Hierdie is die LitNet-argief (2006–2012)
Besoek die aktiewe LitNet-platform by www.litnet.co.za

This is the LitNet archive (2006–2012)
Visit the active LitNet platform at www.litnet.co.za


 
Menings | Opinion > Vintage@LitNet

Audrey Blignault: Oorlede 1 Oktober 2008


Deon Knobel - 2008-10-07

Wilhelm, jammer my ou broer dat ek jou so afgeskeep het, maar ek het bietjie lawaai gemaak op die internet namens jou en almal wat leef en presteer ten spyte van, en dalk ook te danke aan, bipolariteit. So ‘n paar klappe uitgedeel en ontvang ook, maar ek glo dat daar goeie inligting en opheldering oor die toestand ontstaan het.

Gedurende 2005 het ek van talle van jou vriende deur die jare, asook van ‘n aantal Sestigers wat nog lewe, bydraes ontvang ter herdenking van jou 70ste geboortedag. Ongelukkig kon Audrey Blignault toe reeds weens gesondheidsprobleme nie ‘n bydrae tot jou verjaardagviering gelewer het nie. Ek het egter gekyk na ‘n brief van haar en haar eertydse man, die psigiater Andries Blignault. Die brief is op 24 Augustus 1966 geskryf, na ontvangs van ‘n kopie van jou debuutbundel, Bloedsteen, wat jy aan hulle gestuur het:

 

24 Augustus 1966

Liewe Wilhelm

Ek en Andries wil jou baie hartlik bedank vir die heel besondere gebaar van vriendskap om vir ons ‘n bundel van jou gedigte te stuur met ‘n inskripsie daarin. Ons stel dit baie hoog op prys. Ons waardeer dit op ‘n heel spesiale manier, nie net omdat jy ons goeie vriend is nie, maar ook omdat jy ‘n goeie vriend van Ken was. Jy weet dat ons ook diepe waardering het vir jou gedigte en dat ons baie bly is oor hierdie bundel van jou.

Ons wil jou van harte gelukwens met die verskyning van Bloedsteen. Dit is ‘n groot prestasie om ‘n bundel poësie te publiseer. Ek beskou poësie as die hoogste uiting van die menslike gees en ek sou tog só graag ‘n digter wou gewees het.

Wilhelm, ek dink die boek lyk baie mooi, en soos dr Con sou sê: gedistingeerd.
Ek hou van die olyfgroen met die besondere dieprooi kleur daarop.

Dit is vir my baie interessant om nou weer te let op my reaksies teenoor die gedigte by die herlees. In die eerste plek word ek keer op keer weer getref deur ‘n sterk verrassing, veral in die slotvers van sekere gedigte, soos "Stellenbosch", "Voorskrif vir die alleenloper", "Profeet" en "Losies" - dit gee my nou weer groot plesier: "Skrywe in ligte luim", "Glo jy aan swem op Sondag" en "Klein geskiedenis".

Die gedigte oor Ken het natuurlik vir my waarde wat ek nie onder woorde kan bring nie. Ek kan jou ook nie eintlik sê hoe ek dit waardeer dat jy dié gedigte geskryf het nie. Dié huldeblyk aan Ken gaan my ter harte, elke keer dat ek die gedigte lees. Ag, Wilhelm, dat jy tóg dit gedoen het vir ou Ken!

Die slotreëls van "Ontmoeting" wen vir my steeds aan profetiese diepte:

Sal jy die rus nooit vind nie
En ons met rus laat?

Ons wat Bly lewe
Om elke dag

In jong gras van die somer
En blou van die lug
die dood te vermoed.


Audrey sluit haar brief af met:


En gister kom die hartseer nuus toe dat Audrey oorlede is, na ‘n lang periode van swak gesondheid. Onlangs het Petrovna Mettlerkamp, saam met wie jy onder professor Haffter by Unisa gewerk het, Audrey se briewe in boekvorm uitgegee. Van hierdie mooi brief aan jou weet hulle egter skynbaar nie.

Audrey maak so spesiaal melding van die drie elegiese gedigte wat jy geskryf het ná haar broer, Ken, se dood. Ek gaan dit nou weer al drie hier uitdruk.


Huldeblyke oor Audrey en haar bydrae tot Afrikaans, deur haar talle boeke - ek dink dis sowat twintig publikasies - stroom nou van alle oorde in.

En Petrovna het ‘n frase van Hennie Aucamp gisteraand oor televisie aangehaal wat haar lewe en werk pragtig opsom. Hennie sou glo gesê het: "Langenhoven het ons geleer om te lees; Audrey het ons geleer om aan te hou lees!"

Wilhelm, jy onthou seker dat Mamma en Audrey mekaar goed geken het. Mamma het as voorsitster van die Nasionale Parlementêre Vroueklub, hier tussen 1952 en 1967, met Pappa se ongeluk en dood, ook meer as een maal vir Audrey gekry om die vroue te kom toespreek. En self het Mamma tog so graag uit Abdoltjie voorgelees; van die kind wat laat in die bed bly lê en hoe sy pa hom kom wakker maak en aanjaag om aan te trek. En tog ook so streng gesorg het dat Abdoltjie nie moet vergeet om sy Kofia'tjie op sy kop te sit voor hy uitgaan nie.

Jy onthou seker ook dat Marié, Audrey en Andries se dogter, die wonderlike boek oor ouer word in jare, Die uurwerk kantel, geskryf het. Marié is getroud met dr Heese en woon nou in Stilbaai waar ek hulle weer ontmoet het toe ek in laat 2005 / vroeg 2006 jou voordragprogram gaan aanbied het. Marié het spesiaal jou Bloedsteen saamgebring om die laaste gedig uit die trilogie voor te lees.

Dan was daar die pragtige storie wat jou vriend Johan van Rooyen tog so met smaak kon vertel. Andries was psigiater en het ook by Valkenberg diens gedoen waar hy ‘n jong bruin vrou ondervra het voordat hy haar sou ondersoek om ‘n psigiatriese diagnose te maak. Dit het min of meer so verloop:

"Sê vir my, behalwe dat jou kop deurmekaar voel as jy upset raak, kry jy ook hoofpyne - ek bedoel nou kopseer - pyne in jou kop?"

"No, Doctor."

"Het jy al ooit stuiptrekkings gekry, jy weet, fits?"

"No, Doctor."

"Het jou ma of pa ooit fits gekry?"

Sy draai na haar suster en vra: "Ousus, het ma of pa oeit fits gekry? Jy wiet, fits, ek praat nou nie van tongetjie stoet as hulle babelaas is nie?"

Ousus: "Nei, ek wietie da'van nie - ek gloe nie soe nie!"

Ewe sedig draai die pasiënt na dr Andries en hou vol in Engels: "No, Doctor."

En gisteraand, Woensdag 1 Oktober, met die kort huldeblyk oor televisie, was daar ook ‘n kort onderhoud met Audrey se tweede man, Attie de Villiers, met wie sy dekades lank getroud was, self hoog bejaard en baie hartseer. Ek het gedink dit was onsensitief om hom so gebroke voor die kameras te laat praat.

Hier kom jou drie gedigte met my inleiding daartoe uit die voordragboek Wilhelm Knobel die ongewapende ma: van kindertyd tot sterwenstyd wat ek oor jou lewe en werk saamgestel en so pas uitgegee het. Ek het ook in die boek drie van jou pragtige klein skilderytjies ter illustrasies van die gedigte geplaas.

Ken Swart, die broer van Audrey Blignault, was 'n goeie vriend van Wilhelm en dié het hom duidelik gaan besoek toe hy reeds ernstig siek was weens ‘n gewas op die brein.

Triptiek

I In Memoriam vir Ken

Nou is die afskeid van die liggaam voltooi
wat maande al in diep grond rus
Jou hande oor jou bors gevou
het hul greep reeds lank verslap
    wie weet
En die rose
    twee rooi rose in ‘n vaas
wat jou dood moes vier
het losgeval in die son
stof geword in die warm blou lug

Môre wil ek na die see gaan
en mymer in die son as my lyf so brand
oor jou opgeruimde groet, jou stap
en lewe wat onsterflik in jou oë lag!

II Requiem vir Ken

    Aan Audrey opgedra, in liefde

Jou glasige blik
soms deur ‘n film van angs genadiglik versag
is die amper-enigste beeld gewees
in my gees in hierdie dae
Met tye net
soos ook in jou lewe
het jou ongebreidelde lag my op laat skrik
by ‘n dalk te persoonlike storie
wat ek nóú in gedagte
tóé in woorde
(oor ‘n glas Oude Meester
of ‘n paar
of ‘n snack in La Perla
of Twee Jongegezellen in Three Cellars)
gedeel het met jou ...
    ryper ervaring?
    verstaan wat alles plaas in sy verband?
    - die laaste séker

want juis deur jou humor
het jy soos niemand anders nie
die tog-maar-gewone, nie-so-eenmalige
van omgewoelde liefde terug laat val
in die patroon van lewe
Dié gesprek met jou
eenmaal na jou dood gedurf
        - esteties
        met distansie
        domastrant selfs -
het dan tóg gegroei in hierdie maande?
ver van jou wêreld
en jou rusplek teen die rug by Stellenbosch
Is dit dié krag wat geskeur het in my
deur harde werk van dag-na-dag
vrugbaar na diepste lae van die gees verwys
(maar nooit verban)
wat onkeerbaar moes groei en vrug word,
hiér, waar jou gees nog dwaal
en soetjies, soetjies die rus wil vind
- gevind het reeds
in enkele graftonele van Marjorie se Waenhuiskrans?

Sagweg
na soveel jaar weer heel en jonk
soos ek jou nooit geken het nie
vertoef jou gees in duifgrys
        vinkeierblou
        rooskleur van die kinderkamer
        ligter-as-houtskool groen van seewier
            van die grafte ...
    in die maanskyn?
    in eindloos-teer lug van Weskaap-reën
    soos die middag toe ons jou moes bêre?

Tot siens,
jou slaap mag ek nie steur nie
gevang in die wording van lewe
(jy ís)
"Blij u te kennen, mijn Heer"
(vir die eerste maal nou sonder selfsug?)
Bly u te geken het,
broer van Orpheus Rilke Supervielle
(of Keats en Shelley wat jy beter ken)
Tot siens
tot weersiens
DAG!

III Ontmoeting

Jy loop al met die pad langs
sonder voete
en soek
soek na koelte onder skerp lig
die dors laat jou afwesige tong
kleef aan jou lippe
jou klere is aan flarde
dieselfde waarin ek jou laas gesien het
dieselfde blik van angs is in jou oë
bloedstrepe lê in die stof
van jou voete wat sny oor die klippe
Sal jy die rus nooit vind nie
en ons met rus laat?
ons wat bly lewe
om elke dag
in jong gras van die somer
en blou van die lug
die dood te vermoed

Nou ja, Wilhelm, dan groet ek maar. Ek sal skryf ná die begrafnis om jou te vertel wat gebeur en gesê is.

Met ‘n liefdevolle en broederlike kus - Deon