Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Taal | Language > Taaldebat | Language Debate > Essays & Referate | Essays & Papers

Die NTLA en NFA: van praat na doen!


Wannie Carstens - 2006-11-07

Hierdie toespraak is deur prof Wannie Carstens  gelewer by die Konferensie oor Afrikaans, 21 Oktober 2006.
 
 
1.                 Inleiding
 
In hierdie kort praatjie wil ek graag twee aspekte uitlig: (a) wie en wat die NTLA is en (b) wie en wat die NFA is. Hieruit behoort te blyk watter rol hierdie twee liggame speel in die ontwikkeling, uitbou en bevordering van Afrikaans. Dit is so dat liggame net so goed is soos die mense wat daarin dien en dat dinge ook nie vanself gebeur nie – dis ménse wat dit moet laat gebeur. Ek vertel u graag hoe mense hierdie twee liggame laat werk het.
 
 
2.         Die Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans (NTLA)
 
Die NTLA is tot stand gebring kragtens artikel 6 in die Grondwet. Dit word in subartikel 6 (5) soos volg aangedui: 
 
    (5) A Pan South African Language Board established by national legislation, must -
(a)     promote, and create conditions for, the development and use of -
          (i)       all official languages;
          (ii)      the Khoi, Nama ­en San languages; and
                   (iii)      sign language; and
(b)     promote and ensure respect for -
         (i)      all languages commonly used by communities in South Africa, including German, Greek, Gujarati, Hindi, Portuguese, Tamil, Telugu and Urdu; and
         (ii)      Arabic, Hebrew, Sanskrit and other languages used for religious purposes in South Africa.
 
PanSAT het die taak om hierdie struktuur tot stand te bring aangepak deur ’n aantal liggame te konseptualiseer wat moes help met die implementeer van die plan(ne) (vgl onder meer Perry 2003). Hierdie liggame, te wete provinsiale taalkomitees, nasionale taalliggame en nasionale leksikografiese eenhede, het elkeen ’n eie opdrag en taak gekry om ten uitvoer te bring.
 
§         Provinsiale taalkomitees (PTK's) (nege – een per provinsie) is saamgestel is op grond van die taalsamestellings van elke besondere provinsie. Die taak van elke PTK is om meertaligheid in sy betrokke provinsie te bevorder en ’n bewusmakings­proses oor tale in sy provinsie te begin. Dit hou in dat taal vir die betrokke provinsie bereël moet word, en dit behoort onder meer te geskied in terme van ’n eiesoortige provinsiale taalwet.
 
§         Nasionale taalliggame (NTL's) (altesaam 13 – een vir elke amptelike taal asook een vir gebaretaal en een vir die Khoe- en die Santale). Die taak van hierdie liggame is om vir elke taal die nodige maatreëls te tref om daardie besondere taal optimaal te bevorder, onder meer deur die status van die betrokke taal in stand te hou of uit te bou (in die geval van die inheemse tale) en die struktuur van die betrokke taal te handhaaf. “Their members are selected based on their specialist knowledge of each language in question, and their functions are the standardiza­tion of spelling and orthography, terminology, literature and lexicography, as well as to conduct research and initiate projects such as educational projects” (PanSAT-webblad).
 
§         Nasionale leksikografiese eenhede (NLE) (altesaam 13 – een vir elke amptelike taal asook een vir gebaretaal en een vir die Khoe- en die Santale): Hierdie liggame het ten doel om die woordeskat van elke taal op te teken en desnoods ook te bevorder. Die primêre doel van hierdie liggame is die saamstel en maak van woordeboeke.
 
Die NTLA is die aangewysde liggaam vir Afrikaans. Dus: ’n liggaam (wat verteenwoordigend moet wees) binne ’n groter struktuur (PanSAT).
 
’n Vraag oor hoe effektief die NTLA is, het in Maart 2003 aanlei­ding gegee tot indringende selfondersoek oor die aard, taak en funksies van die NTLA. Daar is in hierdie proses bevind dat die liggaam in wese oneffektief is, dat dit geen duidelike produkte gelewer het nie – kortom: dat die NTLA in die oë van die Afrikaanse taalgemeenskap onbekend, oneffektief en in wese net ’n vergadering­struktuur was. Daar is mooi strategiese planne gemaak, begrotings opgestel en lekker gekuier tydens vergaderings. Die probleem was net: daar was nie voldoende fondse beskikbaar – vanaf PanSAT as oorkoepelende liggaam – om die mooi planne uit te voer nie! Die lede het besef dit kan nie so aangaan nie en vandaar die hou van ’n dinkskrum in hierdie verband. Dit het gelei tot ’n inisiatief wat vandag bekend staan as ’n nasionale strategie vir Afrikaans. Die NTLA moes sy eie rol herdefinieer om hierdie inisiatief ten uitvoer te bring. Die NTLA moes oorgaan van ’n liggaam wat teoreties beskou word as staatsgesanksioneerde verteenwoordigende liggaam van Afrikaans na ’n liggaam wat die breë Afrikaanse taalgemeenskap se samestelling weerspieël en wat sigbaar werk om Afrikaans te bevorder en uit te bou.
 
Die geleentheid om hierdie strategie verder te voer het gekom toe die FAK op 13 September 2003 in Pretoria ’n opegespreks­geleentheid met as tema “’n Groter voetspoor vir Afrikaans” georganiseer het. Dit sou uiteindelik heel profeties wees! Hieruit het daar ’n heeltemal nuwe visie vir Afrikaans ontwikkel. Sonder om in detail daarop in te gaan, net kortliks die volgende: die aanwesiges by hierdie byeenkoms het ’n Voortsettingskomitee (VK) aangewys om die idees van die byeenkoms verder te neem. Die volgende het hieruit na vore gekom.
 
·         Die NTLA was van die begin af betrokke by die proses, met lede van die NTLA wat die voortou geneem het. (Ek self was die sameroeper van die VK.) Daar is besluit dat die NTLA as PanSAT-struktuur (wat nog geen politieke bagasie dra nie) ingespan sal word om die nasionale strategie te probeer verwesenlik. PanSAT was uiteindelik dan ook een van die hoofborge van die beraad van Augustus 2004.
 
·         Daar is ooreengekom op ’n proses om ’n bestekopname van Afrikaanse aktiwiteite, energieë en inisiatiewe te maak. Dit staan informeel bekend as die taaloudit. Die gedagte was van die begin af: probeer ’n proses tot stand bring waaraan alle Afrikaanse organisasies en strukture kan meewerk ten einde ’n gemeenskaplike doel te bereik, te wete die behoud en bevordering van Afrikaans en die strewe om deur middel van groter onderlinge koördinasie saam daarby uit te kom. Dus: maak eers seker van wat aangaan en gebeur in Afrikaans, wie doen wat, voordat ’n grandiose plan geformuleer word om Afrikaans uit te bou. Die vertrekpunt was: as daar inligting oor Afrikaans is, dan kan oorvleuelings en dupliserings beperk word. Dr Karel Prinsloo was hier die projekleier.
 
·         Die Eerste Afrikaanse Taalberaad is op basis van die uitkomste van die oudit in Augustus 2004 op Stellenbosch aangebied. Daar is gesê dat met die beraad “’n proses begin (is) waar mense en organisasies wat mekaar tradisioneel waarskynlik nie sou ondersteun nie, begin saamwerk het” (Carstens, aangehaal in Olivier 2004a). Dr Gerrit Brand (lid van die Voortsettingskomitee) sê in ’n onderhoud (vgl Steinmair 2004) dat dit met die beraad in wese gegaan het “... oor groter koördinasie en monstering van kragte, maar met behoud van elkeen se eie doelwitte en outonomie. Ons moet probeer om die groter prentjie te sien en ons elkeen se plek daarbinne te verstaan ... Ons moet in die lig van die taaloudit ... probeer om die hele netwerk van kragte rondom Afrikaans te verstaan en dan strategies daarbinne te handel en, waar moontlik, saam te werk.” Daar is na hierdie beraad verwys as die mees verteenwoordigende byeenkoms van lede uit die Afrikaanse taalgemeenskap in ’n lang tyd: Jansen (2004) het byvoorbeeld gesê dis die “mees diverse groep Afrikaanssprekendes – ten opsigte van ras en godsdiens – bymekaargetrek wat ek nóg bymekaar gesien het.”
 
·         Dat die beraad nie sonder probleme was nie, was ook ’n voldonge feit. Daar was byvoorbeeld spanning oor kleur­grens heen op die laaste dag en daar is gesê die taalstryders is dalk net betyds uiteen! Dr Neville Alexander, die voorsitter tydens die afsluitingsessie, het die beraad beskou “as ’n besinning oor Afrikaans as taal in ’n veelrassige post-Suid-Afrika” (Rapport, 29/08/2004, bl 18). Dr Alexander het ook gemaan teen ’n te haastige spoed om die proses verder te voer: “... ek waarsku teen oorhaastigheid. Ons moet stadig oor die klippertjies en nie te haastig wees om mekaar om die hals te val nie.” Dawie (Die Burger, 28/08/2004, bl 22) sê die uitdaging vir die beraad­gangers en die organiseerders is om die geesdrif tydens die beraad nou te kanaliseer na die praktyk: “Alles in ag genome, was die beraad ’n positiewe ervaring. Nou moet die geesdrif en kundigheid wat hier uitgekom het, net in praktiese bane gekanaliseer word. As dit kan gebeur, lyk Afrikaans se toekoms blink.”
 
·         Die Voortsettingskomitee is die opdrag gegee om die inisiatief van die beraad vorentoe te neem en desnoods oor twee jaar terug te rapporteer oor wat intussen gedoen is om die nasionale strategie waar te maak.
 
·         Die gevolg hiervan was ’n miniberaad wat in Februarie 2005 in Johannesburg plaasgevind het en waar die NFA in wese sy beslag gekry het.
 
 
3.                 Die Nasionale Forum vir Afrikaans (NFA)
 
Die Voortsettingskomitee het geoordeel dat die miniberaad van Februarie 2005 in staat gestel moet word om die proses vorentoe te neem aan die hand van ’n konseptaalplan (saamgestel deur proff Victor Webb, Neville Alexander, Theo du Plessis en dr Karel Prinsloo). Hierdie plan – opgestel aan die hand van aanvaarde taalbeplanningsbeginsels – het die raamwerk geskep waarbinne die nasionale strategie vir Afrikaans konstruktief geïmplementeer kon word. (Die plan as sodanig is gepubliseer in die boek Op pad na ’n taalstrategie vir Afrikaans (2006; red: KP Prinsloo).) Daar is ook ’n struktuur bedink wat die taak sou hê om die taalplan verder te neem. Hierdie struktuur was die te stigte Nasionale Forum vir Afrikaans (NFA). Die Februarie 2005-beraad het weer eens die Voortsettingskomitee versoek om die inisiatief te neem met die vestiging van die NFA.
 
Die bestuur van die VK het oorgegaan in die interimbestuur van die NFA en in Februarie 2006 is besluit dat die interimbestuur die eerste bestuur van die NFA sou word tot tyd en wyl daar weer ’n beraad kon plaasvind waar die bestuur finaal verkies kon word.
 
Daar is ook besluit dat die NFA twee hooftake sou hê:
 
·         Die verfyning en uitbou van die taaloudit (waarvan die eerste weergawe gepubliseer is in die boek Op pad na ’n taalstrategie vir Afrikaans (2006; red: KP Prinsloo).
 
·         Die reël van forumgeleenthede waar Afrikaanssprekendes en Afrikaanse organisasies byeen kan kom om te besin en te beplan oor hoe Afrikaans se belange uitgedra kan word.
 
Ek kan nou rapporteer dat die Tweede Afrikaanse Taalberaad op 23-24 Februarie 2007 in Centurion, Gauteng sal plaasvind – dus die eerste forumgeleentheid van die NFA. Dit sal ’n geleentheid wees rondom die tema “Waar staan ons met Afrikaans in multikulturele Suid-Afrika?” Meer inligting hieroor sal binne­kort beskikbaar raak. Intussen gaan die bywerkings- en verfyningsproses aan die oudit ook voort en daar sal spoedig ook wyer hieroor gekommunikeer word. Dus: duidelike produkte en uitsette!
 
 
4.                 Samevatting
 
Ek het hier vir u ’n breë prentjie geskets van ’n doen-inisiatief vir Afrikaans en in hierdie proses speel sowel die NTLA (as staats­gesanksioneerde onderliggaam van PanSAT) as die NFA (as gesamentlike inisiatief tussen ’n staatsondersteunde struktuur en die burgerlike samelewing) ’n kardinale rol. Die les is miskien dat ons moet ophou praat en meer doen! Dis wat ons met die NFA gedoen het.
 
Dis ook die uitdaging vir hierdie konferensie. Ons moet hande vat en mekaar dra waar dit nodig is – ons as Afrikaanse taalgemeenskap is op onsself aangewese om seker te maak dat ons Afrikaans aanhou praat. Ons moenie wag op daardie mitiese "iemand" om die "saak" te bevorder nie – daardie "iemand is ons self.
 
Vandag se konferensie is daarom so belangrik – ons praat nou oor Afrikaans se variëteite. Kom ons maak nou seker dat ons kosbare verskeidenheid gekoester word. Amanda Strydom sing in een van haar liedjies: “Ek loop die pad (my lam).” Dis wat ek ook doen en ek hoop om elkeen van u ook op hierdie pad raak te loop.
 
==================================
 
Bronne sal op aanvraag verskaf word.