die bek kyk nie, maar ʼn moderner venue sal beslis beter wees.

Hoe skakel die Versindaba se formaat met jou belewing van poësie?

Die formaat was goed, die backdrop-beeld van die digter wat lees, alles uitstekend. Dis hoe dit ook in die Republiek van Oorsee gedoen word.

Watter nut het dié soort geleentheid vir digters en skrywers, indien enige?

Lesers en outeurs ontmoet mekaar en skrywers, wat goed bedeeld is met harnasse, kruip 'n bietjie uit hul dop uit.

Wie het jy raakgeloop wat jou beïndruk het?

Almal het my ʼn bietjie beïndruk.

Wat het jy gedink van die kombinasie van musiek en poësie?

Goeie idee!

Wat kan gedoen word om meer mense na die Versindaba te lok?

Hieroor kan ek nie onmiddellik dink nie.

Hoe voel jy oor die jonger opkomende digters se insluiting by die Versindaba?

Dis ʼn blink plan.

Waarom sou jy mense aanmoedig/ontmoedig om dié geleentheid by te woon?

Kom kyk hoe lyk skrywers wat jy lees, wissel dalk ʼn woordjie met hulle; as jy self ʼn skrywer wil word eendag, is hier baie te leer.

 

Helena Conradie

Dankie aan Louis Esterhuizen en Marlise Joubert vir hulle groot poging om die Versindaba te reël. Dis 'n onbaatsugtige werk!

Dit was 'n voorreg om vir George Weideman, ons digter, skrywer, dramaturg, maar my vriend en kollega by Technikon Skiereiland destyds, die huldigingsprogrammetjie te kon doen uit die CD Doepa! Ek en George het saam besluit watter gedigte ons op die CD sal gebruik. Ek het verlede jaar in September, terwyl hy reeds baie siek was, sy stem opgeneem.

Dis wonderlik as musiek die digter se woorde verder kan neem. Die emosionele belewenis word net soveel dieper as dit die regte musiek is. Francois le Roux was die regte persoon om kreatief onder George se gedigte te toor sonder om die klem op die woorde te laat vervaag soos so dikwels by toonsettings gebeur. As musiek saam met gedigte gebruik word, word dit dan net soveel meer toeganklik vir meer mense.

'n Bietjie positiewe kritiek: as daar 'n paneelbespreking is, is dit belangrik dat mens die deelnemers goed moet hoor. Die klanktegnikus moet ingryp as daar probleme is.

Die mense wat by die Versindaba optree, moet meer professioneel bekendgestel word, byvoorbeeld CV, onlangse werk, digbundels ens.

Om meer mense na die Versindaba te lok dink ek die lokaal moet verander. Die Thom-teater is nie die vriendelikste plek vir so 'n warm geleentheid waar digters hul werk met vriende deel nie. Die digter of deelnemer het geen kontak met die gehoor nie. Oorweeg die Endlersaal?

Dalk kan daar gedigte van gevestigde digters op mure in die dorp uitgebeeld word soos in Leiden in Nederland, of van jonger digters, straks tydelike plakkate op bome ens? Dit behoort gewone mense bewus te maak van die Versindaba.

Meer vermaak soos die bekgevegte kan dalk ook meer mense lok.

Hierdie geleentheid is van onskatbare waarde vir skrywers en digters.


Rosa Smit


Die liewe Stellenbosch is só die ideale plek vir die kunste - met al sy pragtige argitektuur en ouwêreldsheid, nie waar nie?

Die keuse van die gastehuis was ook stylvol en naby genoeg aan die verrigtinge, maar die teater het nie eintlik ʼn atmosfeer van intimiteit gegee nie, wat ek nogal jammer gevind het. Die verhoog so ver en hoog, en alla wêreld, die ligte verblindend op die optreders se gesigte. ʼn Kleiner, geselliger teater sou soveel lekkerder gewees het, soos die Kleinteater wat ons byvoorbeeld in Pretoria het. Het Stellenbosch so ʼn plek?

Dit was so lekker om die werk van digters soos Petra Müller te hoor, asook haar warm, vriendelike uitreiking na ander digters. Jammer dat Joan Hambidge altyd met soveel afbrekende kritiek almal wat nie uit haar skryfskool kom nie, met soveel venynige ywer moet kry onder haar skerp tong! Veral vir ʼn ou soos ek wat so lanklaas gepubliseer het.

In Pretoria het ons ook baie goeie skryfskole en dit sou goed gewees het as hulle ook genooi kon word as deel van die "nuwe stemme" - uit Ian Raper se opleidingskool is daar twee in die pyplyn by Protea: Lucie Moller se werk is goedgekeur vir publikasie by Protea en nog ʼn digter wag vir die uitslag.

Dit is so goed om die nuwe digters se werk te hoor sodat hulle dalk mentors kan nadersleep en ook vir ons ouer ouens om die trant van hulle werk te hoor.

Die hoogtepunt vir my was die opinies van die kritici en hulle benaderinge tot ons werk - dit sou egter lekker gewees het as ons saam kon gesels het met vrae en voorstelle kon maak, nie waar nie?

Is ʼn werkswinkel nie dalk ook ʼn antwoord om die eentonigheid van net luister te verbreek nie?

Die musiek met die poësie was great!

Nog ʼn behoefte wat nogal uit al die mense met wie ek gesels en gekuier het, se monde gekom het, was dat die etenstye langer moes wees - vir êrens heengaan, want ek dink die sosialisering tussen skrywers is nogal belangrik.

Nog een klein voorstel: naamkaartjies om die ander een so bietjie meer toeganklik te maak.


Marius Crous

 

 

Hoe het jy Versindaba 2008 ervaar?

Vrydagaand was daar niks wat ek wou hoor of sien nie - buiten Johann de Lange, en toe het hy nie opgetree nie. Saterdag had sy elemente van ridiculous to sublime.

Was daar hoogtepunte op jou program?

Die stem van Elisabeth Eybers, Afrikaans se grootse vrouedigter, in die donker saal. Om van die jonger sterk stemme te kon hoor voorlees, wetende dat die piranhas buite wag. Ook die sinvolle gesprek tussen Lucas Malan en Hennie Aucamp. Dit kan gerus meer gedoen word. Die gesprek oor boekresensies was informatief.

Het jy enige konstruktiewe kritiek of voorstelle ter verbetering van dié geleentheid?

Hou die indaba in klastyd, want dan sal daar hopelik meer studente die geleentheid bywoon. Die UK, US, Unisa en UP het almal kreatieweskryfkunde-klasse. Wat van nooi die studente van die onderskeie klasse om hulle werk te kom voorlees? Sodoende kry ons 'n idee van die talent wat begelei word.

Is dit nodig vir sulke swaartillende dinge soos die getoonsette "Klipwerk"? Dit laat my darem alte veel dink aan eisteddfods en prysuitdelingsaande - al wat nog kortkom, is die Skrifrede en die meditasie aan die begin.

Miskien ʼn vraag-en-antwoord-sessie: die digter sit op die verhoog en die gehoor stel aan hom/haar vrae oor sy/haar gedigte. Of Antjie Krog in gesprek met Ingrid de Kok in gesprek met Karen Press. Ja, wat van Engelse digters? Die paar wat publiseer, kan gerus ingesluit word in die program. Rustum Kozain, Finuala Dowling, Ingrid de Kok, Stephen Watson ...

Watter nut het dié soort geleentheid vir digters en skrywers, indien enige?

Hopelik besiel die samesyn van boeke en skrywers die lesers so dat hulle hul kredietkaarte uithaal en koop. Is digbundels nie besonder duur deesdae nie?

Wie het jy raakgeloop wat jou beïndruk het?

Beslis Joan Hambidge, die UK se "prolific writer and prize-winning poet" (soos wat sy in die Monday Paper genoem word). Ongelukkig het ek haar voorlesing gemis. Beslis ook die jonger Penseel-digters en Loftus Marais. Annie Klopper kan dalk nog ontaard in ʼn performance poetess van formaat. Nou weet ek ook hoe lyk Johan Myburgh in lewende lywe.

Wat het jy gedink van die kombinasie van musiek en poësie?

Kan ons nou maar oor ons skuldgevoel kom en vir Peter Snyders weglaat van die program? Sy vertoning is telkens ʼn verleentheid vir homself en vir die digkuns.

Wat kan gedoen word om meer mense na die Versindaba te lok?

Oop-mikrofoon-geleenthede. Enigiemand wat al ʼn geliefde in ʼn lughawesaal moes agterlaat het, het ʼn vers daaroor gemaak. Laat hulle dit kom voorlees.

Ek dink ook die idee van ʼn Poet Idols sal werk. Kry byvoorbeeld drie kritici (Charl-Pierre Naude, Danie Marais en Ronel Foster) om daar, on the spot, kommentaar te lewer op die gedig wat pas voorgedra is.

Ons moet erken, die gemiddelde ouderdom van die gehoor is 50 plus (lees ook kredietkaarte, dik beursie, fyn aanvoeling vir die gedigtekuns), so daaraan moet iets gedoen word.

Hoe voel jy oor die jonger opkomende digters se insluiting by die Versindaba?

Ek wag vir die klaarskryf en uitgee van Melt Myburgh se bundel. Sy insluiting in die program moet hom beslis aanspoor om klaar te skryf en uit te gee. Of Lorca gaan by hom kom spook.

Waarom sou jy mense aanmoedig/ontmoedig om dié geleentheid by te woon?

As jy maklik moeg raak vir oor en oor luister na verse, bly weg. As jy jou deel wil doen vir die poësie-ekonomie, woon dit by en koop iets. As jy self skryf, vermy enige resensente (Jesu Kristi, dis moeilik, want hulle is almal ook digters), want hulle gaan jou beslis afkraak of iemand anders afkraak of jou mening vra oor iemand se werk.


Carina Stander

Vanjaar was ek net die Vrydagaand by die Versindaba. (Saterdag moes ek kuns by die Breytenbach Sentrum gaan hang.) Vrydag-verrassings? Die slot van Roof Bezuidenhout se haunting gedig oor jag ("ruik jy dit ... die vrees?") en sy eko-song oor bobbejane. Johann de Lange se nuwe verse was fantasties, met baie binnebegrip voorgelees deur Joan Hambidge. En elke vers van Ronelda Kamfer was 'n wond en wonder.

Ek raai dié soort geleentheid vir digters is kragtig omdat dit die deure wyd oopgooi en buitestanders na binne lok. So word die digkuns mos nes brood: alledaags, verteerbaar, sonder muwwerige terme soos oeuvre of enjambement. Gedigte kry gewoon gesig en stem, 'n kans om in die oopte/openbaar asem te haal. En digters (wat dikwels in isolasie skep) kry 'n tikkie eerlike terugvoer van die gehoor.

Aan die aanhitsers, Louis Esterhuizen en Marlise Joubert: bravo en merci!

Lima
Peru

probeer om te vergeet

waarsku die stad om lig te loop
want ek wil die kind op die sypaadjie nie sien nie
gesig versluier agter vuillug garúa

probeer om te vergeet
die koue kind ruik Mercado del Indios
se alpakkatruie en musse van wol

laat die stad in vlamme opgaan
want ek wil haar nie so sien nie

die kind staan met hartseer speelballe
in 'n stad van waansin
waar sy stiptelik om spitstyd
al op die stippellyn wawiel
die munte traanblink in haar hand

steeds is haar voete duiwe
duiwe al op die stippellyne
kwetterend bo-oor die praatsang van priesters
swiepend oor verlamde moeders wat llamalammers brei
singend teen niksseggende vaders met arendsneuse
en koppe van klei

en haar voete praat luider as die stemme van priesters
en haar voete vleg vinniger as die hande van moeders
en haar voete dink verder as die koppe van vaders

fladderend in wawiele
is haar voete tweelingduiwe in vlug
asof die shajshas se bokhoewe ratel
en iemand 'n vyfsnaar charango
tokkel teen haar vel

moet die geluid van remme nie onthou nie
en die kras gefluit van die wind deur die straat

probeer vergeet
probeer vergeet
dat Lima 'n dogtertjie was

(Uit: woud van nege en negentig vlerke, Tafelberg, 2009)


Jasper van Zyl

Om te dig is om met moord te probeer wegkom. Om die daad te pleeg is heel maklik: jy ruk die lewe uit die liggaam en dan lag jy of skrik jy of kalmeer jy of panic jy. Soos enige moordenaar wat sy sout werd is, kort jy ʼn skaflike alibi.

G'n digter kan sy werk in isolasie doen nie. Ja, dis ʼn alleen-aktiwiteit, koud en weerloos, maar om te kan aangaan daarmee, het jy altyd daardie klop op die skouer nodig. Of ʼn sis in jou ore. Versindaba was vanjaar weer, soos in die verlede, die kelderkamer van die alibi's, die ronde tafel ver van die moordtoneel.

ʼn Mens hoor net waar jy gaan van die enorme loopgraaf waarin Afrikaans hom bevind. Of ʼn mens nou saamstem met die graad van hierdie moeilikheid, niemand kan werklik aanvoer dat Afrikaans gesond is nie. Vir ʼn taal om werklik gesond te wees moet mense hom praat, ja, maar vaktale moet uitgebrei word, media moet in hierdie taal van krag tot krag gaan en, belangrikste van als, nuwe literêre werke moet verskyn.

En poësie is werklik die stiefkind van Afrikaans.

Die jongmensbywoning was teleurstellend. Afgesien van ʼn vriendin van my en ʼn effens onwillige vriend van háár, was dit bra karig.

Soveel soos ons digters graag wil kla oor die jammerlike wyse waarop poësie op skole aangepak word, so min gaan dit verander. Ons skole glo nie dis hul werk om ons kinders lief te maak vir gedigte nie. Dis mos ons skole se werk om jongmense vir die toekoms voor te berei.

En ʼn mens wil tog nie moordenaars oplei nie.

Ek sal graag in die toekoms wil sien dat skole ook genader word om die Versindaba by te woon. Dis al manier. Poësie, my enigste ware vriendin, kan nie meer in die hande van die oues gelaat word nie.

Dit is moord.

Nogtans was Versindaba vir my en William (Pienaar, my medepligtige) ʼn voorreg. Dankie en geluk aan Louis en Marlise vir ʼn wonderlike naweek. Mag Versindaba nooit doodloop nie.

Dis massamoord.

die nuwe winter

"autumn blew the quilt right off the perfect bed she made"
- iron and wine

ʼn ware gemeenskap het ʼn stroom
met verslawende water wat spoel
oor naakte voetjies; soms oorys.

op wasdag hang al jou klere
aan die draad. jy lag by jouself
en wonder oor die weerlig
wat hom nie laat stilmaak nie, nee,

nie hier waar ons woon nie, skat,
nooit in hierdie skuur.

elke wolfie wat oor hierdie grond
ook lammetjies in haar kinders sien
weet van die lig wat later terugkom,
die sluwe jakkals in elke winterse wolk.

selfs die dorpsmense praat
oor die lemme
wat deesdae in die hoofstraat kiem,
die huise met die donker vensters,

die kaler feniksbome wat drup.

so, ja, die insulasie sing:
die plaas wat nooit joune was nie,
maar ʼn droom in jou agterkop,
skuif een tree verder weg
soos die man wat jou gaan verlaat.

my lam,
dis onse erfgrond dié,
stil nou.


Peter Snyders

Versindaba 2008 is weer eens baie professioneel deur Louis en Marlise gereël en alles het vlot afgeloop.

Die hoogtepunt op my program het gekom toe my verwerking wegslaan en ek net tromme en perkussies kon hoor. Dit was eienaardig. Ek druk toe maar deur met die oorblywende drie (uit vyf) gedigte. Almal kon hoor hoe ʼn vrot sanger ek is. Maar dis mos die professionele ding om te doen: The show must go on.

Ek sou graag wou sien dat repetisies deel van die program word, slegs vir deelnemers wat ook musiek gebruik.

Musiek en poësie het baie gemeen: albei gebruik klanke, ritme, vorm, en fyn nuanses. As die twee genres synergise, kry ʼn mens iets awesome. Musiek-gedigte bring goeie afleiding na ʼn sessie van slegs die woord mee. Dit bied ook aan digters wat met musiek omgaan die geleentheid om uniekheid ten toon te stel.

Ek sou graag meer van die jeug in die gehoor wou sien. Miskien sou dit help as die gesprekke ʼn bietjie ingekort word. Hier en daar kan die program ook ʼn bietjie ligter gemaak word.

Expensive ekstratjie
[Miami Pop]
(Woorde, musiek, akkoorde en verwerking deur Peter Snyders)

Ek stap eendag in ʼn geskietery
van ʼn TV-film op Cape Town station
ʼn man wave sy vingers
en vra vir ʼn klompie ekstras.
"Jy en jy en jy ..." en ek daarby
en daar staan ek soes Mister Bond
roem en rykdom, sterredom, wag, ek kom.

Ons word geskiet soe elke uur
want ons moet wag vir ʼn Cape Flats trein.
Dié ekstra gaan mos ekstra-ekstra-ekstra laat kom
by die werk, ja, miskien, miskien;
"I'll have mine shaken, not stirred."
Dis die staail en sjaain van ster-re-dom.

Nou as ek op TV gaan wies
dan moet ammil mos sien my technicolour taai
soe dadelik koep ek my ʼn moerse groot colour TV
en nooi al die ere menere vannie dorp.
Die plek gons nes ʼn ware première
daar's snacks en drienks en dinge soes daai.

Die hys is vol van my admirers
wat gekommet ommie superstar te sien.
Hier kommie trein, hou dop nou mooi
Hou dop nou mooi,
DAAR'S EK! Twaalfde van links!
Maar voor hulle kon sien is alles verby.